Grizzlies steeds onoorwonne in Caltonbeker toernooi
Die Grizzlies van Tuine is na drie wedstryde in vanjaar se Carltonbeker liga steeds onoorwonne en hulle staan ’n goeie kans om dalk vir die eerste keer ooit die Lucas Stachan Skild te verower as die liga oor drie weke sy halfpadmerk bereik.
Na die eerste drie rondtes van vanjaar se Castle Carltonbeker klubrugby toernooi is die Grizzlies van Tuine steeds onoorwonne en tans bo aan die punteleer.
Mick Helena se manne het die afgelope naweek gewys dat hul oorwinnings teen Tuks en Centurion in die eerste twee weke van die toernooi geen vloekskote was nie, toe hulle Saterdag op hul tuisveld met 40-elk gelykop gespeel het met die verdedigende kampioen, Naka Bulle.
Trouens, Naka Bulle moes harde bene kou om twee ligapunte met ’n gelykop uitslag te kry. Hul gelykmakende punte het in die laaste minuut van die wedstryd gekom toe die plaasvervanger haker, Christoff Grail, ’n lynstaan dryfbeweging in die hoek afgerond het. Losskakel Hansie Graaff het senuwees van staal gewys deur vanaf die kantlyn te verdoel om die manne van die Moot se eer te red en die gelykop uitslag af te dwing.
Die tuisspan het sommer in die eerste minuut van die wedstryd aan hul bure oos van Es’kia Mphahlele ryaan gewys dat hulle vanjaar ’n harde neut gaan wees om te kraak in hierdie liga. Grizzlies se ster buitesenter, Blanché Terblanché, het vanaf die heel eerste agterlynbeweging van die wedstryd sy ore platgetrek, deur twee verdedigers gebreek en daarna nóg twee verdedigers geklop vir die eerste drie van die wedstryd.
Drieë deur Maxwell Osborne en JJ Motholdi het daarna aan die besoekers die voortou gegee, maar ’n strafdoel deur Rodwell Baatjies en drieë deur Werner Schoeman en Hugo Viljoen het Grizzlies teen rustyd met 24-12 laat voorloop.
Naka Bulle het die druk goed verwerk en na drieë deur Xavier Human en Grail (sy eerste) het hulle weer die pendulum laat swaai.
Die wipplankryery het voortgegaan toe Lusanda Xakwana vir Grizzlies druk om te verseker dat albei spanne hul bonuspunte vir vier drieë sou verdien.
Nog twee stradoelde deur Baatjies het aan die Grizzlies se ondersteuners hoop gegee vir ’n oorwinning, maar Grail en Graaff het die laaste sê gehad om die gelykop uitslag af te dwing.
Die lot van die Lucas Strachan skild, wat aan die span bo-aan die punteleer toegeken word ná die eerste rondte van die toernooi, sal waarskynlik eers op 7 Junie bepaal word. As Grizzlies oor twee weke met Harlequins kan afreken en vyf punte verdien, sal die druk op Naka Bulle en Tuks wees om dié Skild van die manne uit die Weste weg te hou.
Saterdag se wedstryd het ’n spesiale nostalgiese kinkel vir die tuisspan gehad, toe hulle die eerste keer in hul nuwe uitrustig gespeel het. Dié kleure is inderwaarheid ’n terugkeer na hul wortels, aangesien dit ’n replika is van die truie waarin die klub se eerstespan meer as 30 jaar gelede in die vorige eeu uitgedraf het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
