Hoërskool Eldoraigne open verbeterde gimnasium en kondisioneringsentrum
Hoërskool Eldoraigne het verlede week hul nuwe, verbeterde, gimnasium en kondisioneringsentrum amptelik geopen en daar word geglo dat die skool se sportsterre hierdeur in staat gestel sal word om voor te berei om teen die beste teenstand in alle sportsoorte te kan kompeteer.
Die kondisonering van deelnemers aan verskeie sportsoorte het in moderne tye ’n al hoe belangriker prioriteit geword ter ondersteuning van beter prestasie en die vermoë om op die hoogste vlak te kan kompeteer.
Ook op skolevlak het dit belangrik geword dat spesialis voorbereiding moontlik moet wees vir alle sportsoorte waaraan leerlinge deelneem.
Met die opgradering van hul gimnasium en kondisioneringsentrum word Hoërskool Eldoraigne se sportsterre nou in staat gestel om deeglik voor te berei om op gelyke voet met enige teenstander te kan kompeteer.
Die skool se opgegradeerde kondisioneringsentrum is verlede week amptelik geopen. Hierdie sentrum bied nie net ’n fasiliteit met moderne toerusting en ’n vars voorkoms nie, maar daarmee saam ook ’n nuwe era van professionele kondisionering en prestasie-ontwikkeling vir die skool se sportlui.

Foto: Koos Venter
Twee kenners op die gebied van fiksheid en kondisionering, Jean Pretorius en Monique Coetzee van Hustle Fit, sal die sentrum voortaan bestuur en leerlinge bystaan met gestruktureerde, professionele programme.
Albei hierdie kenners beskik oor professionele kwalifikasies en jare se ervaring om doelgerigte programme vir elke behoefte aan te bied.
Pretorius en Coetzee is nie net opgelei om die skool se sportsterre by te staan met kondisionering en fiksheid nie, maar aspekte soos sportmassering en voeding is ook deel van hul spesialiteitsgebiede.
Die skool se sportsterre sal blootgestel word aan nuwe standdaarde om prestasie te verbeter met die hulp van ’n omvattende jaarprogram wat voorseisoen, in-seisoen en oorgangsperiodes sal dek.
Leerlinge sal deurlopend geëvalueer word aan die hand van toetse ten opsigte van spoed, krag, mobiliteit en uithouvermoë.

Foto: Koos Venter
Volgens Pretorius en Coetzee is die doel van hierdie inisiatief om ’n prestasiegedrewe kultuur by Hoërskool Eldoraigne te vestig, ongeag die vlak waarop die leerling aan sy sportsoort deelneem.
Hul doelwit is om leerlinge toe te rus om dissipline, werksetiek en respek vir hul liggame te ontwikkel en om daardie beginsels oor te dra na hul sport, akademie en alledaagse lewe.
Die program bevorder ook samewerking tussen afrigters, biokinetici, fisioterapeute en voedingskundiges, met die uiteindelike visie om Hoërskool Eldoraigne te posisioneer as een van Suid-Afrika se voorste prestasieskole.
Volgens die skoolhoof, Retief Smith, bevestig Hoërskool Eldoraigne met die opening van die nuwe gimnasium en die aanstelling van professionele kondisioneringsafrigters sy verbintenis tot uitnemendheid – nie net op die sportveld nie, maar in die ontwikkeling van elke leerder se volle potensiaal.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
