Wolwe raak al hoe groter bedreiging in Carltonliga
Die Northam Wolwe van Skeerpoort het Saterdag hul eerste rondte in die Carltonbeker toernooi met hul vierde oorwinning van die seisoen afgesluit en daarmee gewys dat die voorlopers op die punteleer versigtig sal moet wees vir hulle in die tweede rondte.

Nadat hulle verlede jaar, in hul eerste seisoen tussen die groot honde van die Castle Carltonbeker liga, net-net nie vir die halfeindstryde kon kwalifiseer nie, lyk die Northam Wolwe van Skeerpoort al hoe meer na ’n ernstige aanspraakmaker om vanjaar wel daar te wees in die uitspeelfase.
Schalk van Heerden se manne het Saterdag teen Harlequins hul eerste rondte in vanjaar se Castle Carltonbeker voltooi en hulle eindig dié fase in die derde plek op die punteleer. Hulle het Centurion uit dié posisie gedruk met hul oorwinning teen Harlequins die afgelope naweek.
– Dit was egter geen maklike taak om die Blokkiestruie op hul tuisveld in Groenkloof te klop nie. Johan Barnard, heelagter van die Wolwe, het senuwees van staal getoon toe hy in die laaste sekondes van die wedstryd ’n strafdoel van 30 meter van die kantlyn af deur die pale gestuur het om sy span met 32-30 te laat wen.
Vir Harlequins sal hierdie nederlaag ’n reuse teleurstelling wees, veral ná hul goeie oorwinning oor Centurion verlede week.
Die tuisspan het vroeg in die wedstryd gewys dat hulle op verlede week se momentum wil voortbou. Hulle het van die afskop af die bal lug gegee en binne twee minute was hulle oor die doellyn vir hul eerste drie.
Soos ’n mens gewoond geraak het aan die Wolwe se karakter, het hulle egter dadelik teruggeveg en met dieselfde opwindende benadering ook die doellyn gehaal voor die horlosie nog ses minuute kon aftik.
Vyf minute later het die besoekers die voortou geneem met ’n drie waar die voorspelers weer hul vaardighede gewys het. Daarna het positiewe rugby aan albei kante nóg ’n drie aan elke span opgelewer, wat die Wolwe met 21-15 laat water drink het.
Die tweede helfte was baie taaier en daar was minder hardloopkans agterlangs, maar Harlequins het hul skrum dominansie vir die eerste driekwart van die wedstryd waarskynlik nie behoorlik benut nie. Toe die Wolwe se voorry met vars bene vervang is, het die momentum gedraai en die besoekers se derde drie was ’n direkte gevolg van ’n verwoestende skrum, wat beter eerstefase besit agterlangs verseker het.
Linkervleuel Ashwill Botha se spoed en ervaring het ook ’n rol gespeel in dié bonuspunt-drie vir die manne van Skeerpoort.
Twee skitter drieë deur plaasvervanger senter, Manus Coetzee, het Harlequins in die laaste tien minute die voortou laat neem met ’n enkele punt. Toe volg Quins se blaps by ’n losskrum in die laaste minuut en Barnard se suksesvolle strafdoel onder groot druk.
– Op die grasgroen, goedversorgde veld van die Tuine Sportklub in die Weste van die stad het Tukkies gewys dat hulle nie maklik sal gaan lê na hul vier agtereenvolgende nederlae sedert hulle by die liga aangesluit het nie.
Die studente het 13 drieë ingeryg om Tuine se Grizzlies uiteindelik met 89-28 af te stof.
Tuks het sommer binne die eerste drie minute vanaf ’n lynstaan in die rooi gebied oorgedryf vir die eerste drie van die wedstryd.
Twee minute later was dit duidelik dat Tuks hul huiswerk gedoen het. Hulle het besef dat die Grizzlies se groot swakpunt hul gebrekkige verdediging is en met hul spoed en vaardigehde agterlangs het die studente hierdie probleem van die tuisspan uitgebuit en begin baljaar. Dit was veral hul heelagter, Kyle Cyster, wat gewys het hy kan beslis op ’n hoër vlak as hierdie liga speel.
Tuks se bonuspunt (vierde) drie is reeds na slegs ’n kwartier se spel gedruk.
Hoewel Grizzlies se manne effens lusteloos gelyk het in hierdie wedstryd, het hulle tog bietjie van hul karakter gewys en probeer om terug te veg. ’n Puik drie van binnesenter PJ Bezuidenhout vir die tuisspan het die eensydige golf tydelik gestuit.
Tuks het egter daarna voor rustyd nóg vier keer gaan druk om met 54-7 voor te loop. .
’n Mens kan seker sê dat Tuks, na ’n verdere vyf drieë in die tweede helfte belangstelling verloor het en begin dink het aan die partytjie na die wedstryd by Tuine Sportklub se puik fasiliteite, maar kom ons gee die manne van die Weste die voordeel van die twyfel. Hulle karakter het gewys deur vas te byt en uiteindelik self in die doodsnikke hul vierde drie te druk vir ’n bunuspunt.
Tuks het gewys hulle gaan in die tweede rondte ’n groter faktor wees in die liga.
Aan die ander kant is Gizzlies ’n baie positiewe span, maar dit sal hul bestuur baat om te belê in ’n behoorlike verdediging-spesialis. Anders gaan hulle die melkkoei van die toernooi word in die tweede rondte.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.