Nuwe Super Klubrugby liga gereed vir aksie
Die droom van ’n semi-professionele klubrugby toernooi oor provinsiale grense het verelde week ’n werklikheid geword toe die Castle Superliga by Loftus Versfeld bekendgestel is.
Rugby in die noorde van die land het ’n nuwe era van semi-professionele rugby op klubvlak betree toe die interprovinsiale Castle Superliga verlede week amptelik by Loftus Versfeld bekendgestel is.
Na maande se bespiegeling en bespreking in klubrugby geledere is die Castle Superliga nou ’n werklikheid en die aksie skop reeds op Saterdag 15 Februarie af met die eerste groepwedstryde.
Nadat die Centurion rugbyklub aan die nuwe kompetisie onttrek het, sal die Blou Bulle nou net deur drie klubs verteenwoordig word. Dit is Naka Bulle, Harlequins en die Grizzlies van Tuine.

Foto: Koos Venter
Die res van die 12 deelnemers is die rugbyklubs van Brakpan, Springs, Vereeniging en NWU Vaal, wat almal die Valke Rugby-unie verteenwoordig, die Northam Rhinos en die Louis Trichardt rugbyklub van die Limpopo Blou Bulle, die Northam Wolwe van Skeerpoort en Sibanye Stillwater rugbyklub van Rustenburg (Luiperd Rugby-unie), asook die Sasol Secunda rugbyklub uit die geledere van die Pumas Rugby-unie.
’n Reuse geelwortel van groot prysgeld vir die drie klubs wat in die eerste drie plekke in die kompetisie eindig, maak hierdie toernooi uniek.
Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugby-unie en die dryfkrag agter die totstandkoming van die toernooi, het tydens die bekendstellingsgeleentheid gesê dat toernooi-prysgeld eintlik ’n vreemde konsep in rugbygeledere is.

Foto: Koos Venter
“Rugbyklubs, -unies en selfs internasionale spanne is daaraan gewoond om slegs vir eer en trofees te speel. Hierdie kompetisie sal dus uniek wees met die prysgeld wat op die spel is,” het Strauss beklemtoon.
Volgens Strauss streef hulle daarna om hierdie toernooi metteryd uit te brei om inderdaad die ekwalent te word van die Varsitybeker toernooi vir klubs wat nie aan tersiêre instansies verbonde is nie.
Hy glo ook dat hierdie toernooi ’n verdere bydrae kan maak om aan spelers wat nie direk na skool deur die professionele en Varsitybeker strukture opegraap is nie, ’n tweede kans sal bied om raakgesien te word.

Foto: Koos Venter
’n Totale bedrag van R500 000 sal as prysgeld beskikbaar wees, met die kampioen wat R300 000 daarvan sal ontvang, die naaswenner wat R150 000 sal kry en die span wat ’n uitspeelstryd om die derde plek wen wat met R50 000 beloon sal word.
Nadat daar aanvanlik beplan is om al die wedstryde op die SuperSport Schools kanaal te stroom, het ’n logistieke probleem veroorsaak dat ander planne gemaak moet word. Intussen is besluit om ’n YouTube kanaal vir die Blou Bulle Rugby-unie te skep waar wedstryde gratis gestroom sal word en om hierdie rede sal daar weekliks drie afskoptye op wedstryd-dae wees.
Die aksie skop af die naweek van 15 Februaire, waarna groepwedstryde ook op die naweke van 22 Februarie en 8 Maart sal plaasvind. Die halfeindstryde tussen die top spanne in elke groep vind op 15 Maart plaas, terwyl die eindstryd en uitspeelwedstryd vir die derde plek op 22 Maart beslis sal word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
