Local sportSchool sportSport

Montana dra die kroon in Noordvaal Cup se Skild-afdeling

Hoërskool Montana se eerste rugbyspan het Saterdag geskiedenis gemaak deur vir die eerste keer in dié skool se 44-jarige bestaan ’n titel in die Noordvaal Cup skolerugby toernooi te wen, om ’n puik seisoen vir al hul spanne af te sluit en seker te maak dat hulle volgende jaar in die Plaat-afdeling van die reeks sal meeding.

Die vreugdevure het teen Saterdagaand hoog gebrand vir Hoërskool Montana se rugby-ondersteuners ná die driedubbele triomf wat die skool op die rugbyveld behaal het.

Nie net is Montana se eerste rugbyspan as nuwe kampioen van die Noordvaal Cup toernooi se Skild-afdeling gekroon nie, maar hul o.14-A span het vroeër die dag dieselfde reggekry. Daarby het die Monties se spanne – vanaf o.14-B span tot by die eerstes – só goed presteer in hierdie liga, dat hulle ook gekwalifiseer het om gepromoveer te word na die Plaat-afdeling in 2026. Dít beteken dat hulle volgende jaar in die tweede hoogste liga van die Noordvaal Cup toernooi sal speel.

– Die Monties se eerstespan het in hul eindstryd teen Hoërskool Pietersburg sommer vroeg die druk op die besoekers toegepas en ná 12 minute se spel het die woelige flank,  Ashton Vorster, onder die pale oorgeduik, nadat sy mede voorspelers die bal deur verskeie fases gedra het.

Kort daarna het heelagter Marq de Villiers sy eerste drie gaan druk, maar Pietersburg het teruggeslaan met ’n drie vanaf ’n lynstaan-dryfbeweging.

De Villiers het wéér sy spoed en vaardighede gewys vir sy tweede drie ná positiewe aanvallende spel deur die tuisspan.

Dieselfde aanvallende spel het gesorg dat senter Luan Barnard kort voor rustyd die manne van Limpopo se lyn kon breek vir sy drie, wat die telling op 26-7 te staan gebring het.

Pietersburg het hul karakter gewys en ook die boodskap duidelik oorgedra dat hulle nie al die pad Pretoria toe gereis het om sommer teen rustyd al te gaan lê nie. Na die omdraaislag het hulle met ’n terugvegpoging begin.

Met goeie interaksie tussen hul voor- en agterspelers, asook kragrugby deur hul voorspelers, het die Pietersburgers binne die eerste kwartier in die tweede skof drie keer die doellyn gehaal en die tuisskare se vingernaels het daaronder begin ly toe hulle die punteverskil tot slegs een punt laat krimp het.

Die laaste 20 minute was dus ’n titaniese en spannende stryd, soos dit ’n eindstryd betaam.

Jandré Stoltz se tweede strafdoel het aan die Monties ’n asemskep geleentheid gegee en verseker dat die besoekers ten minste ’n drie moes druk in daardie laaste spannende vyf minute as hulle die trofee wou lig.

Montana het egter self karakter gewys deur ’n reuse aanslag van die Pieties af te weer om vir die eerste keer in die skool se geskiedenis as kampioen in die Noordvaal toernooi gekroon te word.

– Montana het onder hul nuwe rugby-bestuur ’n puik seisoen beleef. Van die 17 wedstryde wat hul eerstespan vanjaar gespeel het, het hulle 13 gewen, terwyl hule slegs vier keer aan die verloorkant was. Drie van hierdie nederlae was vroeg in die seisoen – twee keer in vriendskaplike wedstryde en dan die naelskraapse nederlaag (19-20) teen Potchefstroom Volkskool in die kwarteindrondte van die NWU Prestige reeks.

In die Noordvaal Cup se Skild-afdeling kon slegs Hoërskool Secunda daarin slaag om die Monties te klop, maar die uiteindelike kampioen het dié nederlaag in die halfeindstryd gewreek om sodoene deur te dring na Saterdag se eindstryd.

– Van Montana se vier top spanne was dit slegs die o.15-A span wat nie vir die halfeindstryd kon kwalifiseer nie. Dié span net net-net vyfde in hul liga geëindig. Ongelukkig het die Monties se o.16-A span in die halfeindstryd naelskraaps (20-23) teen Hoërskool Piet Retief verloor.

Die skool se o.14-A span het egter gewys dat die toekoms rooskleurig lyk toe hulle vroeg Saterdag oggend in hul eindstryd hul teenstanders van Hoërskool Secunda met 21-12 geklop het om ook as Skild-kampioen gekroon te word.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button