Local sportSport

Krisis by Pretoria rugbyklub moet dringend aandag kry

Terwyl twee van Saterdag se Castle Carltonbeker klubrugbywedstryde skitterende spel opgelewer het, was daar ook weer die reuse teleurstelling van nog ’n honderdtal teen die agterosse in die toernooi.

Ná slegs die vierde week van Castle Carltonbeker aksie in 2024 het die kommer oor die agterosse in die toernooi só vroeg in die seisoen reeds krisis afmetings begin aanneem.

Nóg ’n week van puik aksie op ander velde is weer bederf deur nóg ’n honderdtal teen Pretoria Rugbyklub.

Hierdie keer was dit Centurion, wat kuikenmoord gepleeg het met 17 drieë teen die manne van Groenkloof vir ’n oorwinning van 111-7.

Linkervleuel Maxwel Osborne se eerste drie vir Centurion het gekom na minder as twee minute se spel. Daarna was dit punte by reëlmaat met nog vyf drieë in die eerste helfte (rustydtelling 46-0) en elf drieë wat sou volg in die tweede skof.

Daar is nie werklik veel meer om oor hierdie wedstryd te sê nie, behalwe dat daar dalk dringend ingegryp moet word – nie ter wille van die klub, wat self vir hierdie situasie verantwoordelik is nie, maar ter wille van die geloofwaardigheid van die toernooi.

Die afgelope paar seisoene is daar hard gewerk om die Carltonbeker toernooi se eer en glorie te herstel. Wat ookal by Pretoria verkeerd geloop het, bewys dat daar ’n leemte in die stelsel ontstaan het. Daardie leemte is waarskynlik toegelaat deur die feit dat geen promosie-relegasie wedstryde verlede seisoen tussen die Presidentsliga se kampioen en die agterosse in die Carltonliga plaasgevind het nie. Dus, geen druk op Pretoria om sake te verbeter nie.

Daar is genoeg spelers in die stelsel en waarskynlik ook genoeg geld in die privaatsektor om ’n klub soos Pretoria op standaard te kry. As die res van die klubs in die liga dit kan doen, kan dit ook by die stad se oudste klub gedoen word. Andersins moet mens maar hoop ’n klub soos die Knights, die nuwelinge in die Ooste van Pretoria wat van krag tot krag gaan en baie goed vaar in die Presidentsliga, kry so gou moontlik hul eie geriewe, sodat die stad se grootste groeiende gemeenskap ’n behoorlike gemeenskapsklub in die Carltonbeker liga kan kry.

Komaan sakegemeenskap, maak ’n plan. Klubrugby in Bloubulland kan nie nou weer een tree terug bekostig na al die positiewe groei van die afgelope paar jaar nie.

Die Northam Rhinos het met hul oorwinning teen ’n sterk span van Harleuins gewys dat hulle vanjaar weer ’n faktor in die Castle Carltonbeker toernooi gaan wees.
Foto: Facebook

– Aan die anderkant van Totiusstraat in Groenkloof het die tuisspan, Harlequins, se ou kwaal hulle weer van ’n oorwinning beroof. Dié kwaal – té veel ongedwonge foute – het die Blokkiestruie se momentum telkens versteur, terwyl die Bosvelders van Northam weer gewys het dat hulle op hul gevaarlikste is wanner hulle op hul teenstanders se foute teer met teenaanvalle.

Northam het ook die skrums oorheers, wat aan hul agterlyn meer kwaliteit besit en spasie geskep het om aan te val.

Nadat die besoekers teen rustyd reeds met 25-3 voorgeloop het, het Harlequins veggees getoon en hulself goed regruk in die tweede skof.

Die tuisspan sou beslis selfvertoue gekry het met hul eerste drie vroeg in die tweede helfte, toe goeie dryfspel deur hul voorspelers opgevolg is deur ’n kraglopie van hul groot binnesenter, Divan Esterhuizen, wat langs die pale oorgeduik het.

Halfpad deur die tweede helfte het Northam se laaste punte wéér van ’n briljante teenaanval gekom toe Quins nie die kantlyn kon vind na ’n strafskop nie.

Carling Forwood, agsteman van Harlequins het weer sy besondere vaardighede getoon met sy drie, wat aan die tuisspan ’n kans gegee het om terug te kom in die stryd.

Op skrumskakel het Eugene Hare jr. ook gewys dat dít waarskynlik sy beste posisie is en dat hy goud werd kan wees vir die span daar waar hy meer betrokke is by die aksie.

Harlequins het in die laaste kwartier ’n paar keer gevorder tot in die rooi gebied, maar kon weens ongedwonge foute net nie afrond nie.

–  Die twee buiteperde in die toernooi, die Grizzlies van Tuine en die Northam Wolves van Skeerpoort, het Saterdag op Tuine se veld ontmoet.

Hierdie twee spanne het in ’n opwindende en spannende wedstryd gewys waarom hulle albei die vermoë het om die kaarte in die toernooi deurmekaar te krap.

Uiteindelik was dit Schalk van Heerden se Wolwe wat net-net die knoop kon deurhaak met hul oorwinning van 31-30.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button