Local sportSport

Centurion klop Grizzlies in hoë-oktaan Castle Carltonbeker stryd

Na slegs twee weke van Castle Carltonbeker aksie, is dit reeds duidelik dat die 2024 klubrugby seisoen in Pretoria een van die taaiste en opwindendste seisoene in baie jare kan wees.

Die Castle Carltonbeker het die afgelope naweek slegs sy tweede week van die 2024-seisoen beleef en ’n mens kan aanvaar dat al die spanne nog nie op hul beste vorm is nie.

Tog was daar, behalwe vir die Groenkloof derby, tekens dat die seisoen nog baie interessant en onvoorspelbaar kan word.

– Die wedstryd wat waarskynlik die opwindendste rugby opgelewer het, was Auto Investments Centurion se oorwinning van 48-37 op hul tuisveld teen die Grizzlies van Tuine.

Daar is dertien puik drieë in hierdie hoë-tempo wedstryd gedruk – sewe deur die wenspan en ses deur Grizzlies. Dié feit bewys eerstens dat albei hierdie spanne vanjaar opwindende hardlooprugby wil speel, terwyl dit ook ’n getuigskrif is vir die mate waartoe die manne van die Weste hulself as kompeterende span in die liga gevestig het.

Soos uit hul naam afgelei kan word, word die Auto Investments Centurion rugbyklub, wat tot dusver ná twee wedstryde volpunte op die Castle Carltonbeker punteleer het, vanjaar deur ’n nuwe borg ondersteun. Dié borgskap is verlede week amptelik bekendgemaak tydens ’n funksie in die Centurion Hotel. Van links is Albert Bakker (eerstespan kaptein), Stephan Venter (CEO van Auto Investments Centurion), Dave Bergman (voorsitter van Centurion rugbyklub) en Riaan Brand (hoof afrigter van Centurion rugbyklub).
Foto: Koos Venter

Auto Investments Centurion het vanjaar ’n skitterende en baie goed gebalanseerde span, wat een van die vroeë gunstelinge in die toernooi moet wees. Hul oorwinning verlede week teen Naka Bulle wys dat hulle vanjaar met ’n groot poging vorendag gaan kom.

Dieselfde kan egter ook vir die span van Mick Helena daar uit Tuine se geweste gesê word. Hulle hou net nooit op speel nie en daar is oorgenoeg talent in die Gizzlies se geledere om ’n belangrike faktor in die toernooi te wees. Hou maar dop, hulle gaan vanjaar weer ’n paar van die grotes verras deur die loop van die seisoen.

Onthou veral die naam Damion Karelse. Dié agtsteman het ‘n skitter-vertoning gelewer vir so ‘n groot man só vroeg in die seisoen. Hy gaan ‘n doring in die vlees wees vir Grizzlies se teenstanders vanjaar.

– Naka Bulle het Saterdag Skeerpoort toe gereis om die Northam Wolves op hul tuisveld te gaan aandurf.

Die manne van die Moot sal ná dié uitstappie kan getuig dat Schalk van Heerden se span vanjaar ’n moeilike neut gaan wees om te kraak daar langs die Hartbeespoort dam teen die hang van die Magalies.

Marinus van der Watt se manne het uiteindelik met 38-30 gewen, maar maklik was dit beslis nie.

– Die uitslag in Saterdag se tweestryd om die Naas Botha-trofee tussen die twee buurklubs van Groenkloof, Pretoria en Harlequins, is ongelukkig ’n teleurstelling en rede tot kommer oor die liga op hierdie stadium van die seisoen.

Harlequins het so byna ’n honderdtal aangeteken toe hulle Pretoria met 99-12 vermorsel het. Hierdie uitslag sal klubrugby ondersteuners beslis op ongemaklike wyse herinner aan die donker dae van klubrugby sowat 15 seisoene gelede, toe honderdtalle redelik algemeen in die Carltonliga voorgekom het.

Hopelik sal daar dringend iets aan die saak gedoen kan word, want die liga se sukses van die afgelope paar seisoene was juis die feit dat, ten spyte van groot tellings hier en daar, elke wedstryd ten minste kompeterende rugby kon oplewer.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button