Local sportSchool sportSport

Garsfontein en Menlopark ontmoet mekaar in halfeindstryd van Noordvaal Cup se Beker-afdeling

Menlopark se eerste rugbyspan het die afgelope naweek hul goeie vorm van die afgelope drie weke gehandhaaf vir ’n derde agtereenvolgende oorwinning, waarmee hulle gekwalifiseer het om Garsfontein eerskomende naweek in die halfeindstryd van die Noordvaal Cup toernooi se Beker-afdeling te ontmoet.

Pretoria is verseker van ’n kandidaat in die eindstryd van die Noordvaal Cup skolerugby toernooi se Beker-afdeling.

Dít is die goeie nuus. Die minder goeie nuus is dat Pretoria nie weer, soos verlede jaar, twee spanne in die eindstryd kan hê nie. Twee plaaslike spanne het vir die halfeindrondte gekwalifiseer, maar hulle speel eerskomende naweek teen mekaar.

Hoërskool Menlopark se bonuspunt-oorwinning van 30-26 oor Hoërskool Rustenburg in Saterdag se finale ligabepalings het hul vierde posisie op die punteleer bevestig en hul plek in eerskomende naweek se halfeindrondte bespreek.

Intussen het Garsfontein boonop in Boksburg met ’n telling van 31-24 met Hoërskool Dr. EG Jansen afgereken om te verseker dat hulle heel bo aan die Beker-afdeling se punteleer eindig.

Die Garsie Bere sal dus eerskomende naweek op hul tuisveld gasheer speel vir die Parkies in die een halfeindstryd van die toernooi. In die ander halfeindstryd sal Helpmekaar Kollege van Johannesburg teen Hoërskool Noordheuwel van Krugersdorp te staan kom.

– Hoewel Rustenburg se eerstespan nie meer die uitspeelrondte kon haal nie, was daar in die groter prentjie die motivering om punte vir hul skool op die promosie-relegasie punteleer te versamel om te verseker dat hulle volgende jaar deel van hierdie top liga bly.

Hierdie feit was waarneembaar in die Rusties se aanslag. Hulle het beslis nie na Pretoria gereis om aan die Parkies enige gunste te bewys nie en sommer vroeg in die wedstryd was hul aanvallende benadering duidelik.

Die eerste helfte was ’n wipplank stryd, maar ’n drie in die laaste sekondes van dié skof het die tuisspan met 15-12 laat voorloop.

Hoewel Menlo in die tweede helfte nóg drie keer gaan druk het vir ’n totaal van ses drieë, het skewe korrelwerk na die pale hulle byna duur te staan gekom. Die wendrie is agt minute voor die eindfluitjie gedruk, maar weens die feit dat nie een van hul drieë verdoel is nie, moes die Parkies hard werk om ’n laaste aanslag van die besoekers af te weer.

Menlopark sal beslis ook aan hul verdedinging – veral in die middelveld – moet werk as hulle enige kans wil staan om die Garsies uit die eindstryd te hou.

– In Boksburg moes Garsfontein ook baie hard werk om Dr. EG Jansen in ’n opwindende wedstryd te klop, wat hul eerste plek op die punteleer sou verseker.

Die tuisspan se aanslag was intens, aangesien hulle ook ’n kans gestaan het om vir die uitspeelfase te kwalifiseer indien Menlopark sou vasval teen Rustenburg. Die Boksburgers se aanvallende benadering was dus ’n baie goeie toets vir die Garsies se verdeding.

Nadat die Garsie Bere eerste punte aangeteken het, het die Jansies teruggebons met twee drieë om teen rustyd met 12-5 voor te loop.

Toe EG Jansen se flank, Graig Lightfoot, kort na die omdraaislag vir die hele Garsfontein span oor ’n afstand van meer as 40 meter hakskene wys om oor te duik, was die druk op die besoekers.

Tien minute later het die druk selfs groter geword met die tuisspan se vierde drie en die Garsie Bere het met ’n agterstand van 19 punte voor een van hul grootste karaktertoetse van die seisoen te staan gekom.

Soos dit ’n verdedigende kampioen betaam het Garsfontein kalm gebly en in die laaste 20 minute kon hulle daarin slaag om vier keer te druk vir 26 onbeantwoorde punte om die oorwinning te beklink.

– Hoërskool Waterkloof het Saterdag ook hul wisselvallige seisoen met ’n oorwinning afgesluit.

Dit was egter geen maklike taak vir die Klofies om Hoërskool Monument uiteindelik met 29-28 te klop nie. Dié twee spanne was van die afskop af in ’n klipharde tweestryd gewikkel.

Teen rustyd was die besoekers uit die Wesrand met 7-13 voor, maar sommer vroeg in die tweede skof het die wedstryd lewe begin kry en beide kante het ’n meer opwindende benadering begin volg.

Drie drieë aan albei kante in dié helfte het die wedstryd op ’n spannende einde laat afstuur. ’n Strafdoel in die laaste sekondes van die kragmeting deur die Klofies se kaptein, Ronan Bastiaanse, het die knoop vir die Blou Tornado deurgehaak.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button