Toeskouers kry eersteklas aksie, opwinding en emosie by ‘Fighter vs Soldier’ bokstoernooi
’n Volgepakte Dorsland Restaurant & Teater in Zandtfontein was die afgelope Saterdag weer ’n sprekende getuienis dat amateur boks besig is om nuwe momentum te bou in Suid-Afrika en dat die publiek gereed is om dié sport met oorgawe te ondersteun.
Boksliefhebbers in Pretoria is die afgelope naweek weer bederf met amateur boks-aksie wat vergelyk kan word met die beste wat op enige ander plek in Suid-Afrika beskikbaar is.
Die aksie het plaasgevind by RJ79 Events se Box&Dine toernooi, wat in samewerking met die Tuine Tiere boksklub by die Dorsland Restaurant & Teater in Zandtfontein onder die slagspreuk ‘Fighter vs Soldier’ aangebied is.
Daar was 14 gevegte en 40 rondtes van opwinding. Al die gevegte is oor drie rondtes elk beslis en slegs een daarvan het nie die volle drie rondtes geduur nie. Dit beteken dus sowat twee ure se aksie in die kryt, wat aan elke boksliefhebber se voorkeur voldoen het.
Behalwe vir die deelnemers uit verskillende klubs in Pretoria, het boksers uit drie ander provinsies na die weste van Pretoria gereis om deel van die aksie te wees. Daar was boksers uit klubs so ver as Bethlehem en Welkom in die Vrystaat, Pietersburg (Polokwane) en Tzaneen in Limpopo en Middelburg in Mpumalanga, asook deelnemers van verskillende klubs in Gauteng.
Die kwaliteit van die aksie is onderstreep deur die feit dat verskeie nasionale- en provinsiale kampioene in aksie was.
Boksers in die eerste vier gevegte het gewissel tussen die oudersdoms-kategorieë van 13 en 16 jaar, terwyl een Junior kategorie geveg en nege gevegte in die Elite kategorie deel was van die program.
Die 28 boksers wat in die kryt geklim het, het almal onder die rooi- of silwer gradering gekwalifiseer, terwyl die laaste deel van die program gewemel het van provinsiale- en nasionale amateur kampioene wat mekaar die stryd aangesê het.
Gerhard van Niekerk (70kg) van die Tuine Tiere klub was die enigste bokser op die toernooi wat nie van die beoordelaars se beslissing afhanklik was om die oorwinning te behaal nie. Hy het sy teenstander, Charl Truter van Muscle Co in Bethlehem, in die eerste rondte gestuit, toe die skeidsregter die geveg moes stop, nadat die Vrystater op jellie-bene staande probeer bly het.
Een van die emosionele oomblike by die toernooi was toe Christo Lewis (80kg) van die Transnet Boksakademie ná sy oorwinning oor die hoog-aangeskrewe Jannik Wessels van die Middelburg Boksakademie sy getuienis met die toeskouers kon deel. Lewis het vertel hoe boks hom gered het van ’n lewe van dwelms en verkeerde keuses, nadat hy die pad as jong seun byster geraak het toe sy pa vermoor is. Hy is deesdae, soos sy teenstander, ’n kampioen bokser.
Die aksiebelaaide geveg tussen die Zimbabwiese kampioen in die 76-kg afdeling, Chris Ndlovhu, en die Suid-Afrikaanse kampioen, Lara Netshidamboni, is as die beste geveg van die toernooi aangewys. Dié twee manne het mekaar behoorlik opgekeil.
Een van Pretoria se mees belowende jong amateur boksers, Jonathan Swart, het die ervare Ivano “Guru” Kabane in die hoofgeveg (78kg) van die toernooi gepak. Hoewel Kabane aanvanklik in die eerste rondte gevaarlik gelyk het, het Swart stelselmatig die oorhand gekry en uiteindelik oortuigend met punte gewen. Dié geveg was kort op die hakke van die Ndlovhu vs Netshidamboni geveg toe daar oor die beste tweestryd van die toernooi besluit moes word.
– Die goeie nuus vir liefhebbers van amateurboks is dat nóg aksie eerskomende naweek in Pretoria te sien sal wees. Terwyl die Tuine Tiere die afgelope Saterdag se toernooi in samewerking met RJ79 Events aangebied het, skuif die aandag eerskomende naweek na die Adelaars Sportklub Meyerstraat, Rietfontein (ingang in 16de laan).
Tuine Tiere bied op Saterdag 20 September nóg ’n Box&Dine toernooi aan by die Adelaars Restaurant op die terrein van dié bekende klub in die Moot. Behalwe vir heerlike kos in die vorm van ’n driegang maaltyd, sal daar ook nege aksiebelaade boksgevegte wees om te geniet. Die aksie sal om 16:30 begin.
Vir meer besonderhede en besprekings, kontak Chantal by 083-384-2805.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.













