Naka Bulle en Northan Rhinos wys hul krag, speel in vierde eindstryd teen mekaar
Ná drie moordende liga-rondtes en twee strawwe halfeindstryde het die Naka Bulle van Pretoria en die Northam Rhinos van Setaria naby Thabazimbi weer na vore getree as die twee finaliste in nóg ’n klubrugby toernooi – dié keer die nuwe interprovinsiale Castle Super klubreeks.
As daar ooit twyfel was oor die status van die Naka Bulle rugbyklub en hul aartsvyande uit die Bosveld, die Northam Rhinos, as waarskynlik die twee beste rugbyklubs in Suid-Afrika, het hulle hul saak die afgelope naweek weer duidelik gestel in die halfeindstryde van die nuwe interprovinsiale Castle Super klubliga.
Dié twee klubs sal eerskomende naweek op Naka Bulle se tuisveld in die Moot van Pretoria op die veld draf in hul vierde klubrugby eindstryd in drie seisoene, nadat hulle die afgelope naweek albei hul halfeindstryde in die nuwe liga gewen het.
Hierdie twee makro-rugbyklubs het die afgelope twee jaar tweemaal in die Carltonbeker eindstryde ontmoet, terwyl hulle verlede jaar ook in die nasionale Gold Cup eindstryd kragte gemeet het. Naka Bulle het al drie dié wedstryde gewen.
As die twee spanne se vertonings in die Castle Super klubliga op die keper beskou word, behoort die manne van die Moot eerskomende Saterdag weer die gunsteling te wees. Hulle het op ’n drafstrap deur die groepfase van die kompetisie gekom en met tellings soos 85-24 (teen Secunda); 73-29 (teen Springs) en 62-29 (teen Vereeniging) vir die halfeindstryd gekwalifiseer.
Daarenteen het die Rhinos ’n paar harde tweestryde gehad. In hul eerste wedstryd teen NWU Vaal het hulle redelik maklik (38-12) gewen, terwyl hulle ook nie baie gesukkel het om Louis Trichard met 40-24 te klop nie. Twee weke gelede moes die Rhinos egter tot in die doodsnikke swoeg om Brakpan met 36-33 te klop.

Foto: Hein Roos
Die afgelope naweek het Marinus van der Watt se Naka Bulle hul spiere gebult en agt keer die doellyn oorgesteek om Brakpan met 54-5 te klop in die halfeindstryd. Die manne van die Oos-Rand moes tot 10 minute in die tweede helfte wag om hul enigste punte te kon aanteken.
In teenstelling met die Pretorianers se maklike oorwinning, het die Rhinos klippe gekou op hul tuisveld in Setaria, waar hulle teen hul kamerade van Skeerpoort, die Northam Wolwe, te staan gekom het.
Die Wolwe is waarskynlik daarop uit om ’n punt te bewys, nadat hulle vroeër weens onverkwiklike rugby-politiek onseremonieël uit vanjaar se Carltonbeker liga geskop is. Twee minute voor die eindfluitjie in Saterdag se halfeindstryd het die vlam van hoop nog vir Riaan Brand se manne gebrand toe die wedstryd met die telling op 29-26 in die guns van die Rhinos in die weegskaal gehang het.
Beide spanne het in daardie laaste twee minute gaan druk, wat die eindtelling op 36-31 in die guns van die Rhinos te staan gebring het.
Die Rhinos is bekend as ’n span wat in elke wedstryd tot die bitter einde veg, maar hulle sal – soos die afgelope naweek – weer ’n bietjie geluk ook nodig hê as hulle uiteindelik die eindstryd-vloek teen die Moot se manne wil breek.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
