Na terugslae plant oud vroue-bokser haar vlag op bergspits in Nepal
Pretoria se bekendste oud vroue-bokser het onlangs gewys dat dit nie net in die bokskryt is waar sy haar durf en deursettingsvermoë beproef nie, maar dat sy ook bereid is om groter uitdagings aan te durf.
Aanhouer wen, sê die spreekwoord.
Die fiksheid-ghoeroe en oud vroue-bokser van Tuine, Liz Butler, se verhaal om die hoë bergspitse van die Himalaja gebergte te oorwin, getuig van die waarheid in hierdie gesegde.
Butler bedryf deesdae ’n gimnasium op die skoolgrond van HTS Tuine, waar veral behoeftige skoolkinders en ander lede van die gemeenskap die geleentheid kry om onder professionele omstandighede fikser en sterker te word.
Enkele jare gelede is Butler deur sommige van haar studente aangemoedig om ’n waaghalsige uitdaging te aanvaar, waarmee sy ook geld vir die gimnasium, haar fiksheidsprogramme en die skool se voedingsprogram kon insamel. Toe vat sy Afrika se hoogste bergpiek, Kilimanjaro, aan en oorwin dit met die eerste probeerslag.
Daarna het Butler begin soek na ander uitdagings. Haar eerste twee pogings om die Himalaja gebergte aan te durf, is deur Covid en ’n besering gestuit, maar opgee was nie deel van haar plan nie.

Foto: Verskaf
Butler het ná die besering van vooraf begin oefen, terwyl sy weer fondsinsamelings gehou het om terug te keer na die Himalajas, waar sy sou poog om die spits van die Island Peaks, nie ver vanaf Berg Everest nie, te bereik. Owerhede het onlangs die reëls verander en avonturiers moet deesdae eers twee bergspitse van ’n hoogte tussen 6000m en 6500m oorwin voordat die wêreld se hoogste spits van 8850m aangedurf kan word.
Island Peaks is 6200m hoog. Butler en haar gids het kort na middernag hul laaste tog vanaf die basiskamp aangedurf. Dié finale roete het sowat 12 uur geduur en hulle het die middag net na 13:00 weer die Dingboche oornagkamp bereik.
“Dit was uitmergelend. Ek was langer as 24 uur wakker en al die pad aktief. Daar was meer as uitputting betrokke. Ek het in die proses drie toonnaels verloor. Maar ek kon met die genade van Bo vasbyt en die tog voltooi,” het Butler aan Rekord vertel.
So, wat is volgende vir dié oud bokser wat deesade ook ’n avonturier geword het?
“Ek droom steeds van Everest, maar ek moet eers nog ’n spits van meer as 6000m oorwin. Ek kyk tans na geleenthede om die Khosar Gang berg (6400m) in die noorde van Pakistan aan te druf en as my planne reg uitwerk sal ek dit moontlik reeds in Mei vanjaar aanpak”, het Butler verduidelik.
Intussen neem sy aan elke moontlike ‘Trail Running’ wedloop deel, terwyl sy twee weke gelede ook die Om die Dam ultra marathon in Hartbeespoort aangepak het. Daar is selfs ’n moontlikheid dat sy vanjaar ook die Comrades marathon kan aandurf.
“Ek glo dat geleenthede soos hierdie genade van Bo is en dat ’n mens dit moet gebruik. Solank ek die mense van my gemeenskap kan help, sal ek voortgaan om in geloof soorgelyke projekte aanpak,” het Butler beklemtoon.
By haar is daar geen twyfel oor haar eie vermoëns nie en teen hierdie tyd het sy ook baie van haar vriende en borge oortuig dat Liz Butler nie maklik terugdeins vir selfs die moeilikste van uitdagings nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.


