Rugbylegende Gys Pitzer oorlede
Gys Pitzer, een van die mees geliefde en kleurryke rugbykarakters in die geskiedenis van Bloubul- en Springbokrugby van die veld af, maar ook rateltaai en gevreesde teenstander op die veld, is op Goeie Vrydag oorlede.
Die Blou Bulle se rugbygemeeskap het binne tien dae ’n tweede groot gees verloor, toe die legendariese haker, Gys Pitzer, vroegoggend op Goeie Vrydag op die ouderdom van 85 oorlede is.
Dié kleurvolle rugby-karakter het tussen 1964 en 1970 in 45 wedstryde vir die destydse Noord-Transvaal uitgedraf, terwyl hy tussen 1967 en 1969 in 12 toetse as haker in die middel van die voorry vir die Springbokke gesak het.
Hy het ook vir die Suid-Afrikaanse Barbarians én die destydse Gaselle span gespeel. Dié span was bekend as die sogenaamde “Opkomende Springbokke” en het gewoonlik bestaan uit jong uitblinkers uit provinsiale spanne.
Hoewel hy van die veld af geliefd en gewild was onder spanmaats, teenstanders én rugbyliefhebbers, was Pitzer op die veld ’n man wat vir geen duiwel gestuit het nie. Hy het legendariese status in die Springbok trui verwerf toe hy die beste afgekom het van onderonsies met bekende “meanies” soos die Franse losvoorspeler Walter Spanghero en die haker van Engeland en die Britse Leeus, John Pullin.

Foto: Facebook
Pitzer is in Louis Trichardt in die Soutpansberg-distrik gebore en het later in die Bosveld grootgeword, waar hy aan die Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi gematrikuleer het.
Dié vurige haker het sy naam gemaak in die strawwe Carltonbeker toernooi in Pretoria. Hy was in 1965 kaptein van Oostelikes rugbyklub se span wat die eerste keer in dié klub se geskiedenis alleenwenners van die Carltonbeker kon word, nadat hulle dit die vorige seisoen met Weermag gedeel het.
’n Knaende rugbesering, wat Pitzer reeds as jong man opgedoen het, het hom gedwing om in 1970 uit rugby te tree. Hy het egter by Oostelikes betrokke gebly en was in 1975 ook ’n amptelike keurder van die Noord-Transvaal span.
Na sy speeldae het sy lewe ’n interessante wending geneem. Hy was reeds in sy laat twintigs toe hy besluit het om hom as onderwyser te bekwaam, nadat hy vroeër as elektrisiën by Yskor in Pretoria gewerk het. Daarna het hy ook diep spore in die onderwys getrap, nie net in die klaskamer nie, maar ook as afrigter op die rugbyveld.

Foto: Noord-Transvaal 50
In 1974 was hy die afrigter van HTS John Vorster in die Moot se eerste rugbyspan toe hulle slegs die derde skool uit Pretoria (naas die Afrikaanse Hoër Seunskool en Pretoria Boys High School) geword het om die gesogte Administrateursbeker te kon wen.
Na byna twee dekades as onderwyser is Pitzer tot inspekteur van onderwys bevorder, ’n pos waarin hy uiteindelik tot sy aftrede gedien het.
Pitzer se vrou, Rina, is verlede jaar oorlede. Hy word oorleef deur vier kinders en twaalf kleinkinders. Een van sy kleinkinders, Gysie (seun van Gys se seun, Piet) is verlede jaar enkele dae voor sy ouma aan kanker oorlede.
Detail oor begrafnisreëlings sal later bekend wees, maar volgens aanduidings sal dit op Maandag 28 April (openbare vakansiedag) plaasvind.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
