Menlopark bly baas by Pretoria se A-bond interhoër
Die Hoërskool Menlopark het Vrydag op die nuwe Pilditch stadion in Pretoria hul uitsonderlike rekord in die Pretoria A-bond atletiekbyeenkoms opgeskuif na ‘n twintigtal, toe dié skool se atlete ‘n twintigtse agtereenvolgende oorwinning in die algemene spankompetisie by die byeenkoms behaal het.
Die Parkies is steeds Pretoria se top atletiekskool en dít het hul atlete bewys met ’n oorwinning van 482 punte oor hul naaste teenstander by Vrydag se A-bond interhoër. Om alles te kroon het Menlo se atlete boonop die vorige naweek skoonskip gemaak by die nasionale Twizza SuperSkole byeenkoms, wat in Roodepoort aangebied is, waar hulle ook met skole van regoor Suid-Afrika afgereken het. Menlopark se dogters het ook vir ’n tweede keer agtereenvolgens daarin geslaag om hul aartsvyand van Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP) in die dogters-spankompetisie te klop by die interhoër, nadat die meisies van AHMP vroeër vir jare op dié troon gesit het.
In die kompetsie vir seuns-spanne, het Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) egter hul heerskappy behou, maar dit was weer ‘n taai stryd. Die punteverskil tussen Affies se seuns en Menlopark se seuns was Vrydag 133 punte, teenoor 2020 se 119 punte. In 2021 was daar geen skole-atletiek byeenkomste nie, weens die Covid krisis. Menlopark se meisies kon egter daarin slaag om hul voorsprong oor AHMP se span met 47 punte te vergroot van 59 in 2020 tot 106 Vrydag. Hoërskool Zwartkop van Centurion was die groot verrassing van Vrydag se A-bond interhoër. Dié skool gee die top name nou reeds ’n paar jaar lank behoorlik opdraende en Vrydag het hulle uiteindelik deurgebreek en in die tweede plek geëindig in die spankompetisie. Hierdie is ’n uitstaande prestasie, veral as in ag geneem word dat Zwartkop nie in alle opsigte as ’n Makro-skool beskou kan word nie. Die volledige uitslae ten opsigte van die gesamentlike spankompetisie lyk soos volg: Hoërskool Menlopark (2639), Hoërskool Zwartkop (2157), Hoërskool Waterkloof (2109), Prestige College Hammanskraal (1999), Hoërskool Garsfontein (1891), Hoërskool Montana (1678) en Hoërskool Oos-Moot (1566).
In die onderskeie aparte kompetisies vir seuns en dogters is daar interessante tendense, wat die skole se sterkpunte onderstreep. In die afdeling vir seuns was die uitslae soos volg: Affies (1362), Menlopark (1229), Prestige College (1115), Waterkloof (1085), Zwartkop (1015), Garsfontein (966), Montana (784) en Oos-Moot (759). Onder die meisies lyk sake heel anders. Menlopark (1410), AHMP (1304), Zwartkop (1142), Waterkloof (1024), Garsfontein (925), Montana (894), Prestige College (884) en Oos-Moot (807). Altesaam 23 byeenkomsrekords is Vrydag op die Pilditch baan opgestel. Daar is egter 27 atlete wat op vorige rekords verbeter het, maar in twee items het meer as een atleet die ou rekord verbeter, terwyl daar in die 1500m item vir dogters o.16 selfs drie atlete was wat almal met die ou rekord afgereken het.
Die kwaliteit van die dag se atletiek word onderskryf deur die feit dat daar in altesaam 18 items prestasies van wêreldgehalte gelewer is. Volgens die nuwe Atletiek Prestasie Evaluasie (APE) tabel, wat die vorige ABSA-tabel vervang het, word prestasies wat meer as 950 punte werd is, as wêreldklas beskou. Drie atlete het daarin geslaag om volpunte (1000 punte) volgens dié tabel te kry. Hulle is Jordan Meyer van Affies met sy nuwe rekord van 19,33m in die gewigstoot vir seuns o.15, Tiemke Coetzee van AHMP met haar skitterende nuwe rekord van 6,20m in die verspring vir meisies o.16 en Asande Mthembu met sy 7,78m in die verspring vir seuns o.19. Onthou maar hierdie drie name, want die kans is groot dat ons weer van hulle gaan hoor in die toekoms. Coetzee se verspring prestasie was byvoorbeeld ’n volle 41cm verder as die vorige rekord. Dis werklik uitsonderlik in hierdie top byeenkoms van Pretoria se bestes. Dit is interessant om daarop te let dat velditems koning gekraai het op die byeenkoms, met twaalf van die 18 prestasies wat meer as 950 punte op die APE tabel werd is, wat deur veldatlete behaal is. Dit lyk dus of Suid-Afrika in die toekoms ’n oorvloed top veldatlete kan produseer en verskeie van die beste presteerders by Vrydag se A-bond interhoër kan vanjaar nog internasionaal op jeugvlak deelneem.
Die byeenkoms is laatmiddag deur ‘n donderbui onderbreek, maar die organiseerders kon daarin slaag om die program te voltooi, ten spyte van probleme met die vloedligte by Pilditch. Rekord het ook verneem dat daar vooraf deur alle skole in die verskillende atletiekbonde van Pretoria ooreengekom is dat geen promosie/relegasie van skole vanjaar sal plaasvind nie. Die invloed van die Covid-krisis het waarskynlik die grootste invloed op dié besluit. Dit sal betekend dat dieselfde nege skole weer volgende jaar aan die A-bond interhoër byeenkoms sal deelneem. Daar kon weens Covid regulasies natuurlik ook nie vanjaar ‘n gees-beker uitgedeel word nie, aangesien geen skoliere as toeskouers toegelaat is nie. Slegs ‘n beperkte aantal ouers en ander belangstellendes is op die paviljoen toegelaat. Hopelik sal hierdie reëling teen volgende jaar iets van die verlede wees en sal skole-atletiek kan terugkeer na normaal.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



















