Local sportSchool sportSport

Garsies kwalifiseer vir Noordvaal Cup eindstryd en kan geskiedenis maak teen Helpies

Garsfontein het Menlopark die afgelope naweek in die halfeindstryd van die Noordvaal Cup se Beker-afdeling geklop en dié span staan eerskomende naweek op hul tuisveld ’n kans om hul skool se naam op besondere wyse in die geskiedenisboeke van skolerugby te verewig.

Die Hoërskool Garsfontein se eerste rugbyspan kan eerskomende naweek geskiedenis maak deur slegs die vyfde skool in die 105-jarige geskiedenis van die prestigeryke Noordvaal Cup toernooi te word om drie jaar agtereenvolgens as kampioen gekroon te word.

Dít volg nadat die Garsie Bere die afgelope naweek met hul buurskool, Hoërskool Menlopark, in die halfeindstryd van die Beker-afdeling van hierdie eeu-oue skolereeks afgereken het. Garsies het met 45-29 gewen.

Hierdie oorwinning beteken dat Johan du Plessis se span die kans staan om hul naam in die toernooi se geskiedenisboeke aan te teken en aan te sluit by Pretoria Boys High (1922-1924), Hoërsool Zeerust (1933-1935) en Potchefstroom Volkskool (1949- 1951) om die trofee drie jaar agtereenvolgens te lig. ’n Oorwinning sal hulle ook in staat stel om te begin droom oor die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) se ongeëwenaarde rekord van vyf agtereenvolgende titels (1995-1999).

Met ’n oorwinning eerskomende Saterdag teen Helpmekaar Kollege sal die Garsie Bere boonop vir nóg ’n aantekening in die geskiedenisboeke kwalifiseer. Hulle sal dan die eerste skool in die nuwe millenium wees om die driekuns te behaal.

Saterdag se kragmeting met Helpmekaar sal boonop Garsfontein se vierde agtereenvolgende eindstryd wees, nadat hulle in 2019 ook deurgedring het, maar teen Hoërskool Monument oor die laaste hekkie gestruikel het. Die kompetisie is in 2020 en 2021 weens Covid-19 gekanselleer.

– Hoewel die telling aandui dat Garsfontein se oorwinning van Saterdag maklik was, is dit beslis nie die geval nie. Trouens, die verdedigende kampioen moes in die tweede helfte diep delf om hul bure uiteindelik te oorrompel, nadat die Parkies teen rustyd nog met 24-29 voorgeloop het.

Ongelukkig het een van Menlo se kwale van die afgelope paar weke – hul gebrekkige doelskopwerk – ook sake vir die Garsies vergemaklik. Die Bere het ses drieë gedruk teen Menlo se vyf, maar terwyl Joshua Gouws 13 punte met die skopskoen aangeteken het, kon die Parkies se skoppers slegs twee drieë verdoel.

– Menlopark het ’n troosprys ontvang toe hul o.16 span na die eindstyrd deurgedring het deur Hoërskool Waterkloof in hul spannende en opwindende halfeindstryd met 25-20 te klop.

Hierdie prestasie van Menlo se o.16’s het ook finaal verseker dat dié skool die relegasie-spook ontwyk en hulle sal volgende jaar weer in die Beker-afdeling kompeteer.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button