Permutasies verander drasties ná verrassings in Carltonbeker toernooi
Twee verrassende uitslae die afgelope naweek het veroorsaak dat die Castle Carltonbeker toernooi se halfeindrondte kandidate moontlik eers ná die heel laaste rondte van die ligabepalings bekend sal wees.

Die Castle Carltonbeker toernooi stuur af op ’n spannende en interessante laaste vier weke voor die halfeindrondte op 17 Augustus aanbreek.
Tuks het onverwags vir hulself teoreties ’n kans op ’n plek in die halfeindrondte geskep met hul bonuspunt oorwinning oor Centurion en as die studente al vier hul laaste wedstryde met bonuspunte wen, sal hulle verseker wees van ’n halfeindstryd plek.
Die permutasies is trouens só interessant dat slegs die Northam Rhinos en Naka Bulle reeds hul halfeind plekke bespreek het. Teoreties kan enige twee van Harlequins, Centurion, Northam Wolwe en Tuks nog die ander twee plekke inneem, terwyl die Grizzlies van Tuine die enigste klub is wat uit die wedloop is. Húlle kan egter nog ander se kaarte deurmekaarkrap in hul laaste twee bepalings teen Tuks en die Northam Rhinos.
– Die twee voorste spanne, Naka Bulle en die Northam Rhinos, het mekaar die naweek op eersgenoemde se tuisveld in die Moot gepak.
Na nóg ’n Calrtonbeker wedstryd wat vol opwinding was en spannende geëidnig het – en ongelukkig wéér ’n skeut omstredenheid as deel van die mengsel bevat het – het die Bosvelders met 44-39 gewen.
Die twee top spanne in die toernooi het mekaar behoorlik gekarnuffel en teen rustyd was die tuisspan met 28-20 voor, met die bonuspunt reeds in die sakkie.
Vroeg in die tweede helfte was Naka Bulle op ’n stadium met 33-20 voor, maar soos ’n mens gewoond geraak het aan die Bosvelders, gee hulle nie maklik oor nie. Terwyl hulle met waaghalsige rugby die bal rondgegooi het, het die tuisspan se verdediging ’n paar keer teleurgestel en die drieë het net te maklik gekom.
Die geluksgodin was ook aan die besoekes se kant en ’n onderskepdrie teen die verloop van spel het uiteindleik die verskil gemaak.
Naka Bulle het nou twee weke om hul wonde te lek en beplanning te doen, voordat hul laaste ligabepaling teen Tuks op 3 Augustus gespeel word.

Foto: Koos Venter
– Centurion bly die anomaliese span in vanjaar se toernooi. Dié span van Riaan Brand speel weekliks positiewe rugby, maar hul verdediging lek eenvoudig te veel drieë en daarmee plaas hul net te veel druk op hulself.
Dié kwaal én onakkurate skopwerk het wéér die manne uit die suide van die stad se ondergang beteken toe hulle Saterdag in die Tuks rugbystadion deur die tuisspan met 47-27 geklop is.
Vars vanaf hul bronsmedalje vertoning by die Universiteite Sport SA (USSA) toernooi het Tuks Saterdag met nuwe selfvertroue teen Centurion uitgedraf en dit het hulle net minder as vier minute geneem om die eerste drie van die wedstryd te druk.
Centurion het oudergewoonte teruggeveg en die volgende punte aangeteken, nadat hulle daarin geslaag het om die speltempo effens stadiger te maak.
Tuks se tweede drie het eers na ‘n halfuur se spel gekom, ná fasespel in die rooi gebied en hul derde was ’n langafstand drie teen die verloop van spel. Teen rustyd was die studente dus voor met 21-7.
Na rustyd het Tuks weer die tempo begin opjaag en dit het sommer gou tot hul bonuspunt drie gelei, maar Centurion het wéér hul merkwaardige vermoë gewys om direk na ’n terugslag aan te val en punte aan te teken.
Die wedstryd het in die laaste kwartier skielik nuwe lewe gekry met albei spanne wat aanvallend bly speel het. Centurion se bonuspunt drie het gekom met tien minute speeltyd oor, maar ongelukkig het hulle, soos twee weke gelede teen die Northam Rhinos, weer baie punte verbeur met onakkurate skopwerk.
Met vyf minute speeltyd oor het Centurion wéér gaan druk en op daardie stadium het albei spanne vyf keer agter die doellyn gaan kuier, maar terwyl Jeandré Burger al Tuks se drieë verdoel het, kon Centurion slegs een keer so maak.
Twee drieë in die laaste drie minute het Tuks se oorwinning indrukwekkender laat lyk as die realiteit.
– En daar doen die Grizzlies dit sommer twee keer na makaar. Dis nou om ’n top aanspraakmaker op ’n plek in die halfeindrondte te klop. Hierdie keer het Mick Helena se manne dit in ’n weg wedstryd gedoen, toe hulle die Northam Wolwe Saterdag op hul tuisveld in Skeerpoort met 36-34 verras het.
Die Grizzlies het oudergwoonte vinnig begin en na ‘’n kwartier se spel was hulle reeds met 15-0 voor na twee drieë en ’n strafdoel.
Vir die tuisspan het hul eerste punte met ’n drie halfpad deur die eerste helfte gekom, maar kort daarna het die besoekers weer die druk opgelaai met hul derde drie, wat die halftydtelling op 20-7 in die Grizzlies se guns te staan laat kom het.
Die myners van Skeerpoort het in die tweede helfte teruggeveg en na twee drieë was die agterstand basies uitgewis, terwyl hule kort daarna vir die eerste keer die voortou geneem het met hul bonuspunt drie.
Hierop het die besoekers met twee strafdoele en hul eie bonuspunt drie geantwoord.
Toe Gladwell Jaftha in die 78ste minuut ’n skepdoel deur die pale jaag, het die tuisskare begin feesvier, maar Grizzlies se Rodwell Baadjies het die laaste sê gehad toe hy die wenpunte in die doodsnikke met ’n strafdoel aangeteken het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.