Tweelingma’s hanteer uitdagings met humor en ondersteuning
Om die ma van 'n tweeling te wees het sy eie uitdagings. Drie Pretoria-ma's vertel hoe hulle oplossings gevind het.
Drie werkende ma’s van tweelinge stem saam: As hulle weer kon kies, kies hulle om wéér ma’s van hul tweelingkinders te wees.
Met elke Moedersdag en soos wat die kleinspan groter raak, word hierdie gevoel sterker en sterker.
Vir Jacqueline Theron van Centurion raak ’n week soms darem net te lank want haar en manlief Willie se tweeling, Bella (15) en Anieke (15), gaan tuis by Afrikaans Meisies Hoër se koshuis in die week.
Die hegte en aktiewe gesin het saam bergfiets as ’n sport bemeester en duik saam maar hou naweke uit om genoeg gesinstyd deur te bring in hul veilige omgewing in Midstream.
Met die tweeling naweke tuis en ousus Sharlene, ’n eerstejaarstudent, is daar altyd pret in die ruim braaikamer.
Anieke sê die lekkerte daarvan om een van ’n tweelinig te wees is dat daar bietjie ‘celeb-status’ aan verbonde is. “Almal vra altyd: ‘Is julle een van ’n tweeling?’” sê sy.

Anieke en Bella is ’n identiese tweeling. Soms lei hul voorkoms vir almal, behalwe hul huisgesin, tot ’n konsternasie wanneer hulle wel op die naam uitgeken moet word.
Vir hul ma, ’n projekbestuurder vir ’n myngroep se behuisingsafdeling, is die twee pure vreugde. Sy geniet veral die persoonlikheids- en karakterverskille tussen die twee sportiewe dogters.
“Die uitdagings as ’n ma wentel nie net rondom die tweeling nie, maar ook hoe om hulle deel van die gesin te maak. Tweelinge hou van mekaar se geselskap. Ons moes ook seker maak hul ouer sussie voel nie uitgesluit nie want ’n tweeling kan ook ’n sterk eenheid vorm,” vertel sy oor haar uitdagings.
“Dis dubbel die werk, maar dis ook dubbel die plesier,” sê Theron.

Sy voel inderwaarheid die grootmaak van ’n tweeling is soms makliker omdat hulle dikwels op mekaar vir aandag aangewese is en dus minder aandag van ’n ouer vereis.
Sy glo elke derde geslag het die moontlikheid om ’n tweeling in die wêreld te bring. In hul geval was haar oupa, Toelie van Heerden, ook een van ’n tweeling.

Vir Marietjie en Gert Faul van Sinoville was die dokter se aankondiging dat hul twee stootwaentjies sal moet aanskaf, ’n verrassing.
Die vriendelike en bedagsame Marietjie, ’n operasionele bestuurder by ’n groot winkelsentrum, sê sy het hormoonbehandeling ondergaan sodat sy weer swanger kon word.
Die paartjie wou graag hê hul ouer seun, Jordan, moes ’n sussie of boetie hê sodat hy nie eensaam hoef te wees nie.
“En toe besluit Liewe Jesus op twee!” lag sy.
Anders as hul boetie wat op 32 weke gebore is, is die liefdevolle Chloe (6) en beskermende Kayla (6) op 35 weke gebore en het onderskeidelik 1.4kg en 1.5kg geweeg.
Marietjie is gewoond daaraan om in haar werk ’n plan te maak en hanteer haar ma-wees van ’n tweeling op dieselfde manier.
“As die een wakker word vir ’n voeding of so, dan het ek sommer die ander een ook wakker gemaak en die werk eensklaps afgehandel,” vertel sy.
Die twee se uiteenlopende persoonlikhede val reeds op – ál is hulle maar net ses jaar oud en in die pre-primêre klas in Laerskool Stephanus Roos in Sinoville.

“Kayla is ’n uitgaande kind en wil net sing terwyl Chloe stiller is en moeiliker maats maak. Altwee is egter net suiwere vreugde,” sê sy.

Vir eiendomsagent van die Moot, Nicolene Oosthuizen, is haar dogter, Lumari en boetie, Rodrick ’n rede om voortdurend te glimlag.
Die twee is glo, soos hul pa Rudi, van kwinkslae en grappies aanmekaar gesit, veral dan ook as hul viswaters se kant toe staan.
Rodrick, onderhoofseun by Laerskool Villieria, het juis onlangs stof in sy pa se oë geskop toe hy ’n karp uitgetrek het wat swaarder as sy pa s’n op die weegskaal getrek het – tot groot vermaak van sy suster, Lumari, wat ook ’n onderhoofleier by die skool is.
Die twee besige sportliefhebbers was maar nog altyd aan die gang, vertel Nicolene.
“Toe hulle klein was, wou hulle nie goed slaap nie, maar ons is daardeur met baie hulp en ondersteuning van familielede en vriende,” onthou Oosthuizen.

Sy is daarop ingestel om haar kinders hul eie persoonlikhede te laat ontwikkel. Sy noem Lumari haar ‘vlinderkind’ wat kunstig en kreatief is.
“Haar boetie weer is pligsgetrou en hou nie van verandering nie,” sê Nicolene.
Die Oosthuizens het ook ’n ouer seun Ulrich wat nou in sy twintigs is.
“My man is baie betrokke by die kinders en het kleintyd ook baie gehelp. Ek dink nie ’n ma van ’n tweeling kan sonder hulp of ’n sin vir humor klaarkom nie,” lag Oosthuizen.
Lees: Gemeenskap vereer oorlede brandbestrydershelde by sentrum
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.