Noodelikes lyk reg vir Carltonbeker seisoen ná Rugby Fiesta toernooi
Terwyl die Noordelikes rugbyklub die afgelope naweek met groot sukses ’n tweedaagse interprovinsiale toernooi aangebied het, kan daar uit hul vertonings moed geskep word vir die groot stap na deelname in hoër ligas wat vanjaar vir hul twee top senior spanne voorlê.
Die Noordelikes rugbyklub se Rugby Fiesta toernooi, wat die afgelope langnaweek by die klub aangebied is, het nie net bewys dat die Blou Bulle se Presidentsliga vanjaar ’n baie interessante kompetisie gaan wees nie, maar ook dat dié klub in Pretoria-Noord reg is vir hul waagstuk om vanjaar die Carltonbeker liga aan te durf.
Hoewel Noordelikes nie teen die top spanne in die Carltonbeker liga gaan kompeteer nie, sal hul eerste- en tweedespanne behoorlik getoets word teen die tweede- en derdespane van die top Carltonklubs.
Met die Blou Bulle se ligaseisoen wat eerskomende naweek afskop, het verskeie spanne van klubs soos Noordelikes, Westelikes, Tukkies, TUT, Harlequins, Grizzlies, Knights, Eersterust, Brits, Silver Valke, Hartbeespoort, Warmbad en Delmas almal gedeel in die aksie by die Rugby Fiesta toernooi, wat op die velde van Noordelikes aangebied is.
Klubs soos die Knights uit die ooste van Pretoria en Hartbeespoort het by die toernooi ook gewys dat hulle vanjaar hul stemme gaan dik maak in die Bulle se Presidentsliga.
Noordelikes en die Knights se o.20 spanne het die diepte van dié twee klubs bevestig, terwyl die Grizzlies van Tuine en TUT se o.20 spanne ook in aksie was tydens die naweek se toernooi.
Die aksie is afgesluit met ’n tradisionele derby tussen Noordelikes en Westelikes, waar daar om die Noord-Suid trofee (aanduidend van die spanne se ligging aan weerskante van die Magaliesberg) meegeding word. Hoewel Westelikes aanvanklik goed van hulself rekenskap gegee het, het die tuisspan stelselmatig die oorhand gekry en uiteindelik met 38-6 gewen.
Noordelikes, wat in 2022 met ’n knal in hul 75ste herdenkingsjaar teruggekeer het na aksie, nadat faktore soos die Covid krisis vir ’n seisoen of twee tot dormansie gelei het, kan baie trots wees op die groei wat daar intussen by die klub was.
Vanjaar sal Noordelikes met ses spanne – vyf senior en een o.20 – by verskeie ligas van die Blou Bulle betrokke wees. Intussen is die klub se voorsitter, Johan Beukes, ook verlede jaar as vise-voorsitter verkies op die Blou Bulle se bestuur. Hy hanteer die portefuelje van Presidents- en Reserweliga klubs.
Die klub se belowende jong hoofafrigter, Dillan Hanefey, is boonop verlede jaar vir twee seisoene aangewys as afrigter van die Bulle se verteenwoordigende Platteland span.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.











