Oudste lewende Bloubul vertel van sy speeldae
Die oudste lewende Bloubul rugbyspeler het op Vrydag 21 April 90 jaar oud geword en hy sal Saterdag op Loftus Versfeld op spesiale wyse vereer word kort voor die Bulls se wedstryd teen Leinster.
Hoewel die rugbygeskiedenis van Noord-Transvaal (Blou Bulle) in die 1950’s redelik skraps aangeteken is in vergelyking met die eras ná 1968, toe dié span provinsiale rugby in Suid-Afrika vir meer as twee dekades oorheers het, het sommige van die unie se grootste legendes in daardie dekade in die beroemde ligblou trui uitgedraf.
Daar was manne soos die oorspronklike “Blou Bul”, Louis Schimidt, wat in 1957 sy debuut vir Noord-Transvaal gemaak het. Dan was daar legendes soos die skakelpaar Fonnie du Toit en Hansie Brewis, slotte soos Salty du Rant en Ernst Dinkelman, die blitsige vleuel Tom van Vollenhoven, die flambojante losvoorspeler, Daan Retief en natuurlk die beroemde Bekker-broers, Jaap, Dolf, Martiens en Daan. Laasgenoemde was op sy dag ook die SA swaargewig bokskampioen.
Al hierdie genoemde spelers, behalwe Daan Bekker, was ook Springbokke in die 1950’s en vroeë 1960’s en almal is ongelukkig reeds oorlede.
Die Bekkers het egter ook ’n neef gehad wat saam met die meeste van hulle die ligblou trui aangetrek het. Hy was die rateltaai heelagter, Chris Geyer, wat tussen 1953 en 1960 in 30 wedstryde vir Noord-Transvaal uitgedraf het en hy is tans ook die oudste lewende Blou Bul.
Vandag vertel die 90-jarige Geyer trots van die tyd toe hy en al sy Bekker-neefs – daar was ook ’n vyfde neef, Nols Bekker – op ’n dag saam vir Noord-Transvaal uitgedraf het.

Foto: Verskaf
Oom Chris, gebore op 21 April 1933, het hierdie week 90 jaar oud geword en hy is amptelik die oudste lewende Blou Bul. Die unie het reeds planne bekendgemaak om hom eerskomende Saterdag voor die Verenigde Rugby Kampioenskap wedstryd teen Leinster met ’n spesiale toekenning te vereer.
Hy is ’n gebore en getoë Pretorianer, wat rugby reeds op die destydse Laerskool Eloffsdal geleer speel het. Daarna het hy vir Hoërskool Michael Brink (later Hoërskool Hendrik Verwoerd) uitgedraf, maar die liefde vir die spel was so groot dat hy selfs as skoolseun reeds klubrugby vir die destydse span van die Government Printing Works gespeel het.
Na skool is hy eers as skrynwerker opgelei, maar weens beter werksomstandighede met sy rugbyspelery in gedagte, het hy in die staalbedryf betrokke geraak. Ná ’n paar jaar by die destydse Pretoria Metal Industry is hy deur Yskor (later Iscor) in diens geneem, waar hy in 1993 uiteindelik na ’n loopbaan van byna 40 jaar afgetree het.
Op klubvlak het Geyer kort na skool by die destydse Innesdal rugbyklub (later Adelaars) in die Moot aangesluit en uit dié klub is hy ook vir die eerste keer vir die Ligbloues gekies.
Nadat hy by Yskor begin werk het, het hy uiteraard vir dié klub gespeel, wat in daardie jare nog ’n vooraanstaande rugbyklub was.
Hoewel hy vir agt seisoene die Noord-Transvaal trui gedra het en gereeld na die Springbok proewe uitgenooi is, het Springbok kleure hom ontwyk. Hy moes meeding met manne soos Basie Vivier, Jack van der Schyff en Lionel Wilson.
Dié lenige heelagter, wat bekend was as ’n uitmuntende verdediger en baie goeie skopper, was ook ongelukkig om die Curriebeker eindstryd van 1956 weens ’n besering mis te loop. Daardie dag het Noord-Transvaal in Durban met Natal afgereken (9-6) om dié gesogte trofee vir die tweede keer in die unie se geskiedenis te wen.
Hy het wel vir Noord-Transvaal teen die Briste Leeus van 1955 gespeel. Op verteenwoordigende vlak het hy vir die Barbarians uitgedraf, terwyl hy vir ’n gekombineerde span van Noord-Transvaal en Wes-Transvaal teen die Franse toerspan van 1958 gespeel het.
Geyer was ’n veelsydige sportman, wat soos sy neef Daan Bekker self ’n kranige bokser was. Hy het op sy dag selfs die eindrondte van die Transvaalse bokskampioenskap gehaal, maar vertel hy het opgehou boks weens sy ma se afkeur in dié sport.
Ten spyte van die 90 somers agter hom, is Geyer nog besonder gesond en aktief. Hy bestuur self nog sy motor en geniet ’n besige sosiale lewe. Hoewel hy vroeër ’n baie aktiewe jagter en visserman was, vat hy dinge deesdae rustiger en geniet liewer die natuur sonder geweer en visstok.
Geyer en sy oorlede vrou, wat hom reeds 17 jaar gelede ontval het, het twee seuns en twee dogters en hy spog ook met vyf kleinkinders.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
