Naka Bulle neem wraak teen Centurion, Quins klop Tuks
Terwyl Naka Bulle die afgelope naweek weer die voortou geneem het op die Castle Carltonbeker punteeer met hul groot oorwinning oor Centurion, het Harlequins ook hul posisie verstewig met ’n puik sege oor Tukkies.
Dit lyk of Harlequins besig is om hul seisoen om te keer en weer ernstige aanspraakmakers te word vir ’n plek in die halfeindrondte van die Castle Carltonbeker toernooi, nadat daar teen einde Mei nog ’n groot gaping tussen dié klub en die top vier op die punteleer was.
Twee agtereenvolgende bonuspunt-oorwinnings het Gert Mulder se Blokkiestuie egter nou by beide die Northam Wolwe en Centurion laat verbyskuif en as die nuwe punteleer later vandeesweek verskyn sal hulle in die derde plek lê.
– Ruan van Rensburg en sy makkers het Saterdag op hul tuisveld ’n hardnekkige aanslag van Tukkies afgeweer om uiteindelik met 31-26 te wen.
Die studente het vroeg probeer om die tuisspan van hul voete te hardloop. Harlequins se verdediging het egter gehou en dit was hul voorreg om diep in dié helfte die eerste punte aan te teken via ’n lynstaan dryfbeweging.
Hul tweede drie het kort daarna ook van ’n vaste faset – dié keer ’n skrum – gevolg, toe heelagter Sema Yafele aan die blinde kant van die skrum deurgeglip het. Dit het beteken dat die tuisspan met ’n voorsprong van 14-0 kon gaan water drink.
Tuks het na rustyd verwoed begin aanval en hul eerste punte met ’n drie ná verskeie fases in die rooi gebied aangeteken.
’n Hanteerfout deur Tuks het aan Quins se groot senter, Divan Esterhuizen, die kans gebied om die bal deur te skop tot in die doelgebied, waarna hy daarop kon duik om sy span se derde drie te druk.

Foto: Facebook
Tuks se tweede drie deur flank Kamohele Tlome het gekom toe die studente die tuisspan aan die slaap gevang het met ’n vinnige ingooi by ’n lynstaan, waarna die bal 70 meter gedra is vir die drie.
Quins het vier minute later terggeslaan met hul bonuspunt drie deur die ou staatmaker, Carling Forwood, wat deesdae weer puik rugby speel.
Hoewel Tuks in die laaste sewe minute twee keer gaan druk het om self ’n bonuspunt te verseker, was dit net te min té laat, terwyl die toekenning van hul derde drie waarskynlik in elk geval ’n glips van die skeidsregter was, wat twee oortredings in die laaste beweging misgekyk het.
– Centurion se ondersteuners het waarskynlik rede tot kommer, nadat hul span Saterdag hul vierde nederlaag van die seisoen gely het ná ’n aanvanklike goeie begin met vier agtereenvolgende oorwinnings vanjaar.
Naka Bulle, wat in die eerste week van die toernooi in Aprilmaand onverwags teen Centurion verloor het, het Saterdag op laasgenoemde se tuisveld wraak gemeem deur Albert Bakker en sy spanmaats met 68-28 te klop. In die proses het die verdedigende kampioen tien drieë ingeryg, terwyl Centurion self slegs vier keer agter die doellyn kon gaan kuier.

Foto: Frans Lombard
Marinus van der Watt se manne het sommer vroeg hul stempel afgedruk toe die groot agtsteman, JJ Scheepers, na slegs drie minute se spel oor die doellyn gestorm het.
Centurion, wat gewoonlik oor die vermoë beskik om dadelik terug te slaan as hulle punte afstaan, kon eers na ’n kwartier se spel – en ná die besoekers se tweede drie – hul eerste besoek aan die doelgebied bring toe Maxwell Osborne gaan druk het.
Die tuisspan se ondersteuners het moed geskep toe die ánder Osborne in die span, die groot senter, Kevin, halfpad deur die eerste helfte oor is vir hul tweede drie.

Foto: Verskaf
Hoewel Naka Bulle nog drie keer gaan druk het en reeds hul bonuspunt verseker het teen rustyd, was die tuisspan nog nie uit die prentjie nie. Hul derde drie het die rustydtelling op 31-21 in die guns van die manne van die Moot te staan gebring.
Naka Bulle het hul oorheersing in die vaste skrums in die tweede helfte ten volle benut en ook volle beheer begin uitoefen in die algemene spel. Hulle het ’n verdere vyf drieë ingeryg, wat ’n strafdrie insluit.
Centurion kon slegs een keer die doellyn haal in die tweede skof, maar dit het ten minste aan hulle ’n bonuspunt besorg, wat verseker dat hulle steeds onder die top vier op die punteleer tel.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
