Harlequins verras verdedigende kampioen in Carltonbeker toernooi
Die afgelope naweek se Carltonbeker klubrugby het wéér ’n verrassing opgelewer en bewys dat die meeste van die uitslae in dié liga steeds onvoorspelbaar is, soos dit hoort.

Met sommige spanne in die Castle Carltonbeker toernooi wat die afgelope naweek reeds begin het met hul tweederondte wedstyde, is die uitspeelrondtes nog wyd oop en teoreties kan al sewe die spanne in die liga steeds daarvoor kwalifiseer.
Hoewel Naka Bulle die eerste rondte bo-aan die punteleer afgesluit het en daarom vanjaar die wenner van die Lucas Strachan-skild geword het, is hulle Vrydagaand uit dié posisie geboender ná ’n nederlaag teen Harlequins.
Intussen het die Northam Rhinos die nuwe voorloper op die punteleer geword. Baie water moet egter nog in die see loop voor die halfeindstryde op 8 Augautsus aanbreek en daar sal in die volgende ses weke ’n verwoede stryd heers tussen die top aanspraakmakers om uiteindelik tussen die boonste vier te eindig.
– Die verdedigende Castle Carltonbeker kampioen, Naka Bulle, se onverwagse nederlaag teen Harlequins het iets van alle moontlike scenarios opgelewer. Soos dit hoort, was daar klipharde en genadelose spel. Maar daar was ook soms ernstige leemtes aan beide kante, terwyl die wedstryd ongelukkig ook nie vrae oor die wedstrydbeamptes kon vryspring nie.
Harlequins het waarskynlik hul beste span tot dusver vanjaar in die veld gestoot, terwyl hul verdediging dramaties verbeter het teenoor die vorige week se vertoning teen die Northam Wolwe.
Hoewel Naka Bulle die skrums oorheers het, kon hulle nie dié voordeel behoorlik gebruik nie, terwyl substandaard verdediging hulle ook duur te staan gekom het. Dan was daar die gebrekkige fokus, soos die sewe punte wat verbeur is toe buitesenter JJ Mothlodi die bal verloor het nadat hy reeds oor die doellyn was.
Die feit dat die wedstryd na Vrydagaand geskuif is en in yskoue weer gespeel is, het waarskynlik ook die standaard van die rugby beïnvloed.
– In die weste van die stad het Centurion weer op die wenpad gekom na ’n paar moeilike weke, toe hulle die Grizzlies van Tuine op laasgenoemde se tuisveld met 59-40 geklop het.
Die tuisspan het eerste bloed geruik toe hul puik heelagter, Juandré Kleynhans 80 meter ver genael het om te druk nadat hy ’n aangee onderskep het.
Centurion het oudergewoonte so gou moontlik teruggeslaan en self gaan druk, waarna hulle stelselmatig beheer oor die wedstryd oorgeneem het.
Die besoekers se vierde drie vir die bonuspunt het reeds na 25 minute se spel gekom en teen rustyd het hulle nóg twee drieë bygevoeg om met 42-14 voor te loop.
Na rustyd het Centurion vir ’n kwartier lank die kluts effens kwyt geraak en die tuisspan het dié geleentheid gebruik om met puik aanvallende spel drie keer te druk, wat beteken dat hulle ten minste ’n bonuspunt verseker het.
Opwindende hardlooprugby het aan beide spanne kans gegee om nog ’n paar keer die doellyn te haal, maar ongelukkig was die verdediging weerskante ook nie heeltemal op standaard nie. Soos voorheen genoem sal veral die Grizzlies drasties aan hul verdediging moet werk as hulle, soos velrede jaar, weer ’n verrassing of twee wil oplewer voor die einde van die toernooi.
– In Skeerpoort het die twee Northam spanne, die Wolwe en die Rhinos, mekaar nie net in ’n Carltonbeker ligawedstryd aangevat nie, maar intern ook om die sogenaamde “CEO-Cup” (van die Northam Groep) meegeding.
Die “ouboet” van die twee spanne, die Rhinos van Setaria, het uiteindelik met 44-27 geseëvier.
Hoewel die Wolwe eerste punte op die telbord gehad het danksy ’n strafdoel deur heelagter Werner Barnard, het Percy Williams kort daarna sake gelykop gemaak.
Die Rhinos se veteran haker, Kwezi Mkhafu, was die eerste man wat die doellyn kon haal toe hy halfpad deur die eerste helfte gaan druk het.
’n Drie aan elke kant het die rustydtelling op 15-10 in die guns van die besoekers te staan gebring.
Hoewel die eindtelling suggereer dat die Rhinos die wedstryd oorheers het, was dit inderdaad nie werklik die geval nie. Die manne van Setaria het waarsynlik net hul kanse beter gebruik en met groter fokus beter afgerond, maar hierdie was inderdaad ’n klipharde stryd, wat in die toekoms nog ’n legendariese derby kan word in die Carltonbeker liga.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.