Villieria Rolbalklub se ‘Pretty Women’ toernooi kombineer rolbal-aksie en pret vir goeie saak
Die Villieria Rolbalklub se klubhuis én bane is verlede week opgekikker deur opgeruimde vroue rolbalspelers wat vanoor die hele Pretoria opgeruk het om in kleurvolle uitrustings deel te neem aan die eerste “Pretty Women” rolbaltoernooi.
Die Villieria Rolbalklub het verlede week Vrouemaand op historiese wyse afgesluit met die aanbieding van hul heel eerste ‘Pretty-Women’ rolbaltoernooi vir vroue.
“Die toernooi is doelbewus in Vrouemaand aangebied, nie net om vrouewees te vier nie, maar ook om met hierdie baie unieke sportbyeenkoms iets aan die gemeenskap terug te gee,” het die klub na afloop van die aksie verklaar.
Deur die suksesvolle aanbieding van hierdie toernooi is die klub in staat gestel om die organisasie ‘Look Good, Feel Good’ ondersteun. Hierdie organisasie lewer ’n baie prominente bydrae om kankerpasiënte by te staan en te bemoedig. Kankerpasiënte word byvoorbeeld met grimering gehelp en daar word pruike voorsien aan diegene wat hul hare weens behandeling verloor.
Na aanleiding van die sukses van die toernooi beoog Villieria Rolbalklub om dit ’n jaarlikse instelling te maak en daar sal elke jaar ’n organisasie geïdentifiseer word wat baat sal vind by die opbrengs wat ingesamel word.
Vroue rolbalspanne van klubs regoor Pretoria het vir die toernooi ingeskryf om aan die “viere”-formaat van die kompetisie deel te neem.
Om sake verder op te kikker moes elke span ’n unieke naam uitdink waaronder hulle kon deelneem, terwyl hulle aangemoedig is om weg te breek van die tradisionele rolbal uitrustings en eerder kleurvol aan te trek. Hierdie reëling het aan die toernooi ’n vrolike karakter verleen.
Pryse was op die spel vir aspekte soos die bes geklede span, die span met die mees oorspronklike naam en die span met die beste gees, terwyl daar ook ’n ‘Pretty Women’ prys aan een deelemer toegeken is.
Daar is ook nie net rolbal gespeel nie. Tussendeur die aksie is daar ook gekuier, terwyl sprekers opgetree het om die dames te inspireer. Die bekende kunstenaar, Helena van der Nest, se praatjie getiteld “Lewenslank met kleur” was een van die gewildste aanbiedings.
Wat die spel op die baan betref het sake meer ernstig verloop met vyf rondtes rolbal wat oor die drie dae van die toernooi afgehandel is. Baie aanloklike pryse was op die spel en die dames het mekaar behoorlik opgekeil op die baan.
Alle deelnemers was dit eens dat die toernooi ’n briljante idee is en dat die konsep beslis jaarliks groot belangsteliing sal uitlok.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.














