Garsfontein herskryf die skolerugby geskiedenisboeke
Hoërskool Garsfontein se rugby-beker loop oor nadat dié skool se eerstespan die afgelope naweek geskiedenis gemaak het, terwyl al die skool se rugbyspanne ook as algehele wenner van die Noordvaal Cup se Beker-afdeling aangewys is
Skuins voor 16:00 Saterdagmiddag kon ondersteuners van die Hoërskool Garsfontein se rugbyspanne die vreugdevure begin aansteek, want nie net is hul eerste rugbyspan vir die derde jaar agtereenvolgens gekroon as die Beker-afdeling kampioen in die gesogte Noordvaal Cup skolerugby toernooi nie maar dié skool is ook as algehele wenner van die reeks aangewys.
Dit beteken dat al die Garsies se spanne saam só presteer het dat hulle amptelik die beste rugbyskool in die Beker-afdeling is.
Met hierdie oorwinning het Garsfontein nie net hul vyfde titel sedert 2015 in dié prestigeryke toernooi gewen nie, maar ook slegs die vyfde skool in 105 jaar geword – die eerste in die nuwe millenium – om dit drie jaar in ’n ry te kon doen.
Berepark op Garsfontein se skoolterrein was teen 14:00 Saterdag ’n getuienis van die gewildheid van skolerugby toe ondersteuners van die Garsie Bere en Helpmekaar Kollege van Johannesburg dit volgepak het om die hoogtepunt van die Noordvaal Cup seisoen te kom gadeslaan.
Die Garsies het eerste bloed geruik in Saterdag se eindstryd toe die flank en kaptein, JP Pieterse, oor die doellyn is nadat sy spanmaats die bal deur ’n paar fases hanteer het vanaf ’n lynstaan.
Hierna was die Bere in beheer van sake vir die beste deel van 20 minute, maar ten spyte van die feit dat hulle verskeie besoeke aan die rooi gebied gebring het, kon hulle nie weer die verdediging van die Johannesburgers klop nie.
Toe Helpmekaar twee keer in die laaste paar minute van die eerste helfte gaan druk om met 12-5 voor te loop, was daar ’n ongemaklikheid onder die Garsies se ondersteuners. Die besoekers is immers ’n span wat in die laaste deel van die seisoen baie goed op dreef was en in die opbou tot die kragmeting het hulle geen geheim daarvan gemaak dat hulle Pretoria toe reis met die doel om die trofee te kom haal nie.
Die tuisspan het egter in die tweede skof gewys dat hulle nie verniet op die meeste skolerugby ranglyste onder die land se top spanne tel nie.
Soos dit ’n kampioenspan betaam het hulle nooit paniekbevange geraak nie. Dit was ook nie die eerste keer vanjaar dat dié span teen rustyd agter was op die telbord nie. Die Garsie Bere het byna dadelik na die afskop vir die tweede helfte die stang vasgebyt en met hul terugvegpoging begin.
Dit was ook drie van die veelbesproke gevaarmanne in Garsies se agterlyn, Junade Pasensie, Yuvrah George en Junaide Stuart wat saamgespan het om die besoekers eenvoudig met vaart en goedberekende aangeewerk te klop vir Stuart se eerste drie wat die gety gedraai het in die guns van die verdedigende kampioen.
Helpmekaar het wel kanse gehad om terug te kom in die wedstryd, maar die verskil in daardie tweede skof was juis dat hulle dit slegs een keer na behore kon doen, terwyl die Garsie Bere byna elke geleentheid wat hulle gekry het in punte kon omskep.
Vier drieë vir die kampioen teen die besoekers se enkele drie in die tweede helfte het uiteindelik die finale uitslag bepaal. Die Garsie Bere wen met 30-19, herskryf die geskiedenisboeke en wen hul vyfde Noordvaal titel sedert daardie eerste een toe latere provinsiale sterre soos Embrose Papier, Jaco Bezuidenhout, Abner van Reenen en PJ Toerien deel van die wenspan was.
– Garsfontein se o.15 span het vroeër Saterdagoggend die voorbeeld vir hul eerstespan gestel toe hulle ook as kampioen gekroon is deur Hoërskool Noordheuwel met 29-23 in die eindstryd te klop.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
























