Boek oor gewese rugby-unie gooi kollig op vergete era van plattelandse klubrugby
Die unieke boek oor die voormalige Stellaland rugby-unie, wat binnekort tydens ’n groot reünie in Pretoria bekendgestel gaan word, sal waardvolle statistiek, geskiedenis en staaltjies oor ’n vergange era van amateur- en klubrugby op die platteland vir die nageslag bewaar.
Groot opgewondenheid heers onder oud Stellalanders en ander liefhebbers van rugby in die amateur-era, oor die waardevolle boek wat binnekort op 21 November tydens ’n groot Stellaland rugby-reünie by die Harlequins klub in Pretoria bekendgestel gaan word.
Buiten die volledige statistiek en spanlyste vir elke eersterange wedstryd wat Stellaland se senior provinsiale span tussen 1973 en 1995 gespeel het, bevat die boek ‘Stellaland Rugby 1973-1995. ’n Helder ster word uitgedoof/Stellaland Rugby 1973-1995. A bright star is extinguished’ ook ’n omvattende hoofstuk wat meer as 100 bladsye beslaan oor klubrugby in die groter Stellalandstreek.

Foto: Verskaf
Hoogtepunte uit die geskiedenis van 58 klubs is nagevors en opgeskryf, insluitende name van spelers, beamptes en ander persone wat belangrike bydraes gemaak het. Die hoofstuk oor klubrugby wemel van spanfoto’s, sommiges meer as 100 jaar oud, foto’s van individuele uitblinkers, staatmakers en presteerders.
’n Afdeling in die boek word afgestaan aan die truie en sakwapens van hierdie klubs, asook spanfoto’s in volkleur. Dit is die mees volledige optekening ooit oor die geskiedenis van Stellaland-rugby en sy klubs.

Foto: Verskaf
Van die oudste rugbyklubs uit die Stellaland streek – almal ouer as 100 jaar – sluit in Mafikeng, Rustenburg Dorp, Vryburg, Delareyville, Schweizer-Reneke, Lichtenburg, Koster, Reivilo, Zeerust, Wolmaransstad en Bloemhof.
Verskeie van hierdie klubs het bekende en later beroemde rugbyspelers opgelewer. Spelers wat as skoolseuns en kort ná skool vir die plaaslike dorpsklub gespeel het, voordat hulle later gaan studeer of in die stad gaan werk het, waar hulle rugbytalente raakgesien is. Baie van hierdie skole- en klubspelers uit Stellaland het later provinsiale rugby vir Curriebekerspanne gespeel, en enkeles het selfs die hoogste sport van die leer bereik en Springbokke geword.

Foto: Verskaf
Ook die minder bekende, kleiner klubs, wat byna reeds in vergetelheid verval het, se geskiedenis en wel en weë, word kortliks beskryf. Wie onthou nog dat daar eens rugbyklubs op plekkies soos Sandford, Piet Plessis, Pomfret, Lykso, Grootpan, Mareetsane, Makwassie en Broedersput was?
Sommige van hierdie “plaasklubs” het volledig bestaan uit boere en hul tuisveld, dikwels kompleet met paviljoen en rugbypale, was op een van die plase in die distrik geleë. Gewoonlik was een van die spelers se vrou die sekretaresse van die klub. In die dae voor selfone en epos was haar belangrikste werk om dié aktiewe boere per landlyn op hoogte te hou oor die detail rondom wedstryde op Saterdae.

Foto: Verskaf
Natuurlik was daar baie staaltjies en karakters wat in hierdie klubs se rugbygeskiedenis uit vergange se dae behoue gebly het en baie hiervan is in die boek opgeteken.
Een speler uit die vroeë 1990s, wat later elders in die land ’n Springbok geword het, vertel byvoorbeeld hoe verbaas hy as speler pas uit die skoolbanke was oor sommige sosiale gebruike by sy klub.

Foto: Verskaf
Die manne sou vroegaand in die winter by die klub se veld opdaag om te oefen, maar dan eers “opwarm” met ’n glasie ‘Old Brown Sherry’. Halfpad deur die oefening sou ’n paar manne dan ’n ruskans neem om ’n sigaret in die kleedkamer te gaan rook.
Vir enige navrae oor die reünie of die boek kan Johan Korff, verkieslik via sms of WhatsApp, gekontak word by 083-264-0370.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
