Tuine Tiere bied weer boks-aksie met opwindende amateur toernooi
Tuine Tiere bied eerskomende naweek weer ’n opwindende amateur bokstoernooi in Suiderberg aan.
Ten spyte van die ruim media-dekking wat ander gevegskuns sportsoorte kry, is daar nuwe belangstelling in amateurboks en daarom is dit weer tyd vir opwindende boks-aksie by ’n amptelike toernooi vir alle ondersteuners van hierdie sport in Pretoria.
Die Tuine Tiere Boksklub se eerste amateur toernooi van die jaar word op Saterdag 8 Maart by die ou Duiweklub-gebou op die hoek van Denyssenlaan- en Sannaspos strate in Suiderberg in die weste van Pretoria aangebied.
Soos gebruiklik word die toernooi aangebied om fondse in te samel vir die klub, maar dit bied ook ’n geleentheid aan opkomende jong amateurboksers vanoor die hele Gauteng om amptelike blootstelling te kry.
Hierdie toernooi sal weer die formaat van ’n “Box&Dine” aanneem, wat beteken dat toeskouers wat kaartjies koop ook getrakteer sal word op ’n driegang maal rondom tafels wat in die saal om die kryt uiteengesit word. Om hierdie rede sal geen ‘koelbokse’ toegelaat word nie.
Lede van die Tuine Tiere boksklub sal op die toernooi te staan kom teen boksers van ander klubs in die Pretoria gebied, terwyl inskrywings van klubs uit ander dele van Gauteng ook verwag word.
Die deure open om 18:00 en die aksie sal om 18:30 begin. Volop spasie vir parkering en genoegsame sekuriteit sal beskikbaar wees.
Voornemende toeskouers moet kennis neem dat kaartjies vooraf gekoop moet word. Vir navrae, kontak Helgaard by 072-574-5041.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
