Local sportSchool sportSport

Hoërskool Montana atlete én onnie ryg medaljes en titels in

Hoërskool Montana spog vanjaar met sommige van die beste skole-atlete in Suid-Afrika en Rekord het met vyf van hulle, wat die afgelope seisoen wêreldklas prestasies gelewer het, oor hul atletiekloopbane gesels.

Die skole-atletiekseisoen het die afgelope naweek vir eers ten einde geloop met die afhandeling van die nasionale hoërskole kampioenskap op die Dal Josaphat baan in die Paarl, wat aan vyf van Hoërskool Montana se beste atlete kans gegee het om die omvang van hul prestasies tot dusver te waardeer.

Tussen dié vyf atlete, asook een van die skool se onderwysers en atletiek-afrigters, maak hulle lag-lag ’n trofeekabinet vol met medaljes wat hulle die afgelope paar seisoene ingeryg het, terwyl hul gesamentlike atletiek-titels ook ’n elle lange lys opmaak.

Een van die interessante aspekte van hierdie jong atletieksterre is dat hulle almal plaaslik grootgeword het en afkomstig is uit laerskole noord van die Magaliesberg. Daarmee bewys hulle dat dit beslis nie nodig is om groener weivelde in ander dele van die stad te soek nie en dat Montie-atlete met enige teenstand in die land kan afreken.

* Die 15-jarige Isabella Gunter is die jongste van die vyf ster-atlete, maar haar prestasies op die baan wys dat atletiekliefhebbers nog baie van haar gaan hoor.

Gunter is ’n naelloper en hekkies-atleet, wat haarself vanjaar behoorlik laat geld het op die atletiekbaan. Sommer vroeg in Januarie het sy reeds by Montana se interhuis nie net drie o.15 rekords (100m, 200m en 300m hekkies) laat spat nie, maar sy is as die skool se vinnigste meisie gekroon toe sy ’n naelloop vir alle ouderdomme gewen het. Sy is na dié interhuis ook aangewys as Junior Victrix Ludorum en beste hekkies-atleet.

Tydens die A-bond interhoër op die Pilditch baan wen sy die 200m (o.15) en hoewel sy met die brons medalje tevrede moes wees in die 300m hekkies, teken sy ’n skitterende tyd aan waarmee sy saam met albei atelete in die eerste twee plekke die ou byeenkoms-rekord oortref.

Twee weke later tydens die SA Junior (klub) kampioenskap neem sy in die 300m hekkies wraak teen haar grootste teenstander by die A-bond toe hul albei in die o.16 ouderdomsgroep deelneem, waar Gunter met die goue medalje wegstap. Hierdie keer wen sy egter silwer in die 200m, ook as o.16 atleet.

Dié oud leerling van Laerskool Wonderboom is nie net ’n ster op die atletiekbaan nie, maar blink ook uit in die akademie en het hiervoor reeds erekleure ontvang.

* Johanné Lampbrecht, ’n oud leerling van Laerskool Magalieskruin, is ook 15 jaar oud en in graad 9. Haar atletiekprestasies as veldatleet is besaai met medaljes en rekords.

Dié graad 9 leerling spog met persoonlike beste afstande van 15,96m in die gewisgstoot en 42,97m in die diskus items.

Met twee goue medaljes en twee rekords by die Montie-interhuis in Januarie vanjaar is sy aangewys as die beste worpe-atleet (gewigstoot en diskus).

Daarna wen sy eers dubbel goud by die nasionale Curro Podium eindrondte en herhaal dié prestasie by die A-bond interhoër, terwyl sy boonop ’n nuwe rekord opstel in die gewigstoot item.

By die SA Junior (klub) kampioenskap in Pretoria neem sy ook as o.16 atleet deel en stap weg met goud in die diskus en silwer in die gewigstoot. Tydens verlede week se SA skolekampioenskap wen sy weer die goud in gewigstoot.

* Marcel Brits, het reeds as laerskoolseun by Laerskool Danie Malan gewys hy is ’n haastige langasem. Dié 16-jarige graad 11 leerling is nie om dowe neute verlede jaar aangewys as die Monties se beste senior atleet én die skool se Sportman van die Jaar nie.

Sy seisoen het vanjaar begin met vier goue medaljes (400m; 800m; 1500m en 3000m) by die skool se interhuis, terwyl hy ook rekords opgestel het in die 800m en 1500m. Dit was dus geen verrassing toe hy as die skool se beste midelafstand atleet aangewys is nie.

By die Curro Podium eindrondte is hy as 1500m en 3000m kampioen gekroon toe hy beide items in nuwe rekord tye gewen het.

Later, by die A-bond interhoër, het hy ’n volledige stel medaljes versamel deur goud (met ’n byeenkoms rekord) te wen in die 1500m, silwer in die 800m en brons in die 3000m.

Tydens die SA Junior kampioenskappe in Pretoria wen hy goud in die 1500m en hoewel hy die silwer medalje in die 3000 inpalm, hardloop hy ’n persoonlike beste tyd van 08:37,24min. Later tydens die senior Grand Prix byeenkoms in Johannesburg teken hy sy persoonlike beste tyd (03:54,16min) aan in die 1500m.

Brits, wat tans as die wêreld se 15de beste 1500m atleet gereken word, is ook ’n landloop kampioen.

* Die 17-jarige Tiaan Stevens is ’n veldatleet met ’n atletiek CV wat amper langer is as die afstand wat hy ’n werpskyf (diskus) kan slinger.

Hy het as laerskoolseun aan die Laerskool Stephanus Roos reeds naam gemaak toe hy in 2019 die Suid-Afrikaanse én wêreldrekord in die diskus item vir seuns o.12 opgestel het.

’n Jaar later kwalifiseer hy vir die Jeug Olimpiese Spele, maar die koms van Covid het ongelukkig ’n stokkie voor sy deelname gesteek. Deesdae word hy as die wêreld se tweedebeste o.18 diskus atleet beskou met sy persoonlike beste afstand van 60,19m.

Stevens is vanjaar by Montana se interhuis as Senior Victor Ludorum aangewys, nadat hy beide die diskus en gewigstoot items met nuwe rekord afstande gewen het.

Hoewel hy by die SA Junior (klub) kampioenskappe, die pas afgelope SA Skolekampioenskap in die Paarl én tydens ’n UJ uitnodigingsbyeenkoms goud in die diskus wen, kon net ’n poging wat volpunte (1000) werd was op ASA se Athletics Performance Evaluation (APE) tabel deur Menlopark se Aidan Erasmus hom van die goud ontneem by die A-bond interhoër. Sy silwer medalje poging van 56.17m was self 931 APE punte werd.

Stevens is ook nie net ’n presteerder op die sportveld nie. Voordat hy Paarl toe kon vertrek vir die SA skolekampioenskap die afgelope vakansie, het hy eers die harde werk agter die skoolboeke afgehandel en is daarvoor beloon met ses onderskeidings ná die Maart-eksamens.

************************************************************

Izandri Jacobs vestig haarself as wêreldklas middelafstand atleet

As alles volgens plan verloop sal Hoërskool Montana se middelafstand atleet, Izandri Jacobs, haar land later vanjaar vir die tweede keer in haar loopbaan by die Junior wêreldkampioenskap op die atletiekbaan verteenwoordig.

Hoërskool Montana het oor die jare bekend geword vir sy puik middelafstand atlete en die 17-jarige Izandri Jacobs het die afgelope paar jaar haar deel behoorlik gedoen om hierdie reputasie hoog te hou.

Dié matrikulant het in atletiekkringe geen bekendstelling nodig nie en sy het in 2022 al haar land verteenwoordig by die Junior wêreldkampioenskap, toe sy as 15-jarige in die o.20 kategorie aan die 800m wedloop deelgeneem het.

Intussen het Jacobs haarself oor en oor bewys as ’n wêreldklas atleet. Hoewel sy eers in Desember vanjaar 18 word, is sy tans tiende op die wêreldranglys vir o.20 atlete in die 800m item.

Sy is in Januarie vanjaar aangewys as Montana se Senior Victrix Ludorum én beste middelafstand atleet, nadat sy die 400m, 800m en 1500m wedlope gewen het en die bekende Carmie Prinsloo se 800m rekord in die proses verbeter het.

Izandri Jacobs in aksie in die kleure van Hoërskool Montana.
Foto: Cecilia van Bers

By die A-bond interhoër het sy goud in die 800m en silwer in die 1500m vir dogters o.19 gewen. Hierdie prestasie het sy herhaal by die SA Junior (klub) kampioenskap in die o.20 kategorie, terwyl haar briljante tyd van 2:05.71min in die 800 volpunte (1000) werd was op ASA se Athletics Performance Evaluation (APE) tabel.

Met hierdie vertoning het sy ook gekwalifiseer om Suid-Afrika later vanjaar by die Junior wêreldkampioenskap in Peru (Suid-Amerika) te verteenwoordig.

Tydens ASA se Grand Prix byeenkoms op die Tuks baan ’n paar weke gelede het Jacobs haar persoonlike beste in die 800m na 2:05,10min verbeter, terwyl sy vroeër die seisoen tydens ’n prestige byeenkoms in Johannesburg in ’n rekordtyd die 1500m gewen het deur met van die land se beste atlete af te reken.

Jacobs word, veral in die 800m item, beskou as een van die land se mees konstante presteerders. Daarvan getuig haar rekord van nege agtereenvolgende oorwinnings as junior by top byeenkomste tussen Desember 2020 en Maart 2021.

Sy is ook ’n puik landloop atleet wat al menige titel vir haar skool en provinsie in dié atletiek-kode ingepalm het.

Anders as die meeste sportsterre beplan Jacobs nie ’n loopbaan wat haar in die sportwêreld betrokke sal hou nie. Sy wil graag volgende jaar in die verpleegkunde studeer, maar het nog nie ’n keuse gemaak oor waar sy dit sal doen nie.

************************************************************

Frikkie Pretorius is atleet, onnie en afrigter

Hoewel Frikkie Pretorius as jong onderwyser van Hoërskool Montana self nog ’n aktiewe atleet is wat op die hoogste vlak in die tiekamp meeding, is hy ook al met groot sukses bedrywig as afrigter .

“As jy op skool en as jong student altyd tweede kom in alles waaraan jy op die atletiekbaan deelneem, dan word jy eerder ’n tienkamp atleet en begin ook goue medaljes wen…”

Dít was die 29-jarige Friedrich (Frikkie) Pretorius se minder ernstige antwoord toe hy aan Rekord moes verduidelik hoe hy aan tienkamp blootgetsel is.

Pretorius, wat as skoolseun by die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria ook Bloubul kleure as rugbyspeler gekry het en die provinsie tydens die o.16 Grant Khomo-toernooi verteenwoordig het, spog met die besondere rekord dat hy reeds ses nasionale tienkamp titels agter sy naam kan skryf.

Daarby het hy al die tienkamp by die All African Games gewen, terwyl hy verlede jaar in dié sportkode as Afrika kampioen gekroon is.

Frikkie Pretorius in aksie in die kleure van Gauteng-Noord.
Foto: William Brown

Hy is steeds die heersende nasionale tienkamp kampioen en word ook tans gereken as Afrika se beste en die wêreld se 51ste beste tienkamp atleet. Sy persoonlike beste vertoning in dié item is 8002 punte.

Onder die tien items wat deel uitmaak van tienkamp is paalspring Pretorius se gunsteling en hy is amptelik Suid-Afrika se vierde beste in dié item, terwyl hy as verspringer onder die 12 bestes in die land tel. Hy spog boonop met ’n beste tyd van 10,7s in die 100m.

Pretorius beskou egter sy beste prestasie tot op hede die sewende plek wat hy in 2014 in die tienkamp behaal het by die Statebond Spele in Glasgow, Skotland, terwyl hy destyds inderdaad nog ’n o.20 atleet was.

Deesdae word Pretorius se tyd verdeel tussen sy beroep as onderwyser (rekenaarstudie) en hoogspring afrigter by Hoërskool Montana, oefentye as atleet en om man vir Chene en pa van hul tweejarige seuntjie te wees. By al hierdie verpligtinge is hy boonop ook die nasionale paalspring afrigter.

Sy vrou, Chene, is self ’n top atleet en voormalige SA kampioen hamergooier.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

 
Back to top button