Local sportSport

Nuwe era breek aan vir Noordelikes rugbyklub

’n Nuwe era het aangebreek vir die Noordelikes rugbyklub, slegs drie jaar nadat daar deur die nuwe bestuur in die post-Covid tydperk basies van vooraf begin moes word om dié tradisieryke klub te herbou.

Toe die Noordelikes rugbyklub in 2022 na verskeie maer jare weer hul kop optel om onder nuwe bestuur van nuut af te begin, was daar baie wat skepies gestaan het teenoor dié poging.

Met ervare klubrugby-manne soos Johan Beukes (voorsitter) en Pote Fourie (president) aan die stuur, en baie harde werk, het Noordelikes egter gewys dat daar genoeg talent in dié area is om nie net ’n gesonde rugbyklub te bedryf nie, maar dat die klub inderdaad die volgende sluimerende reus in Bloubul klubgeledere kan wees.

Na hul sukses van twee Reserweliga eindstryde in 2022 het Noordelikes steeds van krag tot krag gegaan, ten spyte van die feit dat die manne aan die stuur van sake hoofsaaklik al die logistieke uitdagings self moes aanpak. Dinge soos die onderhoud van die velde en terrein, reël van wedstryde en rugbydae, asook die instandhouding en opgradering van fasiliteite gebeur nie vanself nie. Dis egter met onderskeiding deur die nuwe bestuur hanteer.

Intussen het sake op die veld ook gegroei en die gemeenskap van die Noorde se trots op hul eie rugbyklub het stadig maar seker begin herstel.

Weens die reuse potensiaal van die omgewing het Noordelikes se bestuur drie jaar gelede reeds duidelik gesê dat hul oor die langer termyn dié klub nie net wil vestig as ’n krag op die veld nie, maar ook as ’n gemeenskapsklub waarheen die mense van die Noorde vir rugby, netbal én sosiale verkeer gelok sal word.

Deel van die visie was dat Noordelikes op die medium termyn sterk genoeg sal wees om vir die Carltonbeker liga te kwaifiseer.

Beukes glo steeds dat hierdie doelwit bereikbaar is en daarom het hulle die geleentheid aangegryp om vanjaar reeds een stap hoër te mik.

Johan Beukes, voorsitter van Noordelikes rugbyklub (middel) saam met sy twee nuwe ondervoorsitters. Links is die ervare Richard Janse van Rensburg (ondervoorsitter: administrasie) en regs is Cheiyne Middleton (ondervoorsiter: rugbysake).
Foto: Koos Venter

Met die instemming van die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU) sal Noordelikes se eerste- en tweedespanne vanjaar in die Carltonliga meeding. Hoewel hul nie in die top liga sal speel nie, sal 2025 hopelik die seisoen wees waartydens Noordelikes sterk genoeg sal groei om wel binne die volgende seisoen of twee volledig as Carltonbeker klub hul man te kan staan.

Vanjaar sal die reëling wees dat Noordelikes se eerstes in die Carltonbeker se tweedespan-liga sal komtepeer, terwyl hul tweedes teen Carltonbeker klubs se derdespanne sal kompeteer.

Noordelikes sal egter vier senior spanne akkomodeer. Daarom is hul derdespan ingeskryf in die BBRU se Reserweliga (Cup-afdeling) en hul vierdespan sal in die Reserweliga se Shield-afdeling speel.

Om hul voorbereiding reg te kry as toekomstige Carltonbeker klub bied Noordelikes ook vanjaar aan o.20 spelers die geleentheid om via dié klub in die BBRU se gesogte se suksesvolle o.20 klubliga te speel, nadat die klub ’n junior span vir die o.20 Carltonbeker Shield-liga ingeskryf het. Behalwe vir die ooglopende voordele wat die klub op die langtermyn uit ’n o.20 span kan put, bied dit ook aan juniors in die gemeenskap die geleentheid om naam te maak in ’n gesogte junior klubliga.

Die bestuur het ook besluit om een van die mees ervare rugby-administrateurs in Pretoria, Richard Janse van Rensburg, aan te stel om die administrasie te hanteer. Hy sal die pos van ondervoorsiitter belas met administrasie vul.

Beukes sal ook deur ’n tweede ondervoorsitter bygestaan word. Cheiyne Middleton sal die pos van ondervoorsitter belas met rugbysake hanteer.

Intussen het Noordelikes ook bekendgemaak dat die klub oor die langnaweek van 21 & 221 Maart ’n toernooi sal aanbied waaraan klubs vanoor Gauteng, Mpumalanga en Noordwes sal deelneem. Voorlopig sal klubs soos Hartbeespoort, Oos-Rand Polisie, Eersterust, Knights, Delmas en TUT betrokke wees, terwyl die jaarlikse Gemeenskapsbeker-trofee wedstryd tussen Noordelikes en Westelikes ook tydens dié geleentheid afgehandel sal word.

Vir meer besonderhede oor Noordelikes se planne en oefentye, skakel Johan Beukes by 079-247-0501.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button