Stellalanders hou groot rugby-reünie en stel waardevolle boek bekend in Pretoria
Rugby nostalgie sal aan die orde van die dag wees wanneer spelers en administrateurs van die gewese Stellaland rugby-unie eersdaags ’n groot reünie in Pretoria gaan hou, waartydens ’n baie waardevolle boek oor dié unie se geskiedenis ook bekendgestel sal word.
’n Baie besonderse rugby reünie vind op 21 November by die Harlequins rugbyklub in Groenkloof, Pretoria, plaas wanneer rugbyspelers en administrateurs uit ’n byna vergete era van Suid-Afrikaanse rugby weer ou bande wat via dié spel gesmee is, gaan vesterk.
Die voormalige Stelleland Rugby-unie het tussen 1975 en 1995 in nasionale ligas soos die destydse Sport Pienaar Beker, die Santambank Trofee (A & B afdelings) en teen die einde ook die Bankfin Skild of Plattelandse Curriebeker ligas gekompeteer. Dit was egter een van verskeie rugby-unies wat met die totstandkoming van die professionele era opgedoek is en by een van die huidige 14 provinsiale unies ingekorpereer is.
Tog het Stellaland, wat in Lichtenburg gesetel was en ’n baie wye gebied oor die hedendaagse Noordwes provinsie as jurisdiksie-gebied gehad het, in die 20 jaar van sy bestaan ’n trotse geskiedenis opgebou. Via skole- en klubspanne onder die vaandel van dié unie is verskeie rugbysterre opgelewer wat later bekende name in die Suid-Afrikaanse rugby-gemeenskap sou word.
Volgens Johan Korff, laaste president van die Stelleland Rugby-unie, het hul uitreik-aksies getoon dat baie van die oorlewende spelers en administrateurs wat destyds betrokke was, deesdae in die Pretoria omgewing woon òf naby die stad gesetel is en daarom is daar besluit om die reünie hier aan te bied.
“Ons moet onthou dat Stellaland se laaste seisoen in die Curriebeker B-afdeling in 1995 plaasgevind het. Dit is 30 jaar gelede, so die manne wat deel was van daardie era is almal nou al ouer as 50. Die meeste is al in hul sestigs en sommige is al op pad na 70, terwyl die oorlewende spelers en administrateurs uit vroeër jare almal reeds bejaard is. Realisties gesproke beteken dit dat hierdie reünie heel waaarskynlk die laaste kans sal wees om saam te kuier vir almal wat nog met ons is,” het Korff aan Rekord gesê.
Die hoogtepunt van die reünie is die bekendstelling van ’n waardevolle boek waarin die geskiedenis van die Stellanand rugby-unie gedokumenteer sal wees. Dié boek is saamgestel deur twee van die land se mees gerespekterde kenners van sportgeskiedenis en -statistiek, prof. Heinrich Schulze en Eddie Grieb. Hulle is bygestaan deur die oud sportjoernalis, Piet Ebersohn.
Hierdie boek, wat die unie se volledige verhaal sal vertel, is oor verskeie jare nagevors deur die twee skrywers en sal in terme van historiese waarde ’n kleinood op die boekrak van enige versamelaar of oud Stellalander wees.
Volgens Korff is daar nog ’n beperkte hoeveelheid kaartjies vir die reünie beskikbaar en belangstellendes sal gou moet spring om deel van hierdie besondere geleentheid te wees. Voorkeur vir bywoning van die funksie sal gegee word aan oud-Stellalanders en hul hartsmense.
Vir enige navrae oor die reünie of die boek kan Johan Korff, verkieslik via sms of WhatsApp, gekontak word by 083-264-0370.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
