Blou Bulle se 31ste Bulletjiedag lok weer duisende
Loftus Versfeld het die afgelope Saterdag weer behoort aan die kaalvoet Bulletjies, wat op verkleinde velde in die kleure van hul laerskole aan die Blou Bulle Rugby-unie se Bulletjiedag deelgeneem het.

Loftus Versfeld is die afgelope Saterdag weer deur sowat 5500 aspirant Blou Bulle ingeneem toe byna 6000 jong rugbyspelertjies in die ouderdomsgroep 6 to 8 jaar saam met hul families daar saamgetrek het vir die Bloubul Rugby Unie (BBRU) jaarlikse Bulletjierugby dag.
Loftus Versfeld se B-; C- en D- velde het weer gekrioel met duisende jong Bulletjies, terwyl die A-veld vir die eerste keer ook deel van die feesdag geword het. Vir sommige van hierdie jong seuntjies en dogtertjies was dit die eerste ondervinding om op die “heilige grond” in dié wêreldberoemde stadion te kon rondhardloop en Bulletjierugby te kon speel.
Hierdie Bulletjierugby dag is ’n unieke skouspel, wat beskou word as die grootste jaarlikse rugby-saamtrek ter wêreld. Een van die kenmerke van die afgelope paar jaar is dat al hoe meer meisies ook deel word van die aksie.
Seuns en meisies van 6, 7 en 8 jarige ouderdom vanoor die uithoeke van die Tshwane Metro en selfs verder neem elke jaar deel aan hierdie Bulletjiedag.
Daar word mini-rugbywedstryde in die vorm van “tag”-rugby gespeel. Materiaal stroke wat met die hulp van “velcro” aan die spelers se klere geheg word, moet deur verdedigers afgeruk word, waarna die spelers die bal moet uitgee.
Op hierdie manier word kontak-rugby vir die jong spelers verhoed, wat hulle aan die spel gewoond maak sonder die risiko van ernstige beserings.
Die dag word aangebied vir die hele gesin. Die jong spelertjies word ondersteun deur ousers, grootouers en ander gesinslede. Vir die kinders wat nie deel is van die aksie op die veld nie, is daar ander vermaak soos springkastele, terwyl daar oorgenoeg te ete en te drinke verskaf word deur ’n verskeidenheid van verversing-stalletjies.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.