Local sportSport

Tennis legende gesels oor haar kleurryke loopbaan

Een van Suid-Afrika se suksesvolste tennissterre, wat titels reg oor die wêreld gewen het in beide die amateur en “ope” eras, kan deesdae terugkyk op meer as ses dekades van deelname aan dié sport, sowel as onbaatsugtige diens aan die tennisgemeenskap.

Dis algemene kennis dat Suid-Afrika se enigste enkelspel Grand Slam wenner ooit, Johan Kriek, ’n oud Affie is en onlangs het Rekord ook weer die kollig laat val op die feit dat nóg ’n oud Affie, Danie Visser, ook ’n Pretorianer is wat met drie Grand Slam titels (almal dubbelspel) kan spog.

Dis egter minder bekend dat daar nóg ’n gebore en getoë Pretorianer is wat kan spog met ’n Grand Slam tennis-titel. Trouens, Kriek was nog op laerskool en Visser was vyf jaar oud toe ’n aanvallige 21-jarige blondekop meisie van Pretoria in 1966 saam met die formidabele gebore Oosrander, Frew McMillan, as gemengde dubbelspel kampioene van die destydse Franse Kampioenskap (soos die Franse Ope voor die “ope era” bekendgestaan het) gekroon is.

Annette du Plooy, in haar speeldae bekend as Anette van Zyl, het onlangs so tussendeur haar besige skedule as senior beampte van ’n ITF J100 toernooi by die Rietondale Tennisklub in Pretoria met Rekord gesels, terwyl sy selfoon in die hand sorg dat al die logistiek in orde is rondom dié internasionale toernooi.

Annette du Plooy is verlede jaar deur die ITF vereer vir haar lewensllange diens aan tennis. Hier ontvang sy die toekenning van Gavin Crookes, president van Tennis SA.
Foto: Tennis SA

Sommer vroeg in die gesprek onthul sy dat sy “darem nog nie” verlede maand 80 geword het, soos die algeneme persepsie is as iemand haar sou “Google” vir inligting nie. Sy is eintlik twee jaar jonger.

“Dit was in die laat 1950’s en ek was 12, maar die minimum ouderdom om vir ’n internasionale toernooi te kwalifiseer, was 14. Toe ‘kook’ my ma maar die inskrywingsvorm en skryf dat ek in 1943 gebore is. Daarna moes ek maar deur my loopbaan so speel asof ek twee jaar ouer is,” het sy met ’n breë glimlag vertel.

Du Plooy is in Pretoria gebore en getoë as dogter van ’n polisieman. Sy het in die Moot van Pretoria grootgeword, waar sy eers aan Laerkool Generaal Jacques Pienaar en later aan Hoërskool Langenhoven verbonde was.

Annette du Plooy in aksie in haar speeldae tydens die Queens Club toernooi in Londen in 1965, toe sy haar eerste groot internasionale enkelspel titel gewen het.
Foto: Wikipedia/
Dennis Hart

Op laerskool is haar tennistalent deur ’n onderwyseres raakgesien, wat haar aangespoor het om die sport ernstiger op te neem. Daarna het dinge vinnig gebeur en nadat sy deur die driemalige Grand Slam wenner, Harry Hopman van Australië, onder hande geneem is, het sy as tiener reeds haar internasionale deurbraak gemaak.

As skoolgaande tiener sou sy destyds oorsee tussen wêreldsterre aan ’n toernooi gaan deelneem, net om die volgende week weer met die fiets skool toe te ry om verlore werk in te haal.

Saam met haar sukses het ook die druk en probleme van die Suid-Afrikaanse politiek gekom en as jong meisie wat skaars behoorlik Engels kon praat, moes sy reeds die aggressie van politieke betogings en die wreedheid van die internasionale media ervaar.

Annette du Plooy (links) tydens ‘n onlangse tennis funksie by Sun City in Noordwes, saam met Sandra Reynolds (regs) en Billy-Jean King (agter).
Foto: Verskaf

“Na skool het my pa my ’n keuse gegee om te studeer of eerder die geld te gebruik om internasionaal te toer. Hoewel ek later deur Unisa gestudeer het, het ek laasgenoemde gekies en die lewenservaring wat ek opgedoen het was baie waardevoller as enige studies,” is Du Plooy se mening.

Sy was nog nie eers stemgeregtig nie, maar moes moeilike en moedswillige vrae van die media trotseer oor Suid-Afrika se binnelandse politiek. As jong meisie wat eintlik net tennis wou speel, is sy op ’n stadium deur ’n regsgeleerde familielid onder hande geneem om die situasie te kon hanteer.

Ten spyte hiervan het haar tennisloopbaan vooruit geboer en op 19-jarige ouderdom wen sy haar eerste groot enkelspel titel by die Queens Kampioenskappe in Londen in 1965, nadat sy vroeër daardie jaar die halfeindrondte van die Australiese Ope gehaal het.

Uiteindelik sou sy 11 internasionale enkelspel titels, vier dubbelspel titels en daardie Grand Slam gemengde dubbels titel in Parys agter haar naam kon skryf. In die proses het sy met groot name soos Christine Truman, Carole Caldwell, Judy Tegart en, les bes, Billy-Jean King afgereken.

Annette du Plooy (links) in 1966 by Wimbledon saam met nog ’n Suid-Afrikaner, Maryna Godwin, wat later met die krieketspeler, Mike Procter, getroud is.
Foto: Facebook

Tussen 1965 en 1968 was sy ’n bekende naam onder die wêreld se top 10 vrouespelers. Haar hoogste plek op die ranglys was nommer ses in 1966.

Du Plooy het ook oor ’n tydperk van twaalf jaar in elf Federasiebeker kragmetings vir Suid-Afrika gespeel, terwyl sy later ook as Federasiebeker kaptein diens gedoen het.

Ná ’n internasionale loopbaan van byna 15 jaar het sy op 27 uitgetree, maar dit was lank nie die einde van haar verbintenis met die sport wat sy so hartstogtelik liefhet nie.  Honderde jong spelers het onder haar leiding as afrigter die sport leer ken, terwyl sy deesdae in haar laat sewentigs steeds as beampte vir Tennis Gauteng-Noord, Tennis SA en die Internasionale Tennisfederasie (ITF) optree.

Du Plooy is in 1968 met Jan du Plooy, ’n staatsamptenaar en diplomaat, getroud. Hulle het een seun, Johan, en is ook grootouers van twee kleinkinders.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button