Local sportSport

Rhino’s terug, terwyl nuwe borg gewildheid van Carltonbeker onderstreep

Die toekoms van klubrugby onder die jurisdiksie van die Blou Bulle lyk baie goed, nadat een van die korporatiewe “groot kanonne”, SA Brouerye, as borg by die Carltonbeker liga betrokke geraak het.

In 2019, die jaar voor die Covid-krisis, het klubrugby in Pretoria voor groot uitdagings gestaan.

Met slegs vier spanne wat Carltonbeker status geniet het, moes Willem Strauss en sy bestuur planne maak om rugby op klubvlak te red, nadat Strauss die vorige seisoen as president van die Blou Bulle rugby-unie (BBRU) oorgeneem het.

Daar is besluit om ’n klubkompetisie oor provinsiale grense te begin, sodat die vier Carltonbeker klubs behoorlik getoets kan word deur sterk klubs uit die geledere van die Valke, Luiperds en Limpopo.

Intussen het Covid verdere uitdagings aan klubrugby gebring, maar danksy die nuwe aandeelhouers van die Blou Bulle Maatskappy, kon Strauss-hulle op daardie stadium finansiële steun aan plaaslike klubs bied om hulle deur dié krisis-jaar te help.

Vandag, vier jaar later, is die Carltonbeker liga weer gevestig as waarskynlik Suid-Afrika se strafste klubliga. Die heersende Carltonbeker kampioen, Naka Bulle, is immers ook die nasionale Gold Cup kampioen.

Intussen het Tuine se Grizzlies en Pretoria Rugbyklub by Naka Bulle, Tuks, Harlequins en Centurion aangesluit, terwyl die Northam Rhinos (Limpopo) en die Northam Wolwe (Hartbeespoort) ook toestemming het om aan die Carltonliga deel te neem.

Nádat die Rhinos einde verlede seisoen dié voorreg tydelik verloor het, is die probleme tussen hulle en die BBRU intussen uitgestryk en die manne van Setaria se wêreld sal vanjaar weer in die Carltonliga kompeteer.

Teen hierdie agtergrond is dit nie vreemd dat ’n nasionale maatskappy soos SA Brouerye vanjaar na vore getree het om as nuwe titelborg vir dié gesogte liga op te tree nie. Die liga sal dus vanjaar as die Castle Carltonbeker toernooi bekendstaan.

William Mills, nasionale geleentheids- en borgskapbestuurder van die Suid-Afrikaanse Brouerye, het verlede week tydens ’n bekendstellingsgeleentheid gesê dat hulle so beïndruk is met die wyse waarop die Carltonbeker liga uitgebou is en bestuur word, dat die besluit om die liga te borg nie moeilik was nie.

Die meeste klubs in die liga word deesdae as gemeenskapsklubs uitgebou, wat beteken dat ’n restaurant en kroeg deel van die klubs se fasiliteite is.

“Ons produkte word dus reeds by die klubs verkoop en daarom maak dit sin om betrokke te raak”, het Mills verduidelik.

Daar is boonop ook aangekondig dat die BBRU ’n ooreenkoms met die nuwe SuperSport Schools kanaal aangegaan het, waarvolgens alle Carltonbeker wedstryde op dié kanaal se internet stromingsfasiliteit uitgesaai sal word.

Intussen het die 2024 Carltonbeker liga die afgelope naweek in alle erns met drie wedstryde afgeskop. Aangesien Tuks nog by die Varsity Skild toernooi betrokke is, sal hulle eers in week vyf vroeg in Meimaand by die res inskakel. Daar sal dus in April weekliks een span met ’n loslootjie wees.

– Centurion het sommmer vroeg in die seisoen vir die eerste verrassing gesorg toe hulle die verdedigende kampioen, Naka Bulle, in ’n klipharde en spannende stryd met 35-33 geklop het.

– In die stryd tussen die twee Northam spanne het die “ouboet”, die Northam Rhinos hul kollegas van Hartbeespoort (Northam Wolwe) met 39-5 geklop.

– Die Tuine Grizzlies het sommer vroeg hul stem dik gemaak en gewys dat hulle reg is om in 2024 na die volgende rat oor te skakel. Die Grizzlies het Pretoria met 53-17 afgestof.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button