Zwartkop mors met Marais Viljoen, Centurion en Midstream kwalifiseer vir halfeindrondte in Noordvaal Cup Groep-2
Terwyl Zwartkop nóg ’n teenstander in die Plaat-afdeling van die Noordvaal Cup toernooi afgeransel het, is Eldoraigne eerskomende naweek in ’n oorlewingstryd gewikkel wanner hulle die voorloper in die Bowl-afdeling pak, terwyl Centurion en Midstream albei in die kwarteindrondte van Groep-2 van dié toernooi betrokke sal wees.
Hoërskool Zwartkop se eeste rugbyspan stoom steeds voort en ná ses ligawedstryde in die Noordvaal Cup se Plaat-afdeling is dié merkwaardige span nog onoorwonne.
Zwartkop het Hoërskool Marais Viljoen van Alberton die afgelope naweek ’n behoorlike pakslae gegee toe hulle nege drieë ingeryg het om met 61-7 te wen.
Soos die telling aandui het die Zwarries alle aspekte van die wedstryd oorheers en die besoekers uit die suid-ooste van Johannesburg was net in staat om een drie te druk.
Eerskomende naweek het Zwarkop die geleentheid om hul plek bo-aan die punteleer in die Plaat-afdeling te verseker wanneer hulle op hul tuisveld in Centurion teen HTS Middelburg te staan kom.
Die Zwarries se teenstanders uit Mpumalanga is tans in die tweede plek op die punteleer, drie punte agter hulle. Daarna volg die twee spanne uit Klerksdorp in Noordwes, Hoërskool Wesvalia en Hoërskool Klerksdorp, wat albei 21 ligapunte het en dus sewe punte agter Zwartkop is.
’n Oorwinning oor HTS Middelburg sal dus beteken dat Zwartkop, met een ligabepaling om af te handel, reeds verseker sal wees van die top posisie op die punteleer.
**************************
* Hoërskool Eldoraigne, wat die afgelope naweek ’n loslootjie gehad het, speel intussen eerskomende naweek in ’n weg-wedstryd teen Potchefstroom Gimnasium. Dié wedstryd is van kardinale belang vir die Eldo Drake, wat steeds ’n kans het om vir die halfeindrondte in die Noordvaal Cup toerooi se Bowl-afdeling te kwalifiseer.
Sewe skole het nog almal ’n billike kans om vir die halfeindrondte in dié afdeling te kwalifiseer.
Potch Gimmies is tans bo-aan die punteleer in die Bowl-afdeling, terwyl daar slegs tien punte verskil is tussen hulle en Eldoraigne (sewende). Nie een van die vyf ander spanne tussen dié twee is dus meer as vyf ligapunte voor die Eldo Drake nie. Hierdie situasie beteken dus dat dié punteleer in die volgende twee weke dramaties kan verander en dat slegs Potch Gimmies se plek in die halfeindrondte reeds gewaarborg is.
**************************
* Intussen het die kwalifiserende uitspeelrondtes in die Noordvaal Cup se Groep-2 die afgelope naweek plaasgevind. Twee skole uit Centurion was by hierdie uitspeelwedstryd betrokke en albei het as oorwinnaars uit die stryd getree, wat beteken dat hulle eerskomende naweek in die kwarteindrondte in tuiswedstryde betrokke sal wees.
– Hoërskool Centuron het in hul uitspeelwedstryd met Hoërskool Frikkie Meyer van Thabazimbi afgereken. Die eindtelling was 46-26 in Centurion se guns.
Centurion speel eerskomende naweek op hul tuisveld teen nog ’n skool uit die Bloubul-streek, maamlik Hoërskool Wonderboom.
– Midstream College moes effens harder veg om hul uitspeelwedstryd teen Hoërskool Sasolburg met 32-29 te wen. Met hierdie oorwinning het Midstream gekwalifiseer om tuis te speel in die kwarteindstryd.
Hul teenstander is ook ’n skool uit die Bloubul streek naamlik Hoërskool Die Wilgers.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.


















