Local sportSport

Jong amateur boksers lok stampvol saal na ‘Box & Dine’

Tuine Tiere en Backhouse Boxing se ‘Box & Dine’ toernooi, wat die afgelope naweek in die skoolsaal van Laerskool Stephanus Roos aangebied is, het nie net alle verwagting in die kryt oortref nie, maar ook ten opsigte van die publiek se ondersteuning.

As daar nog enige twyfel was dat amateur boks in Suid-Afrika tans ’n nuwe bloeitydperk beleef, het die 28 boksers by die afgelope naweek se ‘Box & Dine’ toernooi van Tuine Tiere en Backhouse Boxing in Sinoville dit wéér onderstreep.

Trouens, daar was inderwaarheid meer as 28 deelnemers, want behalwe vir die 13 amptelike gevegte was daar ook nog twee vertoongevegte as aksie-aptytwekkers vir die toeskouers rondom die kryt.

Van toeskouers gepraat, die oorweldigende ondersteuning wat die toernooi geniet het, is ’n verdere bewys dat die publiek se belangstelling weer geprikkel is vir boks-aksie. Die tafels is almal uitverkoop en meer as 300 gaste het vanaf laatmiddag bankvas rondom die bokskryt in die skoolsaal van Laerskool Stephanus Roos gesit om die boksers te ondersteun.

Twee voormalige wêreldkampioene van Pretoria het Saterdagaand die jong amateur boksers ondersteun by die “Box & Dine” toernooi in Sinoville. Hulle is Sebastiaan Rothmann (links), voormalige WBU en IBO junior swaargewig (cruiserweight) kampioen en Danie Venter, voormalige WBF junior swaargewig kampioen. In die middel is Charles Backhouse, wat vir albei dié boksers ’n mentor was en wat steeds by afrigting betrokke is.
Foto: Koos Venter

“Ons was oorweldig en dankbaar vir die goeie ondersteuning. Dis eintlik jammer dat ons nie meer tafels in die saal kon inpas nie, want ons moes ongelukkig mense wegwys wat tot Saterdagoggend nog kaartjies wou koop,” het die hoof organiseerder van die toernooi, Charles Backhouse, aan Rekord gesê.

Hieruit blyk dit duidelik dat die “Box & Dine” konsep, waar toeskouers by tafels aansit en deur die loop van die toernooi ook met ’n driegang maaltyd bedien word, beslis baie gewild is.

Die toernooi het ook weer bewys dat die boksgemeenskap mekaar ondersteun om die sport weer tot sy regmatige plek te herstel. Sowat 16 oud boksers, waaronder verskeie voormalige nasionale en provinsiale kampioene, was almal teenwoordig. Onder hierdie legendes van die sport het getel twee voormalige junior swaargewig (cruiserweight) wêreldkampioene, Stebastiaan Rothmann en Danie Venter.

Deelnemers het ook uit drie verskillende provinsies gekom en behalwe vir die gasheer klub, het boksers van klubs buite Pretoria uit gebiede soos Brakpan, Alberton, Krugersdorp, Middelburg, Tzaneen en Pietersburg ingeskryf. Dan was daar ook boksers van plaaslike klubs soos TUT boksklub en Pretoria-Noord boksklub.

In die kryt het die aksie beslis ook alle verwagtinge oortref. Hoewel daar geen behoorlike uitklophou gesien is nie, is vyf van die gevegte vroeg deur skeidsregters beëindig, terwyl daar twee gevalle was waar boksers se helpers die handoek moes ingooi.

Die res van die wenners in die 13 amptelike gevegte op die program is deur middel van punte-beslissings bepaal.

Jong boksers van die Tuine Tiere klub soos Sebastiaan Brown (59kg kategorie) en Isyis Rossouw (76kg kategorie) het met indrukwekkende vertonings die oog gevang.

Die hoofgeveg in die 78kg kategorie tussen Tuine Tiere se opkomende ster, Johnathan Swart en die Zimbabwiese kampioen, Christian Ndhlovu, het die toeskouers telkens op hul voete gehad het. Dié twee manne het mekaar behoorlik opgedreun. Ndhlovu, wat in die eerste rondte reeds in die moeilikheid was, het sterk geëindig om uiteindelik die geveg te wen.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button