Pretoria se nuutste EFC-kampioen is gereed om sy titel te verdedig
Willie van Rooyen, ’n gebore en getoë Pretorianer, is besig om as die stad se nuwe Gemengde Gevegskuns ster te ontwikkel en hy verdedig op 7 Augustus sy titel as die plaaslike UFC vlieggewig kampioen teen ’n hoogaangeskrewe uitdager uit Oos-Europa.
Terwyl daar blykbaar geen einde aan Gemengde Gevegskuns (wêreldwyd beter bekend as Mixed Martial Arts of MMA in Engels) se groei in gewildheid by die algemene publiek in Suid-Afrika is nie, lyk dit of Pretoria ook in dié sportkode ’n leiersrol vervul.
Dalk is dit iets in die stad se water, want die nuutste gevegskuns sensasie wat besig is om opgang te maak in die seshoekige gevegshok, is die 22-jarige Willie van Rooyen van Pretoria-Noord.
Van Rooyen, ook bekend as “White Lion”, het in Mei vanjaar Suid-Afrika se grootste gevegskuns liga, die Extreme Fighting Championship (EFC) se vlieggewig Afrika kampioen geword toe hy Kleberson Sousa van Brazilië met ’n tegniese uitklophou tot oorgawe gedwing het.
Hy sal hierdie titel op 7 Augustus in Johannesburg by die EFC-126 toernooi verdedig teen Anatolie “The Samurai” Gafin van Moldawië in Oos-Europa.
Dié voormalige leerling van Hoërskool Pretoria-Noord spog met ’n baie indrukwekkende rekord as Gemengde Gevegskuns atleet.
Van Rooyen was reeds as jong seun baie aktief, waar hy by Laerskool Danie Malan in Pretoria-Noord veral op die krieketveld en atletiekbaan uitgeblink het. Maar reeds as agtjarige seun het die gevegskuns gogga hom gebyt en sy ouers het ingestem dat hy aan skopboks mag deelneem. Dit was nie lank voor hy die trofees en medaljes een na die ander begin versamel het nie.

Foto: Verskaf
In 2014 het hy as 12-jarige sy eerste SA titel in die skopboks kryt gewen en later daardie jaar het hy ook die nasionale span gehaal wat in Italië aan die wêreldkampioenskap deelgeneem het.
Na dié deurbraakjaar is Van Rooyen vir vyf jaar agtereenvolgens jaarliks as nasionale kampioen gekroon. In 2018 wen hy drie goue medaljes by die Turkse Ope kampioenskap en later dieselfde jaar by die wêredkampioenskap wen hy silwer in die “Kick Light” afdeling en brons in die “Ligh Contact” afdeling.
In 2022 besluit Van Rooyen as 20-jarige Sportwetenskap student aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie om ’n nuwe uitdaging aan te durf en hy sluit by die A-Team Stars gimnasium in Gezina in die Moot aan om sy Gemengde Gevegskuns loopbaan te begin onder leiding van Nico Mothata, wat steeds sy afrigter is.
Daardie selfde jaar word hy gekroon as nasionale amateur kampioen en hy verdedig die titel in 2023 suksesvol. Hy reis ook na Serwië in Oos-Europa om aan die wêreldkampioenskap deel te neem, waar hy sesde in die vlieggewig afdeling eindig.
Na 12 oorwinnings in 14 gevegte as amatuer, kry Van Rooyen sy profseeionel lisensie later in 2023 en die Suid-Afrikaanse EFC liga bied hom ’n kontrak vir ses gevegte aan. Hy wen al ses hierdie gevegte op indrukwekkende wyse en verower die EFC titel in Mei teen Sousa by EFC-123.
Wat ookal op 7 Augustus gebeur, Van Rooyen hoop om sy graad volgende jaar te voltooi en dan genoeg borge te werf om vir eers voltyds op sy gevegskuns loopbaan te fokus.
Soos enige goeie Gemengde Gevegskuns atleet droom Van Rooyen natuurlik daarvan om ’n groot deurbraak te maak en ’n kans op in die wêreld se top arena by die Amerikaanse Ultimate Fighting Championship (UFC) te kry. Slegs drie Suid-Afrikaners, Garreth “Soldier Boy” McLellan, Dricus “Stillknocks” du Plessis en Cameron “Most Savage Player” Saaiman, kon dit al regkry om in hierdie elite liga te veg.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
