Local sportSport

Centurion tieners op pad na Afrika gimnastiek kampioenskap

Twee jong gimnaste van die Centurion Gimnastiekklub is binnekort op pad na die noorde van Afrika, waar hulle in Marokko teen die kontinent se beste gimnaste gaan deelneem aan die Afrika kampioenskap.

Die 18de Junior en Senior Afrika Artistiese Gimnastiek kampioenskap vind in die eerste naweek van Meimaand in Marrakesh, Marokko, plaas.

Suid-Afrika se span sluit vyf junior gimnaste in, waarvan twee lede is van die Centurion Gimnastiekklub.

Karmia van Jaarsvelt en Jessica Rautenbach is twee van Centurion Gimnastiekklub se uitblinkers wat, ten spyte van die feit dat hulle albei vanjaar eers 15 jaar oud word, reeds met ’n rits prestasies as gimnaste kan spog.

– Van Jaarsveldt se loopbaan as gimnas het reeds op 6-jarige ouderdom begin, nadat sy aan gimnastiek voorgestel is deur haar ma, wat ook aan die sport deelgeneem het. Die jong Van Jaarsveldt was dadelik soos ’n vis in die water tussen al die apperate en sy het gou bo die res begin uitstyg.

Jessica Rautenbach besig om te oefen op die brug, haar gunsteling apperaat, waar sy nie maklik geklop word in kompetisies nie.
Foto: Koos Venter

Die Van Jaarsveldt-gesin het vroeër in Nelspruit gewoon en Karmia het reeds in haar tweede jaar van deelname begin om kompetisies te wen en medaljes te versamel.

In 2020, die moeilike Covid-jaar, bereik sy Vlak 5 van die sport en verdien die eerste keer provinsiale kleure as Gauteng gimnas. Twee jaar later, in 2022, word sy aangewys as Suid-Afrika se beste Vlak 8 gimnas en verlede jaar, op Olimpiese Intreevlak, is sy weer die beste in die land.

Vanjaar neem Van Jaarsveldt deel op Junior Olimpiese vlak en sy word tans beskou as nommer twee in die land. Dis veral op die balk – haar gunsteling apperaat – waar sy gereeld haar beste punte behaal.

Dié jong gimnas oefen deesdae drie tot vier ure per dag in die gimnastieksaal. As tuisskool leerling kan sy gelukkig haar program so inrig dat sy maksimum aandag aan haar sport kan gee.

– Rautenbach se loopbaan het selfs vroeër as haar vriendin begin. Sy kan dit skaars onthou, want sy was maar 3-jaar oud toe sy reeds aan gimnastiek blootgestel is by Centurion Gimnastiekklub se voorskoolse bytjie-program. Hier word by kinders selfs so jonk soos twee reeds op georganiseerde wyse ’n liefde vir gimnastiek gekweek.

Dit kan ook nie anders nie, aangesien haar ma, Suzanne, self ’n gekwalifiseerde gimnastiek afrigter en beoordelaar is.

In 2019 het sy reeds gevorder tot Suid-Afrika se tweedebeste Vlak-5 gimnas en sedertdien tel sy jaarliks onder die top vier in die land – eers op Olimpiese Intreevlak en deesdae ook op Junior Olimpiese vlak. Sy word egter nie maklik geklop op die brug, haar gunsteling apperaat nie.

Jessica Rautenbach (links) en Karmia van Jaarsvelt in die oefensaal van die Centurion Gimnastiekklub, waar hulle tans voorberei vir deelname aan die Afrika kampioenkap in Marokko.
Foto: Koos Venter

Rautenbach het tot onlangs ook hokkie gespeel en sy was vroeër betrokke by tuimel – wat as een van gimnastiek se sub-afdelings beskou kan word. Deesdae is sy ook ’n tuisskool leerling en, soos haar vriendin en klubmaat, spandeer sy langer as drie ure per dag op die apperate in die gimnastieksaal.

Dié twee gimnaste sien albei uit na hul ondervinding in Noord-Afrika en beskou dit beide as ’n geleentheid om internasionale ondervinding op te doen met die oog op die toekoms. Hulle deel immers een groot droom – om Suid-Afrika by die volgende Olimpiese Spele in 2028 te verteenwoordig.

Hulle is ook gelukkig dat die gemeenskap hulle ondersteun om kostes te help dek vir die reis na Noord-Afrika. ’n Plaaslike maatskappy, Special Alloys and Metallurgical Services, het ook hul missie na Marroko’n groot hupstoot gegee met hulp en bystand.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button