Local sportSport

Waardevolle rugby-boek onthul Stellaland herkoms van verskeie Springbokke

Heimweë, staaltjies oor ’n vergete era van plattelandse rugby en die bekendstelling van waardevolle rugby-geskiedenis in boekvorm sal alles deel wees van die lankverwagte rugby-reünie van oud Stellalanders, wat eerskomende Vrydag by die Harlequins rugbyklub in Pretoria sal plaasvind.

Ondersteuners van Noord-Transvaal en Bloubul rugby onthou Springbok sterre soos Fonnie du Toit, Ferdie Bergh, Ronnie Potgieter, Gys Pitzer, Jannie Claassens en Richard Bands as helde wat in die ligblou trui van Noord-Transvaal en later die Blou Bulle uitgedraf het en ook almal Springbokke geword het.

Dis egter minder bekend dat al hierdie rugbysterre ’n verbintenis het met die gewese Stellaland Rugby-unie of klubs wat onder dié unie se jurisdiksie aktief was.

Hoewel Stellaland in 1996 opgedoek is en by die nuwe, professionele Luiperds Rugby-unie (voorheen Wes-Transvaal) ingelyf is, het dié unie ’n ryk geskiedenis ten opsigte van groot name wat hul merk in die bekende rooi en wit Stellaland trui op senior provinsiale òf Cravenweek vlak gemaak het.

Presidente van die Stellaland Rugby-unie sedert die amptelike stigting. Van links is Wouter de Vos (1973 – 1989), Arrie Oberholzer (1990-1991) en Johan Korff (1992 – 1995). De Vos en Oberholzer is albei reeds oorlede, maar Korff woon deesdae in Centurion en sal die groot reünie op 21 November bywoon.
Foto’s: Verskaf

Hierdie inligting en baie meer is alles opgeteken in die waardevolle boek oor die geskiedenis van die Stellaland Rugby-unie, wat eerskomende Vrydag (21 November) tydens ’n groot reünie by die Harlequins klub in Pretoria bekendgestel gaan word.

Daar is natuurlik ook ander groot rugbysterre en Springbokke van die verlede wat met die voormalige Stellaland Rugby-unie verbind kan word.

Onder die Springbokke wat almal op Vryburg op skool was tel name soos Fonnie du Toit (Noord-Transvaal), Adriaan van der Hoff (Transvaal), Basie van Wijk (Transvaal), Fred Smollan (Transvaal) en Albert van den Berg (Griekwas, later Haaie). Sommige van hierdie manne het aanvanklik vir Vryburg rugbyklub gespeel voor hulle later elders provinsiale rugby gespeel het en hul Springbokkleure verdien het.

Nog twee Springbokke, Manie Geere (Transvaal) en Ferdie Bergh (SWD, Griekwas, Transvaal en Noord- Transvaal) het vir Vryburg rugbyklub gespeel, nadat hulle reeds elders Springbokkleure verwerf het.

Basie Vivier het in 1956 die Springbok kaptein uit Wes-Transvaal geword, nog voor die bestaan van Stellaland. Volgens Della Retief, ’n geskiedskrywer in Lichtenburg, het Vivier ook vir Vryburg gespeel. Interessant is dat Vivier nooit vir Wes-Transvaal gespeel het nie, omdat hy saam met die Bokke oorsee was en later na Johanneburg verhuis het, waar hy vir Transvaal gespeel het en as Springbok van hierdie unie gereken word.

Die Springbokke Ronnie Potgieter en Gys Pitzer het ook voor hulle Springbokke geword het vir Thabazimbi-rugbyklub uitgedraf, wat later onder die jurisdiksie van Stellaland geresorteer het.

Twee Springbokke, Johan de Bruyn (Vrystaat) en Richard Bands (Blou Bulle) het vir Stellaland se senior provinsiale span uitgedraf, maar nie een van hulle het uit dié provinsie hul Springbok kleure verwerf nie.

Donnovan Twiname (links, hier saam met Naas Botha en Uli Schmidt na ’n wedstryd in 1986), het tussen 1984 en 1987 in 15 wedstyrde vir Noord-Transvaal uitgedraf. Hy was een van die ongelukkige manne wat in die era voor professionele rugby op die bank gesit het vir die Springbokke (twee toetse in 1986 teen die Nieu-Seeland Kavaliers), maar nooit speelkans gekry het nie en dus nooit sy Springbok kleure ontvang het nie. Twiname het sy eerste senior provinsiale rugby vir Stellaland gespeel en later, nadat hy Pretoria verlaat het, weer tot in 1995 in die rooi en wit trui van Stellaland uitgedraf het.
Foto: Noord-Transvaal 50

Drie van die ongelukkige manne wat in die amateur dae op die bank gesit het vir die Springbokke, maar nooit speelkans gekry het en dus nie hul kleure kon verwerf nie, het ook vroeër vir Stellaland uitgedraf. Hulle is Liaan Kirkham (Transvaal, Springbok reserwe in 1984), Donnovan Twiname (Noord-Transvaal, Springbok reserwe in 1986) en Andrew Paterson (WP, Springbok reserwe in 1989).

Springbokke Jannes Labuschagne (Transvaal) en Jannie Claassens (Noord-Transvaal) het vir Stellaland in die Cravenweek gespeel. Labuschagne (Hoërskool Schweizer-Reneke) was in vyf Cravenweke (twee laer- en drie hoërskole) in aksie en Claassens (Hoërskool Zeerust) in een hoërskole Cravenweek.

Hierdie interessante feite is maar ’n klein deeltjie van die waardevolle boek wat Vrydag bekendgestel gaan word en wat baie meer inligting en statistiek oor die Stellaland Rugby-unie sal bevat.

Vir enige navrae oor die reünie of die boek kan Johan Korff, verkieslik via sms of WhatsApp, gekontak word by 083-264-0370.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button