Local sportSport

Noord-Gauteng Stoei vereer sterre na groot sukses in 2025

Die Noord-Gauteng Stoeivereniging het die afgelope naweek nog ’n jaar van groei en sukses afgesluit met hul jaarlikse meriete funksie, waar hul top stoeiers vir uitstaande prestasies in 2025 vereer is.

Hoe weet ’n mens dat die Noord-Gauteng Stoeivereniging die grootste en beste van sy soort in Suid-Afrika is?

Wel as drie Afrika kampioene, 97 Suid-Afrikaanse kampioene en verskeie stoeiers van die grootste en mees aktiewe meesters-afdeling in die land tydens jou vereniging se jaarlikse meriete-toekenningsgeleentheid vereer word, is dit sekerlik ’n goeie aanduiding.

Die syfers is seker ook ’n aanduiding, want die groei in die geledere van die Noord-Gauteng Stoeivereniging beteken dat dié uitstaande organisasie hier teen die einde van 2025 kan spog met 19 geaffilieerde klubs, wat ’n totaal van 1023 stoeiers akkomodeer.

Andy Patrick, president van Noord-Gauteng Stoei, het in sy openingsrede sommige van die vereniging se groei-vooruitsigte vir volgende jaar uitgelig. Daar is byvoorbeeld ver gevorder met die vestiging van ’n skole-liga, wat wonderlike nuus vir die sport in Pretoria is.

Dan is daar ook aangekondig dat die vereniging se Johnny Reitz Big-5 Ope toernooi, waarskynlik die grootste van sy soort in die land, volgende jaar behoorlik sal deurbreek as internasionale stoeifees. Nadat die toernooi vanjaar voorafgegaan is deur ’n internasionale oefenkamp, waar top afrigters uit Suid-Afrika, Amerika, Namibië en Ecuador betrokke was om die stoeiers onder hande te neem, is daar ook reeds bevestiging ontvang dat meer stoeispanne van oorsee in 2026 deel van die toernooi sal wees. Dit sal beteken dat die toernooi se status en logistiek te groot sal wees om in een dag af te handel en die Johnny Reitz Big-5 Ope sal dus volgende jaar oor twee dae aangebied word.

Altesaam 349 stoeiers het vanjaar provinsiale kleure (verskillende kategorië) van Noord-Gauteng Stoei verwerf.

Terwyl Noord-Gauteng Stoei vanjaar weer die Noordvaal toernooi oorheers het en met tien uit die 17 ‘Champion of Champions’ titels weggestap het, het die vereniging weer die trofee as nasionale kampioen ingepalm.

Stoeiers van die vereniging het ook as deel van die nasionale span aan die Afrika kampioenskap deelgeneem en Juan Groenewald het ’n goue medalje in die vrystyl afdeling gewen. Michael Oosthuizen is as o.15 Afrika kampioen gekroon, terwyl Chloë Brewis die o.20 Afrika vrouekampioen is strandstoei is.

Noord-Gauteng Stoei is sedert 1994 reeds die nasionale pasaangeërs in die meesters kategorie en behalwe dat die vereniging se stoeiers steeds op die internasionale verhoog presteer, het dié afdeling ook ’n omwenteling in die algehele groei van die vereniging gebring, aangesien die meesters se terugkeer na die sport ’n rimpel effek gehad het wat stoei weer onder jonger deelnemers laat groei het.

Een van die manne wat ’n groot rol gespeel het om meesters-stoei 31 jaar gelede weer in alle erns te laat groei is Francois (Pine) Pienaar. Hy is vanjaar met ’n spesiale toekenning deur die vereniging vereer vir sy jare se toewyding aan die sport.

Nog ’n hoogtepunt was die aankondiging van ’n skenking van R100 000 wat aan die Zenzele Hebron stoeiklub van Mabopane gemaak is, nadat daar tydens die Bennie Labuschagne Uitdaagtoernooi in samewerking met die Vikings Stoeiklub van Centurion geld ingesamel is vir hierdie doel. Dié klub het nie ’n binnenshuise fasiliteit nie en die skenking sal tot verwesenliking van dié droom bydra.

Nadat die stoeiers wat vanjaar vir Noord-Gateng kleure gekwalifiseer het, se toekennings gemaak is, het die klub- en individuele toekennings gevolg.

Daar het oudergewoonte ’n groot stryd geheers onder die klubs, met veral Pretoria-Oos, Menlopark, die Vikings en Tuks wat mekaar goed opgekeil het. Dit was egter uiteindelik Tuks wat met die twee belangrikse klub-trofees weggestap het. Hulle is beide as Klub van die Jaar, asook die klub met Beste Voorkoms en Spangees aangewys.

Die individuele toekennings is gemaak in tien verskillende ouderdoms kategorieë, beide in die Vrystyl en Grieks-Romeinse afdelings. Die sterk kompetisie in die dogters- en vroue afdeling het ook gedien as bewys hoe vinnig die sport onder die skoner geslag geroei.

Lenerd van Schalkwyk van die Menlopark Stoeiklub is aangewys as die vereniging se algeheel beste Vrystyl stoeier, terwyl Simon Maligana van Zenzele Hebron Stoeiklub die trofee as algeheel beste stoeier in die Grieks-Romeinse styl ontvang het.

Tanique Jansen van Rensburg van die Tuks Stoeiklub is aangewys as Noord-Gauteng Stoei se algeheel beste vroue-stoeier.

Verskeie amptenare en beamptes is ook vereer, terwyl die vereniging se Sportmanskap wisseltrofee aan Charl Korb van die Jacques Rossouw Stoeiklub in Doornpoort toegeken is.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button