Local sportSport

Groot mylpaal vir gewilde rugbykaptein

Centurion rugbyklub se gewilde losvoorspeler en kaptein, Albert Bakker, het verlede week ’n groot mylpaal bereik toe hy sy 100ste wedstryd vir dié klub se eerstespan uitgedraf het.

Albert Bakker het baie teenstanders op die rugbyveld. Hy is immers een van die veterane van die Carltonbeker klubliga en as baljagter flank is hy hoogs kompeterend op die veld.

Maar hoewel hy baie teenstanders het daar waar die aksie tussen die vier lyne gebeur, het Bakker nie regtig baie vyande nie.  Trouens, dié vriendelike klubrugby veteraan is oor die spektrum bemind en gewild.

Diegende wat wéét, sal egter vir jou sê dat hierdie stewige losvoorspeler waarskynlik een van die mees onderskatte rugbyspelers in Pretoria is. Sy rol as speler en leier in die sukses van Centurion en hul twee Carltonbeker titels sedert hy vir dié span uitdraf, is enorm. Soos die meeste goeie baljagters word Bakker se waarde nie altyd regverdig beoordeel nie, maar dat hy al menigmaal ’n wedstrydwenner vir sy klub was, is nie te betwyfel nie.

Hy mag dalk effens bonkig voorkom, maar Bakker se vaart op die veld is bedrieglik, terwyl sy krag goud werd is as baldraer in ’n span wat gewoonlik op klipharde voorspelerspel staatmaak.

Albert Bakker lei sy span verlede week in sy 100ste wedstryd op die veld in ’n Carltonbeker wedstryd teen die Tuine Grizzlies, terwyl sy spanmaats hom met hul applous vereer.
Foto: Koos Venter

In Centurion is Alla, soos sy spanmaats hom noem, byna ’n kultus-figuur. Hoe ook nou anders as in ag geneem word dat hy verlede week, tydens die klub se eerste tuis Carltonliga wedstyd van die seisoen teen die Grizzlies, in sy 100-ste wedstryd vir Centurion se eerstespan uitgedraf het.

Hoewel enkele ander spelers ook al die magiese 100-tal vir Centurion rugbyklub bereik het, is Bakker se 78 agtereenvolgende wedtryde tussen 2014 en 2019 vir die eerstespan waarskynlik ’n rekord.

Bakker is ’n gebore en getoë seun van Centurion – Laerskool Hennopspark, Hoërskool Centurion, Centurion Jeugrugby klub en uiteindelik kaptein van die klub se eerstes. Terloops, leierskap is ook iets was natuurlik kom vir hom. Hy was kaptein van elke span waarby hy sedert skooldae betrokke was.

Sy goeie verhouding met die afrigter van Centurion rugbyklub, Riaan Brand, kom ook reeds sedert skooldae, waar Brand sy breier was. In sy matriekjaar het Bakker die eerste keer verteenwoordigende rugby geproe, toe hy deel was van die Blou Bulle se o.19 span wat jaarliks aan die bekende Pukke-week deelneem.

Behalwe vir Brand het Chaka Willemse en Pieter van den Berg destyds as student in Potchefstroom ook ’n groot invloed op sy loopbaan gehad.

Bakker het na skool by die Noordwes Universiteit in Potchefstroom aangemeld vir ’n graad in Menslike Beweegkunde. Daar het hy vir die Pukke se o.19 en o.21 spanne uitgedraf.

In Potch het hy homself ook as baie bruikbare 7’s speler bewys. Dis juis hier waar hy baie by Van den Berg as 7’s rugby kenner geleer het. Onder Van den Berg se leiding het Bakker die Pukke in die Varsity 7’s toernooi verteenwoordig.

Met sy terugkeer na Centurion het Bakker vir die klub se eerstespan begin uitdraf en enkele seisoene gelede ook vir die Loftus-200 span en die Blou Bulle se amateurspan verteenwoordigende rugby gespeel.

Hy beskou egter die twee Carltonbeker titels – in 2016 en weer in 2022 – as die groot hoogtepunte van sy loopbaan as rugbyspeler.

Albert Bakker in aksie met bal in hand in sy 100ste wedstryd teen die Tuine Grizzlies.
Foto: Koos Venter

Vra ’n mens hom uit oor sy taaiste en moeilikste teenstanders tydens die afgelope 100 wedstryde as klubrugby speler, sonder hy veral twee manne uit teen wie hy in die Carltonliga gekompeteer het.

“Ian van Deventer, wat vir Polisie, Quins-Bobbies en Naka Bulle gespeel het, en Dwight Pansegrouw van Tuks was albei manne waarteen ek myself behoorlik kon toets. Harde, taai flanke wat briljant was by die afbreekpunte,” is sy antwoord.

Hoewel hy as Natuurwetenskap onderwyser deesdae al saam met sommige van sy oud leerlinge in dieselfde span speel, dink die 32-jarige Bakker nog nie nou al aan klaarmaak nie. Hy glo hy het ten minste nog twee of drie seisoene in sy lyf oor, as die ernstige beserings natuurlik wegbly.

Na sy speeldae wil hy beslis by rugby betrokke bly via afrigting. Trouens, hy is reeds by Hoërskool Centurion se o.15’s en eerstespan betrokke.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button