Local sportSchool sportSport

Jong Klofie as boogskut wêreldkampioen gekroon

’n Jong boogskutter van Hoërskool Waterkloof is onlangs in Estonia as junior wêreldkampioen gekroon.

Staan opsy, William Tell, by Hoërskool Waterkloof in Pretoria loop ’n 14-jarige seun rond wat met groot gemak daardie beroemde appel op jou seun se kop met een van sy pyle sal kan oopkloof.

Dít is geen bogstorie nie. As Hendré Verhoef, ’n graad agt seun van Waterkloof, se tellings as boogskutter bestudeer word, sou die legendariese Tell se seun met gerustheid daardie appel op sy kop kon balanseer indien hy voor dié skoolseun moes gaan staan soos destyds voor sy beroemde pa.

Verhoef se tellings laat kenners van die boogskiet sport (archery) se oë soms rek, want sy groeperings met daardie pyle is klein genoeg om nie die appel te kon mis nie.

Dié jongman het reeds as laerskoolseun gewys dat hy weet hoe om ’n pyl uit ’n boog te skiet. Hy was net agt jaar oud, toe wen Verhoef reeds sy eerste kompetisie. Daarna was daar geen keer aan dié akkurate skut nie.

Hendré Verhoef (14) van Hoërskool Waterkloof is onlangs in Estonia as junior wêreldkampioen gekroon.
Foto: Koos Venter

As junior het hy slegs vanjaar, weens siekte, nie die Gauteng-Noord kampioenskap kon wen nie. Hy spog met sewe nasionale titels, terwyl hy ook reeds tweekeer die boogskut titel by die Arnold Classics sportfees gewen het.

Dié lid van die Pretoria Magnum Archery klub hou tans 23 Suid-Afrikaanse rekords as boogskutter. Maar sy grootste prestasie was ongetwyfeld die onlangse junior wêreldtitel wat hy by die kampioenskap in Estonia ingepalm het. Hy is na dese amptelik die junior wêreldkampioen vir die ouderdomsgroep 13-17 jaar.

In 2018 haal hy die eerste keer die senior nasionale span, toe hy derde eindig by die SA kampioenskap. Daarna skiet hy gereeld saam met die groot manne en hy wen meeste van hulle maklik.

Intussen hou Verhoef ook twee Afrika rekords in binnenshuise boogskut oor 10m en 20. Dis nou hier waar hy William Tell dalk kan nadoen, want vir die 10m rekord het hy 60 kolskote afgetrek, terwyl hy in die 20m kompetisie 58 keer die kol direk kon tref.

Gelukkig woon die Verhoef-gesin op ’n kleinhoewe oos van die stad, wat sy taak effens makliker maak om te oefen.

Hy is ook ’n ywerige jagter, wat op 14 reeds ’n groot koedoebul platgetrek het. Hoewel hy ’n kampioen boogskutter is, gebruik Verhoef eerder ’n vuurwapen in die jagveld.

Dié skoolseun hoop om volgende jaar, wanneer die junior wêreldkampioenskap in Duitsland aangebied word, dáár te wees om sy titel te verdedig.

Dan droom hy ook daarvan om later ná sy skooldae sy huidige stokperdjie-sportsoort op beroepsvlak te kan beoefen.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button