Menlopark staan met een voet in die Noordvaal Cup halfeindstryd ná triomf teen Noordheuwel
Met een rondte ligabepalings wat oorbly in die Noordvaal Cup toernooi se Beker-afdeling het Menlopark opgeskuif na die vierde plek op die punteleer en hulle kan eerskomende naweek by Garsfontein aansluit deur hul plek in die halfeindrondte te bespreek met nóg ’n oorwinning, terwyl Waterkloof met een van die voorlopers in die reeks afgereken het om die Parkies se posisie verder te verstewig.
Die kaarte het die afgelope naweek perfek geval vir Hoërskool Menlopark se eerste rugbyspan en hul lot op pad na die halfeindstryd van die Noordvaal Cup se Beker-afdeling is nou weer in hul eie hande.
Al wat die Parkies moet doen om te verseker dat hulle op 23 Augustus in die halfeindstryd sal speel, is om Hoërskool Rustenburg eerskomende naweek te klop én ’n bonuspunt te verdien deur vier drieë te druk.
Dis baie duidelik dat Menlopark se manne baie hard gewerk het tydens die Julie skoolvakansie, want dié span het sedert verlede week van rat verwissel ná vier agtereenvolgende nederlae in die Noordvaal Cup toernooi voor die vakansie-onderbreking.
Nadat hulle Monnas verlede week getroef het, was daar weer hoop dat Menlo tog hul seisoen kan omdraai. Hul moeilikste hekkie sou egter die weg-wedstryd teen Noordheuwel wees. Dié Wesranders het reeds vir die halfeindstryd gekwalifiseer, maar hulle was voor Saterdag se stryd vasbeslote om twee oorwinnings in die pylvak van die toernooi te behaal, wat hul in staat sou stel om tweede op die punteleer te eindig en dus vir ’n tuis halfeindstryd te kwalifiseer.
Menlopark het egter ander planne gehad. Na ’n drie deur heelagter Dylan Stumke binne die eerste vyf minute van die wedstryd, het hulle die druk op die tuisspan gehou en veral met goeie verdediging beïndruk. ’n Strafdoel en ’n puik opportunistiese drie deur skrumskakel, Gustav Scäffner, het die Parkies teen rustyd met 15-3 laat voorloop.
Toe Menlo drie minute na rustyd wéér gaan druk – hierdie keer via ’n dryfbeweging van die voorspelers – was die tuisspan behoorlik onder druk.
Hoewel Noordheuwel hard teruggeveg het en self drie keer die doellyn kon haal in die tweede skof, het Menlopark positief en aanvallend bly speel. Nóg twee drieë het aan die besoekers hul bonuspunt oorwinning van 34-20 verseker.
Nou staan die onvoorspelbare Rustenburg tussen Menlopark en ’n vierde plek op die punteleer, wat hulle vir die halfeindstryd sal laat kwalifiseer.
– Menlo se sprong na die vierde plek op die punteleer is moontlik gemaak toe beide Hoërskool Transvalisa en Hoërskool Dr. EG Jansen die afgelope naweek nederlae gely het.
Hoërskool Nelspruit was vir EG Jansen se teëspoed verantwoordelik, maar die groot gevaar was Transvalia. Menlo skuld hul bure, Hoërskool Waterkloof, dus ’n paar kilogram biltong, nadat die Klofies nie net met 23-12 met die span uit Vanderbijlpark afgereken het nie, maar ook seker gemaak het dat Transvalia geen bonuspunt verdien nie.
Hoewel die Klofies se kans op kwalifisering vir die halfeindrondte onrealisties was voor Saterdag se stryd, was daar egter ander faktore vir hulle op die spel. Die trots van Waterkloof, wat verlede jaar nog in die eindstryd van hierdie toernooi gespeel het, was ook op die spel weens moontlike relegasie uit die liga.
Waterkloof het egter ’n baie goeie dag beleef met oorwinnings vir al hul spanne, wat die relegasie-bedreiging waarskynlik afgeweer het.
– Die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) het die afgelope naweek hul seisoen op hul tuisveld afgesluit deur hul bure aan die ander kant van die treinspoor, Pretoria Boys High School, met 41-12 te klop in Pretoria se oudste en grootste derby.
Dit was die 120ste derby tussen dié twee aartsvyande en Affies se 69ste oorwinning oor Boys High, wat laas in 2019 ’n oorwinning in hierdie tradisieryke derby kon behaal.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.









