Local sportSport

BBRU gryp in by Pretoria rugbyklub

Terwyl die vonke in week vyf van vanjaar se Castle Carltonbeker toernooi op verskeie velde gespat het, was daar die afgelope week ook belangrike verwikkelinge in die raadsale op Loftus Versfeld ten opsigte van dié toernooi.

Ná vyf weke van Castle Carltonbeker aksie in 2024 is Centurion die enigste onoorwonne span in die liga, terwyl daar boonop die afgelope week geskiedenis gemaak is met raadsaal-sake.

Sover bekend is daar verlede week vir die eerste keer in die geskiedenis van dié eeuoue toernooi deur die bestuur van die Blou Bulle Rugby-Unie (BBRU) in samewerking met die leierskorps van die Carltonbeker klubs in die middel van die seisoen ingegryp om besluite te neem wat die deelname van ’n klub raak.

Nadat Pretoria se eerstespan in hul eerste vier ligabepalings ’n gemiddeld van 93 punte per wedstryd afgestaan het, was dit duidelik dat dié klub op ’n ramp afstuur as daar nie ingegryp sou word nie.

Die bestuur van die Carltonklubs het toe verlede week tydens ’n noodvergadering met die bestuur van die BBRU vergader en daar is besluit dat Pretoria se eerstespan vir die res van die seisoen “sabbatsverlof” uit die kompetisie sal neem om hul sake in orde te kry.

Pretoria sal met direkte betrokkenheid van die BBRU se president, Willem Strauss, gehelp word om hul spelerskorps en afrigtingstruktuur te versterk, sodat hulle volgende seisoen met mening terug kan keer en kompeterend kan wees.

Naka Bulle het Northan se Rhinos Saterdag in ‘n opwindende en spannende wedstryd in Setaria met 39-33 geklop.
Foto: Facebook

Daar is duidelik ’n sentiment onder al die betrokke klubs dat Pretoria, as die BBRU se oudste klub, eerder bygestaan moet word en versterk moet word en dat niemand daarby gaan baat as dié klub sou ondergaan en verdwyn nie.

“Die algemene gevoel by die vergadering was dat Pretoria Rugbyklub ’n lang pad gekom het sedert hul Carltonbeker status enkele seisoene gelede herstel is en dat hulle nou eerder ‘broederlike leiding’ nodig het,” was die sentiment van die BBRU se Hoof Uitvoerende Beampte, Dr Eugene Hare.

Rekord het ook verneem dat nie een van die klubs in die Presidentsliga nou reeds gereed is of aan die vereistes kan voldoen om Pretoria in ’n promosie-relegasie stryd aan te durf nie.

– Tuks het die afgelope naweek by die Castle Carltonbeker liga aangesluit ná hul sukses in die Varsity Shield toernooi waar hulle as kampioen gekroon is, maar Centurion het hulle teruggebring aarde toe met ’n behoorlike pakslae van 63-33.

Die studente sukkel tradisioneel teen Centurion op hul tuisveld in die skadu van die Gautrein spoor en met laasgenoemde op goeie vorm, sou dié wedstryd vir Tuks ’n goeie barometer wees oor wat hulle te wagte kon wees, aangesien hulle nooit werklik getoets is in die tweederangse Varsity Shield toernooi nie.

Tuks is sommer binne die eerste twee minute oor die doellyn, maar Centurion het kop gehou en van die afskop af die bal deur ’n paar fases geneem, voordat die gaping vir hul makro-senter, Kevin Osborne, oopgegaan het om Tuks se drie uit te kanseleer na net vier minute op die stadion-horlosie.

Daarna het die ‘een-vir-my; een-vir-jou’ tendens nóg drie keer plaasgevind met Tuks wat telkens gaan druk van omgekerde besit, waarna Centurion die bal met kragspel tot in die rooi gebied opneem en dan afrond. Op hierdie manier het die twee spanne met die telling op 28-26 in die tuisspan se guns gaan water drink.

Centurion het na rustyd eerste gaan druk en daarna het die manne uit die Suide se stadige gif met hul voorspelers se kragspel die gewenste uitwering begin kry. Die drieë het met reëlmaat begin kom en toe Tuks halfpad deur die tweede helfte hul oë uitvee, was die vyftigtal reeds teen hulle op die telbord.

–  In Groenkloof wou Harlequins wraak neem teen die Grizzlies van Tuine, nadat Mick Helena se manne hulle verlede seisone twee keer verras het.

Quins het uiteindelik naelskraaps met 15-10 gewen, maar hulle sou na die wedstryd eerder hul sterre dank as om oor wraak te spog.

Dit was ’n klipharde en taai stryd, met die Grizzlies wat die skrums veral in die eerste helfte oorheers het, terwyl Harlequins agterlangs effens skerper gelyk het. Ongelukkig vir die manne uit die Weste kon hulle nie hul oorheersing voorlangs beter benut om momentum te bou nie.

Die verskil tussen die twee spanne was waarskynlik die spel van Quins se vaardige losskakel, Ruan van Rensburg. Sy drie vroeg in die wedstryd was ’n juweel, terwyl hy dit deurentyd reggegkry het om sy span op die voorvoet te hou.

Daarenteen het Grizzlies se heelagter en skopper, Juandré Kleynhans, ’n nagmerrie wedstryd beleef. Dié talentvolle speler, wat internasionale ondervinding het en normaalweg ’n puik skopper is, se oordeel het hom soms in die steek gelaat en hy het boonop sewe redelike maklike punte met verbroude stelskopwerk verbeur.

– Van wraak gepraat, die Northam Rhinos het waarskynlik hul tande geslyp vir die Naka Bulle, wat hulle velrede jaar in die Carltonbeker eindstryd op hul tuisveld in Setaria in die Bosveld geklop het.

Wraak was egter nie die manne van Northam beskore nie, aangien Naka Bulle hulle wéér in hul eie agterplaas geklop het. Die eindtelling in hierdie opwindende en spannende wedstryd was 39-33 in die guns van die mane uit die Moot.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button