Local sportSport

Naka Bulle herskryf die geskiedenisboeke met derde agtereenvolgende Gold Cup titel

Naka Bulle van die Moot in Pretoria het hulself die afgelope naweek gevestig as ongetwyfeld Suid-Afrika se beste “oop” rugbyklub nadat hulle ’n besondere driekuns in die nasionale Gold Cup toernooi behaal het.

Ruan (Bielie) Grundelingh en sy makkers het Saterdag in Kaapstad alle twyfel uit die weg geruim oor hul status in die moderne era van klubrugby, toe hulle hul teenstanders van die Villager klub met 40-25 geklop het om vir die derde jaar agtereenvolgens as die Gold Cup kampioen gekroon te word.

Die manne van die Moot se kritici het in die verlede gemor dat hulle bevoordeel word en net op hul tuisveld bekers kan wen. Vanjaar moes hulle egter hul Gold Cup veldtog met beide die halfeindstryd (teen die Northam Rhinos in Setaria) en in die eindstryd teen Villagers in Kaapstad, in weg-wedstryde afsluit.

Naka Bulle se punteverskil op die Gold Cup punteleer was minder as 10 punte swakker as dié van Villager, maar dit was deurslaggewend en daarom moes die manne van die Moot Kaapstad toe reis om teen die Villager klub in die eindstryd te speel.

Hoewel dit uiteraard verkieslik is om tuis te speel, was daar besis ook ’n geskiedkundige hoek aan Naka Bulle se glorie, aangesien hulle hierdie derde agtereenvolgende oorwinning in die skadu van Tafelberg en ’n klipgooi van die ou Nuweland stadion op een van die oudste klubvelde in die land kon behaal.

Naka Bulle se kaptein, Ruan (Bielie) Grundelingh het homself Saterdag in Kaapstad gevestig as een van die suksesvolste kapteins in die geskiedenis van klubrugby in Pretoria. Onder sy leiding het dié klub die afgelope drie seisoene klubrugby in Pretoria én Suid-Afrka oorheers.
Foto: BBRU

Hul oortuigende oorwinning in die eindstryd in Kaapstad besvestig dus dat Marinus van der Watt se manne tans as tradisionele “oopklub” – Gemeenskapsklub, in ander woorde – nie hul gelyke het in Suid-Afrikaanse klubrugby nie.

–  Dit lyk ook of Naka Bulle in wedstryde weg van die huis daarin slaag om vinniger uit die blokke te kom as wat die geval is wanneer hulle tuis “op die klippe” (soos hul tuisveld jare al bekendstaan) speel. Terwyl dié span in die meeste wedstryde vanjaar eers in die tweede helfte werklik vlam gevat het, was die Gold Cup uitspeelfase anders. Net soos in die halfeindstryd teen die Northam Rhinos het die Carltonbeker kampioen Saterdag in Kaapstad weer ’n skitterende eesrste helfte beleef. Teen rustyd was hulle reeds 26-8 voor, wat beteken het dat Villager enorme druk op hulle gehad het om in die laaste skof te probeer terugveg.

Die Pretorianers se voorspelers het egter oudergewoonte hul stadige gif laat werk, terwyl hul skakelpaar van Jack Hart en Hansie Graaff – waarskynlik die beste in Suid-Afrikaanse klubrugby – sake agter dié oorheersende agttal beheer het.

Die twee manne aan die stuur van sake by Naka Bulle swel van trots met die Gold Cu in Kaapstad. Links is Thinus Joubert (president) en regs is Ian Herbst (voorsitter)
Foto: BBRU

Hart en Graaff het elk ‘n drie gedruk en Graaff het vier van sy span se ses drieë verdoel. Die ander driedrukkers was JJ Motlhodi, Christo Bezuidenhout en Eckard Boshoff, terwyl ’n strafdrie ook aan  Naka Bulle toegeken is.

Hoewel die Kapenaars hard geveg het tot die bitter einde, was Naka Bulle egter deurentyd in beheer en kon uiteindelik die oorwinning beklink. Villager het vier keer die dollyn oorgesteek. Drie van hul drieë is tydens hul desperate terugvegpoging in die tweede helfte gedruk.

– Hierdie jaar se Gold Cup toernooi het besonder baie vir klubrugby in Suid-Afrika beteken. Die toernooi se nuwe borg, Pick n Pay, het baie moeite gedoen met hul bewusmakingsveldtog om die spel op klubvlak by die publiek gewilder te maak. Daarby het die toernooi se TV-blootstelling ook gehelp om die aandag te vestig op klubrugby, terwyl klubs se borge goeie blootstelling gekry het. Dié feit kan groot voordeel vir klubs in die toekoms inhou.

Naka Bulle se bestuur en afrigters met die Gold Cup in Kaapstad.
Foto: BBRU

Beide Naka Bulle en hul Kaapse teenstanders het boonop sosiale media goed aangewend om by te dra tot die bewusmaking van die geleentheid. Selfs die voormalige Springbok kaptein, Morné du Plessis, wat op sy dag vir Villager uitgedraf het, het deelgeneem aan die sosiale media veldtog.

– So, waarheen nou vir Naka Bulle? Wel hulle uitdaging word net groter, want volgende seisoen wag daar weer drie groot toernooie – die Superliga, die Carltonbeker toernooi en die Gold Cup toernooi. ’n Platinumbeker toernooi, wat saam met die Carltonbeker gespeel sal word en waarin die top klubs van Northam – die Rhinos en die Wolwe – ook sal deelneem, sal verder sorg dat klubrugby in die noorde sterk bly.

Van der Watt en sy span se uitdaging sal wees om volgende jaar al hierdie toernooie te wen, nadat hulle vanjaar in die eindstryd van die interprovinsiale Castle Superliga deur die Northam Rhinos geklop is.

Daarenteen sal die manne van die Moot nou ’n teiken op die rug dra en elke teenstander sal ekstra motivering hê om dié veelvuldige kampioene te klop.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button