Gestremdes se hengelfees terug in Centurion
Die jaarlikse hengelkompetisie van Ramcat Fish word vanjaar weens die Covisd-19 krisis effens later by die Irene Country Lodge in Centurion aangebied.
Soos die geval is met menige ander sportbyeenkomste en toernooie, was vanjaar se Ramcat Fish Hengelfees tot enkele weke gelede nog in die weegskaal weens die Covid-19 krisis. Gelukkig vir die getroue gestremde hengelaars wat die afgelepe agt jaar reeds deel was van hierdie gewilde hengelfees, kon die organiseerders van dié geleentheid daarin slaag om dit wel vanjaar aan te bied, hoewel dit effens later op die kalender sal plaasvind as vroeër jare. Gerard (Yster) Smal, die hooforganiseerder van die Ramcat Fish Hengelfees het verlede week aan Rekord bevestig dat vanjaar se hengelfees op Sondag 11 Oktober wéér by die dam op die terrein van die Irene Country Lodge in Centurion gaan plaasvind. Die fees sal om 07:00 met die amptelike opening begin, en die dag sal om 13:00 met middagete en ’n prysuitdeling afgesluit word. Met die hulp van borge en die harde werk van die organiseerders het dié fees die afgelope paar jaar gegroei tot ’n baie gewilde instelling, wat deur gestremde hengelaars vanoor die hele Gauteng, asook ander provinsies bygewoon word. Uiteraard sal vanjaar se Ramcat Fish Hengelfees aangebied word binne die reëls van die betrokke vlak van die grendelstaat, maar Smal het aan Rekord gesê dat dit steeds ’n baie spesiale ervaring vir alle gestremde hengelaars en hul helpers sal wees. Hy het ook belowe dat elke amptelike gestremde deelnemer oudergewoonte op die dag weer ’n prys sal ontvang. Deelnemers sal ook weer bederf word met ontbyt en middagete, terwyl ’n kontantkroeg beskikbaar sal wees op die terrein. Weens moontlike beperkings op inskrywings word alle belangstellendes gevra om so gou as moontlik met die organiseerders kontak te maak as hulle in die feestelike geleentheid wil deel. Slegs gestremdes sal vanjaar toegelaat word om te hengel, hoewel helpers steeds in die nodige gevalle met dele van die hengelproses kan help. Die organiseerders sal weer aas verskaf, maar deelnemers is welkom om hul eie geheime resep aas saam te bring. Om deel te neem, moet belangstellendes so gou moontlik met Smal kontak deur epos of telefoon. Skakel Gerard Smal by 081-754-8144 of stuur ’n epos na ystersmal@gmail.com Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114. Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe: Rekord Oos Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
