Local sportSport

Pretoria vrou het die wêreld se mooiste bikini-lyf

’n Jong fiksheidspesialis van Pretoria-Noord is onlangs by die amptelike wêreldbeker byeenkoms van die Internasionale Federasie vir Liggaamsbou en Fiksheid in Spanje gekroon as die vrou met die mooiste bikini-lyf.

Jare se harde werk in die gimnasium en ysere dissipline in die sport wat sy beoefen het onlangs by die International Federation of Bodybuilding and Fitness (IFBB) se 2022 Fitness World Cup die regte resultaat gelewer, toe sy as Women’s Bikini (162cm) wêreldkampioen aangewys is.

Zelmarie Fourie van Pretoria-Noord het by die kampioenskap, wat in Spanje aangebied is, teenstanders vanoor die hele wêreld uitgestof vir dié gesogte titel. Altesaam 105 lande is by die kampioenskap verteenwoordig.

Die 29-jarige Fourie is lid van ’n bekende gesin in die fiksheid- en liggaamsbou gemeenskap. Haar pa, Armand, is die eienaar van die bekende Figure Fanatics gimnasium in die hartjie van Pretoria-Noord se sakesentrum, terwyl Zelmarie as persoonlike afrigter by dié gimnasium werk en soms ook die familiebesigheid se openbare betrekkinge hanteer.

Zelmarie Fourie met haar trofee as wenner van die Bikini-afdeling tydens vanjaar se IFBB fiksheid wêredbeker-byeenkoms.
Foto: Verskaf

Armand is as liggaamsbouer enkele jare gelede al self as Suid-Afrikaanse kampioen gekroon, terwyl hy ook tussen die top vyf by die wêreldkampioenskap geëindig het.

“Ek het letterlik in die gimnasium grootgeword,” vertel Zelmarie, ’n oud leerling van Hoërskool Pretoria-Noord, wat op skool reeds in verskeie ander sportsoorte uitgeblink het.

Sy het hokkie en sagtebal gespeel en was ook ’n goeie atleet. Maar dit was in die gimnasium waar sy sedert haar skooldae reeds die tuisste gevoel het.

Na skool het sy haar as somatoloog bekwaam en ook ’n diploma in gesondheid, fiksheid en sportkondisionering behaal. Hoewel sy daarna ook by Unisa ingeskryf het vir ’n diploma in openbare betrekkinge, was sy deurentyd betrokke by die familiebesigheid as persoonlike afrigter.

Fourie sê dat sy nie ’n tradisionele liggaamsbouer is nie. In die Bikini-afdeling van die IFBB se kompetisies, word deelnemers eerder beoordeel op die simmetriese lyne, proporsie en balans van hul liggame.

“Vroulikheid, glans en rondings, eerder as harde spiere, is ’n voorvereiste,” verduidelik sy.

Zelmari Fourie (links) en haar pa, Armand, wat self ’n bekende liggaamsbouer is en ’n paar jaar gelede ook Suid-Afrikaanse kampioen in sy gewigsafdeling was.
Foto: Koos Venter

Sy het ’n lang pad gestap om hierdie groot prestasie te kon behaal. Hoewel sy al ’n paar keer provinsiale kampioen in Gauteng was, en in 2017 as wenner van die SA Xtreme Fitness Bikini-afdeling aangewys is, is dit die eerste keer dat sy op die wêreldverhoog met die wennerstrofee wegstap.

Dis egter nog nie die einde van die pad vir Fourie, noudat sy wêreldkampioen is nie. Sy dink daaraan om volgende jaar haar professionele kaart in die sport te probeer verwerf. Die professionele liga bied weer nuwe uitdagings, wat sy graag wil aandurf voor sy rustiger raak en meer op haar werk agter die skerms konsentreer.

“Ek het ’n passie om mense te help om hul lewenskwaliteit te verbeter. Dis ’n baie vervullende roeping en ek sal dit maklik die res van my lewe kan doen,” het Pretoria se nuutste wêreldkampioen die gesprek met Rekord afgesluit.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button