Local sportSchool sportSport

Midstream wéér Noordvaal kampioen, Zwarries val vas in halfeindstryd

Terwyl Midstream College die afgelope naweek die titel as kampioen in Afdeling-2 van die Noordvaal Cup toernooi verower het, is Hoërskool Zwartkop se onoorwonne rekord én hul harte gebreek toe hulle teen Hoërskool Middelburg in die halfeindstryd van die Plaat-afdeling verloor het.

Hoewel Midstream College se eerste rugbyspan ’n maand gelede ná drie jaar as Stadsbeker kampioen deur Hoërskool Centurion onttroon is, het hulle teruggebons in Afdeling-2 van die Noordvaal Cup skolerugby toernooi om die afgelope Saterdag dié titel in te palm.

Met hierdie sege het Midstream die titel herower wat hulle ook in 2022 en 2023 gewen het.

Midstream het Hoërskool Wonderboom – wat Centurion twee weke gelede uitgeskakel het – in die eindstryd van hierdie toernooi met 34-12 verslaan om vir die derde jaar agtereenvolgens as kampioen gekroon te word.

Terwyl Gauteng se bekende Augustus-wind sterk op Midstream se tuisveld gewaai en ’n groot invloed op die wedstryd gehad het, het die verdedigende kampioen dié aspek beter tot hul voordeel gebruik om ’n hardnekkige aanslag van die Wonnies af te weer.

Dit was ’n stryd tussen twee baie goed afgerigte spanne en Wonderboom was honger vir silwerware, nadat hulle hul beste seisoen in baie jare beleef het.

Midstream moes aanvanklik kophou, nadat Wonderboom in die eerste kwartier van die wedstryd verwoed aangeval het. Die sterk wind het die Wonnies egter verhoed om vroeg voor te loop, nadat hulle twee strafdoele verbrou het.

Toe linkervleuel, Estiaan Scheepers, Midstream se rekening open met ’n puik drie, het die weerstand stadig maar seker begin verkrummel.

Teen rustyd was die tuisspan met 21-5 voor ná nog twee drieë. Hoewel Wonderboom enduit geveg het, was dit egter Midstream wat minder foute gemaak het en hul kanse beter benut het. Nóg ’n drie en twee puik strafdoele in die moeilike omstandighede deur heelagter Ryan Strauss het die oorwinning vir Midstream verseël.

– In die eindstryd vir o.16 spanne is Hoërskool Centurion as Noordvaal Afdeling-2 kampioen gekroon toe hulle die Leeuwenhof Akademie van Bedfordview met 25-7 geklop het.

– ’n Paar kilometer noord van Midstream is Hoërskool Zwartkop se ongekende onoorwonne rekord van die afgelope seisoen reeds Vrydagaand op wrede wyse beëindig toe Hoërskool Middelburg hulle teen alle verwagting in die halfeindstryd van die Noordvaal Cup toernooi se Plaat-afdeling geklop het.

Middelburg se oorwinning van 22-19 in dié spannende stryd beteken nie net dat die Zwarries se onoorwonne rekord daarmee heen is nie, maar ook dat hulle seisoen kortgeknip is.

Wat hierdie nederlaag self meer bitter sal maak vir die Zwarries en hul ondersteuners, is dat hulle in Vrydag se halfeindstyd drie drieë teen Middies se enkele drie kon druk. Ongelukkig het Matthew Abby, Middelburg se blonde losskakel-generaal, die laaste sê gehad en vyf strafdoele deur die pale gejaag, wat die verskil gemaak het.

Daar was darem ’n troosprys vir Zwartkop, aangesien hul o.15 span in nog ’n spannende halfeindstryd met Hoërskool Wesvalia van Klerksdorp afgereken het (11-10) om vir eerskomende naweek se eindstryd te kwalifiseer.

– Hoewel Hoërskool Eldoraigne se eerstespan uiteindelik vanjaar sesde op die finale punteleer in die Bowl-afdeling van die Noorvaal Cup toernooi geëindig het, lyk die toekoms rooskleurig vir dié skool se rugbyprogram.

Eldoraigne het steeds twee kanse om vanjaar silwerware te wen, aangesien beide hul o.15 en o.16 spanne deurgedring het na eerskomende naweek se eindstryde in dié afdeling.

Eldoraigne se o.15 span pak Hoërskool Ermelo eerskomende naweek in die eindstryd, nadat hulle die Bergsig Akademie van Rustenburg met 31-15 in hul halfeindstryd geklop het, terwyl die o.16 span met Hoërskool Dinamika van Alberton afgereken het (31-16) om die Merensky Landbouskool van Tzaneen in die eindstryd te ontmoet.

Op hierdie stadium het Eldorainge, wat ná die afgelope naweek se halfeindstryde steeds bo-aan die algehele promosie/relegasie punteleer in die Plaat-afdeling lê, ook ’n uitstekende kans om volgende jaar na die toernooi se Skild-afdeling gepromoiveer te word.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button