Local sportSport

Nuwelinge sorg vir eerste groot opskudding in Carltonbeker toernooi

Die Blou Bulle se gesogte Carltonbeker klubrugbytoernooi het die afgelope naweek slegs sy derde week van aksie in 2023 beleef, maar daar was reeds een groot opskudding, terwyl ten minste nog twee uitslae as verrassings beskou kan word.

Die verdedigende Carltonbeker kampioen, Centurion Rugbyklub, sal na dese weet wat dit beteken om met ’n groot teiken op jou rug te speel.

Centurion het hul derde agtereenvolgende nederlaag gely in die toernooi, terwyl die nuwelinge in die reeks, die Wolverines, baie duidelik die boodskap aan die res van die spanne gestuur het dat daar nie vanjaar ’n maklike wedstryd in hierdie kompetisie gaan wees nie.

Die uitslae van twee van die afgelope naweek se wedstyrde is boonop in die doodsnikke beslis.

– Die Wolverines het in Skeerpoort met hul oorwinning van 39-38 oor Centurion gewys dat hulle ’n harde neut gaan wees om op hul tuisveld te kraak.

Dit was veral die Wolverines se inklimspel voorlangs wat Centurion waarskynlik effens onkant gevang het. Drie drieë  teen twee het die tuisspan teen rustyd met 22-15 laat voorloop.

Danksy Ian Trollip se skopskoen kon Centurion op die Wolverines se hakke bly op die telbord en ’n drie deur buitesenter Wynand Botha kon hulle halfpad deur die tweede helfte die voortou laat neem.

Die Wolverines het weer verwoed aangeval en toe hul aanwins uit die Moot, agtsteman JP Alberts, oorduik vir sy tweede drie, het Centurion geweet dat hulle diep sou moes delf om uit dié situasie te kom.

Kyle Cyster, heelagter van Tuks, was een van sy span se uitblinkers. Hy het twee van die span se sewe drieë gedruk.
Foto: Frans Lombard

Dít het hulle gedoen met skitterende fase-spel, wat uitgeloop het op ’n drie deur hul held van verlede jaar se eindstryd, Curtley Brinkhuis. Telling 35-34 in Centurion se guns.

’n Strafdoel vir Centurion deur plaasvervanger, Corné Boland, het dit 38-34 gemaak en dit het beteken dat die tuisspan ’n drie moes druk om te wen – met twee minute speeltyd oor.

Dis egter tóé dat die nuwelinge in die toernooi hul karakter gewys het en terselfertyd ’n waarskuwing vir die ander spanne gestuur het. Met ’n teenaanval uit eie gebied het hulle eers links en toe regs geslaan en dit was die plaasvervanger agterspeler, Franco Cloete, wat uiteindelik vir die wendrie in die hoek kon oorduik.

– In die Tuks stadion het die studente onder hul nuwe bestuurspan gewys dat hulle nie sommer afgskryf moet word ná hul rampspeodige Varsitybeker seisoen nie.

Tuks het sewe drieë ingeryg om een van die vroeë gunstelinge in die toernooi, Harlequins, redelik maklik met 47-22 te klop.

Tuks het opwindende harlooprugby gespeel en die Blokkiestruie kon eenvoudig nie heelpad byhou nie.

Harlequins het nooit gaan lê nie en self ’n bonuspunt vedien met vier drieë.

Die beleërde span van Tuks het Saterdag teen Harlequins gewys dat hulle beslis ‘n faktor gaan wees in vanjaar se Carltonbeker toernooi.
Foto: Frans Lombard

– Nog ’n wedstryd wat in die doodsnikke beslis is, was dié tussen Pretoria Rugbyklub en die Grizzlies van Tuine.

Dit was ook ’n taai stryd van die afskop af en die telbord het eers aan die rol gekom met Pretoria se eerste drie na 20 minute se spel. Kort daarna is Pretoria weer oor die doellyn, toe hulle van die afskop af aangeval het om flank Albert Kapenda in die hoek oor te stuur.

Na rustyd was dit weer Kapenda wat deurgenael het om die telling 21-0 te maak en dit wou lyk of Pretoria die manne uit die Weste gaan verras.

Die Grizzlies het egter met hul terugveg poging begin en na drie drieë onbeantwoorde drieë aan hul kant was die telling 21-19 in Pretoria se guns, aangesien Rodwill Plaatjies een doelskop verbrou het.

Plaatjies het egter dubbel en dwars daarvoor opgemaak toe hy die wenpunte in die doodsnikke van die wedstryd  aangeteken het met ’n strafdoel onder groot druk, wat die eindtelling op 22-21 te staan sou bring.

– Op Northam se tuisveld in die Bosveld het verlede jaar se finaliste, Naka Bulle, hul onoorwonne status verloor, toe die Rhinos hulle met 36-17 geklop het.

Naka Bulle is steeds nie op vol sterkte nie. Dit was duidelik toe hul probleme voorlangs begin het teen die swaar pak voorspelers van die Bosvelders.

Teen rustyd was die tuisspan reeds met 17-3 voor.

Ongelukkig het die manne van die Moot se probleme in die vaste skrums in die tweede helfte voortgeduur, wat veroorsaak het dat hulle nooit werklik momentum kon bou nie. Hul terugvegpoging en twee drieë was ongelukkig té min té laat en Northam kon hierdie keer behoorlik partytjie hou ná hul oorwinning.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button