Pickleball ster van die Moot wen silwer vir SA by Afrika Spele
’n Jong student van Pretoria was deel van die nasionale Pickleball span wat ’n geskiedkundige eerste medalje ooit in hierdie jong sportsoort vir Suid-Afrika by die onlangse Afrika Spele verower het.
Pickleball is volgens verskeie bronne een van die vyf vinnigste groeiende sportsoorte ter wêreld en in Suid-Afrika is dié gesinsport ook besig om baie gewild te word.
Rekord het ’n jaar gelede reeds vertel hoe verskeie gemeenskapsklubs in Pretoria reeds pickleball bane aangelê het om belangstellende spelers te akkomodeer.
In pickleball, wat binne- of buitenshuis beoefen kan word, word ander sportsoorte soos tennis tafeltennis en pluimbal basies gekombineer. Dit word met ’n harde spaan/raket en harde plastiekballetjie gespeel op ’n baan basies so groot soos ’n pluimbalbaan.

Foto: Verskaf
Hoewel daar ooreenkomste is tussen die toerusting (spane/rakette en balle) van pickleball en paddleball, is daar wesenlike verskille ten opsigte van die bane en reëls van die onderskeie kodes.
Die Suid-Afrikaanse groep sportmanne- en dames wat onlangs aan die 13de Afrika Spele in Ghana deelgeneem het, het ook ’n pickleball span ingesluit. Een van die uitblinkers en trotse lede van hierdie geskiedkundige eerste nasionale pickleball span by die Afrika Spele, was Lynette Whelpton, ’n lid van die Munies Pickleball klub in die Moot van Pretoria.
Whelpton is ’n 22-jarige meestersgraad student in Wiskunde Statistiek aan die Universiteit van Pretoria. Sy het by die spel betrokke geraak toe haar ouers, wat ook lede is van Munies se rolbalklub, haar aan pickleball blootgestel het.

Foto: Verskaf
Hoewel Whelpton ’n veelsydige sportvrou is wat voorheen ook in tennis-; netbal-, aksie-netbal- en sagtebal uitgeblink het, was sy sommer gou verlief op pickleball. Sy het vinnig begin uitblink in die sport en die hoogtepunt van haar kort loopbaan tot dusver was toe sy vir die nasionale span na die Afrika Spele gekies is.
Hoewel dit nog ’n jong sportsoort is, het nege verskillende Afrika lande pickleball spanne na die spele gestuur.
Die Suid-Afrikaanse span het bestaan uit twee mans en twee dames. Whelpton en haar dubbelspel maat, Bianca Auret van Vanderbijlpark, het uiteindelik met die silwer medalje in die dames dubbelspel kampioenskap huistoe gekom. Auret het ook brons gewen in die enkelspel kompetisie.

Foto: Verskaf
Uiteindelik het die nasionale span, wat saam met Whelpton en Auret ook die mansspan bestaande uit Marko Stavrou en Costas Martinis ingsluit het, algeheel vierde by die spele geëindig.
Whelpton het groot drome vir haar loopbaan as pickleball speler en hoop saam met die res van die gemeenskap in dié sportsoort dat dit binnekort dalk Olimpiese status kan kry. Intussen sal sy alles in haar vermoë doen om dalk weer die nasionalse span te haal vir die wêreldkampioenskap wat in November vanjaar in Texas, Amerika, aangebied word.
Die volgende Afrika Spele vind in 2027 in Egipte plaas.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
