Hoërskool Pretoria-Noord gerat vir sagtebal seisoen
Hoërskool Pretoria-Noord is bekend as een van die top presteerders op die sagtebalbaan in Pretoria en dié skool se spelers lyk reg om hierdie reputasie vanjaar gestand te doen in die top ligas waarin hulle kompeteer.
Die sagtebal seisoen vir skole het aangebreek en as een van die beste presteerders op hierdie vlak in Gauteng is Hoërskool Pretoria-Noord se spelers en afrigters gereed om vanjaar selfs beter prestasies te behaal as verlede seisoen.
Dít is ’n mondvol, aangesien Pretoria-Noord in 2024 groot sukses op die sagtebalbaan behaal het.
Nadat die skool voor die 2024 seisoen baanbrekerswerk gedoen het met die ingebruikneming van hul nuwe sagtebal sentrum, wat ultra moderne kolfhokke en outomatiese toerusting insluit, het hul spanne se prestasie op die baan die waarde van hierdie belegging onderstreep.

Foto: Koos Venter
Dit was veral Pretoria-Noord se seuns-spanne wat die skool se vaandel gedra het op die sagtebalbaan. Met twee silver medaljes (o.14 en o.19) en twee goue medaljes (o.15 en o.16) by die Gauteng-Noord kampioenskap, asook twee goue medaljes (o.15 en o.19) by die algehele Gauteng kampioenksap, kan min skole noord van die Jukskei-rivier met Pretoria-Noord se seuns op die sagtebalbaan saamgesels.
Die skool se dogters spanne is nie ver agter die seuns nie en hoewel hulle nie verlede jaar enige titels kon inpalm nie, heers daar groot verwagting vir die komende seisoen. Pretoria-Noord se o.14 dogters het wel die uitspeelrondtes in Gauteng-Noord gehaal.
Daar was ook skitterende individuele prestasies onder al die skool se spanne. Daarvan getuig die 35 spelers wat vir provinsiale spanne gekies is, asook agt spelers wat All Star spanne kon haal in 2024. Die kersie op die koek was die vyf spelers van Pretoria-Noord wat die SA o.18 span kon haal.

Foto: Koos Venter
Al hierdie prestasies het natuurlik ook baie te doen met die skool se puik afrigters. Hulle het byna deur die bank almal self op die baan uitgeblink en groot hoogtes bereik op provinsiale en nasionale vlak, terwyl hulle ook as beamptes, administrateurs en afrigters onder die room van die provinsie tel.
Verlede week is die nuwe seisoen op tradisioneel spoggerige wyse by die skool ingelui met ’n amptelike funksie waar daar veral op die juniors (o.14 spanne) en eerstespanne gefokus is. By hierdie funksie is die o.14 spanne op besondere wyse verwelkom deurdat elke speler – seuns en dogters – se uitrusting formeel deur ’n speler van die onderskeie eerstespanne aan hulle oorhandig is.
Daarna het die eerstespan spelers weer op hul beurt hul uitrusting van eregaste ontvang. Vanjaar se eregaste was sagtebal legendes in eie reg, wat albei ook voormalige leeringe aan dié skool was. Hulle is Tilla Nel en Corné de Lange.

Foto: Koos Venter
Nel se sagtebal CV is besonder indrukwekkend. Sy het Gauteng-Noord sedert haar o.13 dae verteenwoordig, meer as ’n dekade vir die provinsie se senior span gespeel en ook tussen 1999 en 2014 jaarliks die nasionale vrouespan gehaal. Sy is ook ’n erelid van Gauteng-Noord Sagtebal.
De Lange het Gauteng-Noord en Suid-Afrika op skole- en senior vlak verteenwoordig, terwyl hy ook vier jaar lank die nasionale senior span se kaptein was.
Nóg ’n sagtebal legende uit Pretoria, Christo Erasmus, was die gasspreker en het die spelers en afrigters op besondere wyse gemotiveer vir die seisoen wat voorlê.

Foto: Koos Venter
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
