Local sportSport

Transnet Engineering se Box&Dine propvol aksie en opwinding

Die Transnet Engineering Boksgimnasium se Box&Dine toernooi het verlede week amateur boksers vanuit die hele Gauteng gelok en daar was geen gebrek aan aksie in die kryt tydens die 12 gevegte wat plaasgevind het nie.

Toeskouers wat verlede week Transnet Engineering Boksgimnasium se opwindende Box&Dine toernooi bygewoon het, kon beslis nie kla oor ’n gebrek aan aksie nie.

Vir die eerste keer in ’n baie lang tyd was daar ’n amateur bokstoernooi in Pretoria waar meer gevegte voortydig beëindig is as dié wat via die beoordelaars se punte-kaarte beslis is.

Uit die 12 gevegte – almal oor drie rondtes – wat op die Box&Dine toernooi plaasgevind het, is slegs vyf se uitslag met puntebeslissings bepaal. Dan was daar een behoorlike uitklophou, terwyl ses gevegte deur die skeidsregter gestop moes word.

Hierdie opskomming maak dit duidelik dat die toeskouers waarde vir hul geld gekry het en dat die aksie en opwinding regdeur die aand die adrenalien laat pomp het in Transnet Engineering Boksgimnasium se fasiliteit in Koedoespoort.

Boksers van agt verskillende klubs was in aksie. Behalwe vir die tuisklub, Transnet Engineering Boksgimnasium, was daar ook boksers uit vyf ander klubs in Pretoria en omgewing, terwyl boksers van twee klubs uit die Wesrand en een uit die suide van Johannesburg gereis het om deel te neem.

Die 24 boksers is voor die begin van die aksie in die kryt tydens ’n parade aan die toeskouers voorgestel en hierdeur het elke bokser ook die kans gekry om sy teenstander te ontmoet en blad te skud.

Daarna het die aksie in alle erns begin en sommer vanaf geveg twee het die vonke gespat toe Letlhogonolo Morare van die Mabopane Boxing Club sy teenstander, Dawie du Plessis van Transnet Engineering Boksgimnasium, drie keer kort na mekaar platgeslaan het. Dié geveg moes dus vroeg beëindig word.

Die derde en vierde gevegte is albei ook vooraf gestaak, maar in hierdie gevalle was dit eers weens ongesteldheid van ’n bokser (geveg drie) en daarna weens ’n besering aan een van die boksers (geveg vier).

Gevegte vyf tot tien het drie punte-oorwinnings opgelewer, terwyl die ander drie ook voortydig beëindig is nadat die verloorders telkens baie straf verduur het, maar tog staande kon bly.

In die voorlaaste geveg, ’n lig-middelgewig geveg, het die enigste uitklophou van die aand gevolg toe Robert Steyn van Transnet Engineering Boksgimnasium hom in een van Robbie Visagie van die Viking boksklub in Krugersdorp se regter haakhoue vasgeloop het. Dié geveg het vir baie opwinding gesorg en Visagie het in die eerste rondte self op sy sitvlak beland ná ’n reguit linker van Steyn, waarna hy die telling van agt moes oorleef.

Hoewel daar geen uitklophou of vroeë einde aan die laaste geveg van die aand was nie, was dié tweestryd waarskynlik die opwindendste van die toernooi. Conrad Prins van Transnet Engineering Boksgimnasium en Omolemo Morobane van die Mamelodi People’s Boxing Acadamy het mekaar in die middelgewig afdeling aangedurf en albei het vir drie rondtes lank behoorlik ingeklim.  Morobane het net-net met ’n puntebeslissing gewen.

Behalwe vir die puik aksie in die kryt, kon gaste by die toernooi ook smul aan ’n driegang maaltyd wat deel van die Box&Dine konsep is.

 

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button