Local sportSchool sportSport

Montana is een oorwinning weg van Noordvaal Cup glorie in Skild-afdeling

Hoërskool Montana se eerste rugbyspan kry eerskomende naweek die geleentheid om ’n puik seisoen op ’n hoogtepunt af te sluit wanneer hulle in die eindstryd van die Noordvaal Cup skolerugby toernooi se Skild-afdeling teen Hoërskool Pietersburg te staan sal kom.

Hoërskool Montana speel eerskomende Saterdag op hul tuisveld in die eindstryd van die Noordvaal Cup se Skild-afdeling teen Hoërskool Pietersburg.

Die Monties het die afgelope naweek in die halfeindstryd in ’n spannende kragmeting (19-18) met Hoërskool Secunda afgereken, terwyl Pietersburg in die ander halfeindstryd vir Hoërskool Lichtenburg met 36-28 geklop het.

Montana was vir die grootste deel van Saterdag se halfeindstryd in beheer en het met rustyd reeds 12-6 voorgeloop. Secunda het hulle egter teen die einde byna laat skrik met ’n terugvegpoging en die wedstryd het spannend geëindig ná die besoekers se tweede drie laat in die tweede helfte.

Uiteindelik het Montana verdien om te wen, nadat hulle vir die grootste deel van die stryd in beheer was. Hulle het ook drie keer gaan druk teenoor Secunda se twee besoeke agter die doellyn.

Met Saterdag se oorwinning in die halfeindstryd het die Monties boonop hul enigste nederlaag tydens die ligabepaling gewreek, nadat Secunda hulle op 26 Julie met 34-19 geklop het.

– Die twee finaliste vir Saterdag se eindstryd het deur die seisoen die liga oorheers. Terwyl Pietersburg twee ligabepalings verloor het, het die Monties slegs een nederlaag gely. Na afloop van die ligafase het Montana die punteleer oorheers en agt punte voor hul naaste teenstander uit die verre noorde geëindig.

Aksie uit Saterdag se halfeindstryd in die Noordvaal Cup se Skild-afdeling tussen Montana en Secunda.
Foto: Verskaf

Montana het die kragmeting tussen dié twee finaliste op 10 Mei vanjaar tydens die normale ligabepalings met 36-25 gewen, maar daar het natuurlik baie water in die see geloop sedert daardie dag. Pietersburg was intussen onoorwonne sedert hul laaste nederlaag teen Hoërskool Ben Vorster op 7 Junie. Onder die ses agtereenvolgende oorwinnings wat hulle behaal het, tel ’n paar indrukwekkende vertonings.

– Montana het vanjaar ’n skitterende seisoen beleef. Drie van hul spanne het die halfeindrondtes gehaal met die o.14’s wat – soos die eerstespan – eerste op die punteleer geëindig het. Beide dié spanne het deurgedring na die onderskeie eindstryde wat eerskomende Saterdag op hul tuisveld gespeel sal word.

Die Monties se o.16 span, wat vierde op die punteleer geëindig het, het ongelukkig Saterdag naelskraaps (20-23) in die halfeindstryd teen Hoërskool Piet Retief verloor.

Daar is eerskomende Saterdag in die eindstryde boonop meer op die spel vir Montana. Hulle is ná die afgelope naweek se halfeindstryde ook heel bo aan die promosie/relegaise punteleer van die Skild-afdeling. Dié punteleer word beïnvloed deur die prestasie van al die spanne, vanaf o.14-B tot by die eerstespan.

Met hul twee vernaamste teenstanders, Pietersburg en Ben Vorster, wat elk net een span het om hulle in die halfeindstryde te verteenwoordig, sal Montana feitlik verseker wees van promosie na die Plaat-afdeling (die tweede hoogste liga in die Noorvaal Cup reeks) as een van hul twee kandidate dit kan regkry om as kampioen gekroon word.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button