Klubrugby legende groet Pretoria ná meer as vyf dekades
Een van die ware legendes van klubrugby in Pretoria het onlangs besluit dat dit tyd geword het om uit te span en ná ’n verbintenis van 52 jaar, en voltydse diens van 25 jaar, kan hy terugkyk op ’n kleurryke loopbaan in diens van die sport wat volgens hom baie meer aan hom gegee het as wat hy ooit sou kon droom.
Een van die bekendste en mees geliefde persoonlikhede in plaaslike klubrugby het ’n paar maande gelede besluit om halt te roep.
Toe Buks Burger, uittredende klubbestuurder van Naka Bulle rugbyklub hierdie besluit deur die loop van die seisoen geneem het, sou hy maar net kon droom van die sprokies-einde wat vir sy loopbaan as rugby-administrateur voorgelê het. Soos dinge uiteindelik uitgewerk het, het Burger se swanesang saamgeval met die suksesvolste seisoen wat Naka Bulle in hul ganse geskiedenis tot dusver beleef het.
Burger groet sy kollegas en klub-kamerade terwyl albei die belangrikste trofees wat ’n Carltonliga klub kán wen, in die trofeekas van die klubhuis agterbly.
Waar het dit alles begin? Kort na die rugby-wêreldbeker toernooi van 1995 het die spel se vyftienman kode uiteindelik professioneel geword. Dit het egter gou geblyk dat dié nuwe orde nie goeie gevolge vir klubrugby ingehou het nie. Omdat die Blou Bulle se Carltonliga so sterk en gesog was, het kleiner unies soos aasvoëls op Pretoria toegesak en Carltonklubs gestroop van basies al hul top spelers. Skielik het die sterre van die liga teen aanloklike salarisse vir unies soos die Pumas, Valke, Luiperds, Griffons en SWD gaan speel.
Spelers wat in Pretoria by die Bulle kontrakte gekry het, was skielik nie meer vir hul klubs beskikbaar nie, want hulle was nou “professionele” sportmanne.

Foto: Koos Venter
Dis tydens hierdie woellige tyd dat Carltonliga klubs soos Adelaars in die Moot van Pretoria werklik in ’n oorlewingstryd gewikkel was. Intussen het die destydse Oostelikes rugbyklub hul tuiste langs die Pretoria Dieretuin verloor en ná ’n mislukte tydperk, waartydens hulle die klub van ’n skoolterrein af bedryf het, moes hulle ander planne maak.
Toe bestuurslede van Adelaars en Oostelikes in 1998 besluit het om saam te werk, is daar basies ’n nuwe klub gebore, wat van Adelaars se terrein af bedryf sou word. Die nuwe naam, “Naka Bulle” is geregistreer op aandrag van die nuwe klub se hoofborg, wat dieselfde naam gedra het.
Buks Burger, wat kort tevore na twee dekades die diens van Transnet met ’n pakket verlaat het, is die pos as klubbestuurder aangebied en só is sy verbintenis as speler en administrateur by Adelaars voortgesit as voltydse amptenaar van Naka Bulle.
Burger het in Warmbad in Limpopo grootgeword, waarna hy ná skool Pretoria toe verhuis het om onderwys te studeer. Hy het egter as student reeds by die Adelaars klub aangesluit en vir dié klub begin rugby speel.

Foto: Frans Lombard
Só het Burger se verbintenis met Adelaars reeds in 1971 begin, wat beteken dat hy reeds 52 jaar deel is van die klub in Meyerstraat in die Moot, hoewel dit sedert 1998 eintlik ’n heel nuwe klub was.
“As speler het ek nie juis groot hoogtes bereik nie, maar ek het darem die vooreg gehad om ’n hele paar keer in die Carltonliga vir Adelaars uit te draf toe dit nog een van die strafste klubligas in wêreldrugby was,” het Burger trots vertel.
Hy was ook kaptein van Adelaars se senior reserweliga (tweede) span, maar uiteindelik is sy loopbaan vroeg kortgeknip deur ’n knieberering.
Nadat hy as voltydse bestuurder van Naka Bulle aangestel is, het ’n heel nuwe loopbaan in die rugbywêreld vir Burger begin. Dit sou uiteindelik uitbrei tot baie meer as sy verpligtinge as klubbestuurder. Hy sou die geleentheid kry om te reis en ook om skouer te skuur met rugby-persoonlikhede en supersterre reg oor die wêreld, terwyl hy lewenslange vriendskapsbande kon smee.
Saam met Naka Bulle het Burger die laagste laagtepunte en die hoogste hoogtepunte te beleef. Daar was hoogtepunte soos toere oorsee en trofees wat omhoog gehou is, terwyl hy oor die afgelope dekade ook die uitbou van die klub met die vestiging van die Internasionale Rugby-instituut meegemaak het.
Laagtepunte sluit in seisoene waar die klub op die veld gesukkel het, terwyl hy beleef het hoe die Carltonbeker liga ook swaar tye ervaar het weens die invloed van geld in die sport en ander faktore.
Burger se talente is ná sy voltydse verbintenis met klubrugby ook deur die Blou Bulle en SA Rugby raakgesien en hy is nadergetrek om betrokke te raak as skakelbeampte van verskeie plaaslike en internasionale spanne. Hy het op plaaslike bodem gereis saam met die nasionale spanne van Engeland, Australië, Skotland, Wallis, Argentinë en Samoa, terwyl hy ook verskeie SuperRugby spanne uit Australië en Nieu-Seland bygestaan het.

Foto: Frans Lombard
Daarby het Burger homself as legendariese administrateur in Bloubul land gevestig, waar hy as keurder, skakelbeampte en spanbestuurder van verskeie Bloubul spanne – veral op amateurvlak – opgetree het.
Hy het baié jong manne met rugbydrome sien kom en gaan. Daar was dié wat nooit hul volle potensiaal bereik het nie en dan was daar die wat van die veld af ’n reuse sukses van hul lewens gemaak het, terwyl hulle op die veld reeds bewys het dat hulle die regte ingesteldheid en karakter het om dit te kon doen.
Burger glo dat die kwaliteit van legendariese kapteins wat wat die klub opgelewer het, ook bygedra het tot die vasbyt-kultuur waarvoor die Naka Bulle bekendgeword het. Hier dink hy aan manne soos Nollis Marais, Stephan Smit en Sylvester Booysen.

Foto: Verskaf
Dan was daar die top voorsitters in sy tyd, vir wie hy ook enorme respek het en sonder wie Naka Bulle nie sou oorleef nie. Manne soos Piet Niemann, Charles van Staden, James Young en Ian Herbst.
In sy loopbaan het Burger álles gesien en beleef wat in dié sport moontlik is. Die slegte, soos rugby-politiek en raadsaal gevegte laat hom koud en hy het nooit werklik daarby betrokke geraak nie. Maar dis die goeie en lekker – die kameraadskap en al die vriende wat hy gemaak het – wat hy eerder in sy gemoed sal koester in die dae wat kom.
Burger, pa van twee en oupa van vier, word ná sy aftrede ’n Laevelder wanneer hy na sy eiendom in Marloth Park langs die Kruger Wildtuin verhuis. Hy sal egter kontak hou met sy plaaslike vriende en steeds Naka Bulle se grootste ondersteuner bly.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
